|
God se seën kos sowat R7 500. Betaal dié geld,
en God se seën sal binne ure – in die vorm van
groot rykdom en persoonlike skuld wat afgeskryf
sal word – op jou neerdaal.
Dit is wat die pastoor vir die kerkgangers gesê
het. Hulle het gehoor gegee, en in hul hordes na
vore gestorm om hul offerandes te bring.
Julie 2008. Die Coca-Cola Dome in Randburg is
met sowat 18 000 mense gepak wat opsoek is na
geestelike voeding – hulle is opgewonde, want
dit is nou ook nie aldag dat hulle die
geleentheid kry om die groot Amerikaanse
evangelis en geloofsgeneser, pastoor Benny Hinn,
in lewende lywe te sien nie. Hulle het gekom om
na sy boodskap van heling en genesing te luister,
en om wonderwerke te sien gebeur.
Maar die internasionale Benny Hinn-Ministries is
ook bekend vir sy sogenaamde "prosperity
teachings", waar mense van reg oor die wêreld
aangemoedig word om reuse bedrae aan die
organisasie te skenk in ruil vir God se seën.
En Randburg, Suid-Afrika, was ook geen
uitsondering nie.
Gedurende die bediening-byeenkoms in die
Coca-Cola Dome het een van Hinn se mede-pastore
op die verhoog, Todd Koontz, oor finansiële
laste gepreek.
Sy tema was die een van "goeie saad": om 'n
goeie oes te hê, moet jy eers prakties saai, het
hy gesê.
Toe belowe hy dat dié byeenkoms binne ure
miljoenêrs deur God se seën sal oplewer, en dat
ander se finansiële laste en persoonlike skuld
binne 'n dag deur Goddelike wonderwerke opgelos
sal word. Maar om hiérvoor in aanmerking te kom,
moes die gehoor onmiddellik 'n offergawe van $1
000 (sowat R7 500) aan die bediening maak. Die
gehoor het vorentoe gestorm – want Koontz het
hulle gewaarsku dat die uitstorting van dié seën
net twee minute lank sou duur.
Langs die verhoog het personeel van die Benny
Hinn-Ministries gereed gesit met onder andere
kredietkaartmasjiene om die geld in ontvangs te
neem.
Volgens 'n pastoor van Roodepoort wat ook die
saamtrek bygewoon het, het ten minste 1 000
mense in toue gestaan om hul offergawes te bring
en sodoende is miljoene rande vir die Benny Hinn-Ministries
ingesamel.
Hiérna is nog 'n algemene kollekte-insameling
ook gedoen.
Maar past. Tommie Ferreira van Roodepoort, wat
ook as vrywilliger in die koor tydens die
saamtrek gesing het, voel ongemaklik hieroor. Hy
het na die tyd gesê dat hy nie die
Hinn-bediening wil beswadder of benadeel nie,
maar dat hy 'n probleem daarmee het as predikers
ongegronde bewerings maak net om mense se geld
in die hande te kry.
Vroeër vanjaar, tydens 'n Goeie Vrydag-saamtrek
in Londen, het die Benny Hinn-Ministries ook die
gehoor versoek vir 'n $1 000 offergawe per
persoon. In Februarie het hulle tydens 'n
byeenkoms in Australië, wat deur sowat 50 000
mense bygewoon is, ongeveer R5.8 miljoen
ingesamel.
Die Amerikaanse-regering het teen die einde van
verlede jaar 'n intensiewe ondersoek na die
finansiële bedrywighede van ses van Amerika se
grootste evangeliste begin – en Hinn was een van
hulle. Die finansiële komitee van die senaat het
onder andere briewe aan dié ses gestuur waarin
hulle gevra het vir meer inligting oor hul
inkomste en geldsake. Dié ondersoek het gevolg
nadat die Amerikaanse regering 'n rits klagtes
van die publiek oor moontlike finansiële
wanpraktyke ontvang het.
Hinn beskik ook oor sy eie privaat
straler-vliegtuig wat hy gebruik om by al sy
wêreldwye saamtrekke uit te kom.
Volgens Benny Hinn-Ministries se webwerf, het
dié organisasie in 2006 meer as R350 miljoen se
offergawes ingesamel. Dié geld word weer
aangewend om behoeftiges wêreldwyd te ondersteun.
Hulle het onder andere 'n voedingskema vir
kinders in Durban, en het verlede maand 'n
ondersteuningsveldtog vir Suid-Afrikaanse
vigslyers aangekondig.
Hinn verduidelik dat sy bediening se "prosperity
teaching" eintlik deur baie misverstaan word.
Hy sê dat die beginsel van voorspoed reg deur
die Bybel voorkom.
"Om vir God te gee is só belangrik, dat Hy
belowe het dat dié wat in Sy Woord belê, geseën
en beskerm sal word."
|