|
Die hof was gepak met familielede, die media en
nuuskieriges. In die beskuldigde bank het die
Britse sjef, Anthony Morley (36), kop omlaag
gestaan.
Voordat regter James Stewart sy vonnis in die
hooggeregshof in Leeds, in die noorde van
Brittanje, uitgespreek het, het hy gesê dié
moord is een van die grusaamste wat hy nog ooit
moes aanhoor.
Morley is verlede maand lewenslank tronk toe
gestuur – 'n vonnis waarvan hy ten minste 30
jaar sal moet uitdien. Indien hy gelukkig is,
kan hy dalk vrygelaat word kort voor sy 70ste
verjaarsdag.
Daardie grusame
aand
Anthony Morley is 'n aantreklike man – op
20-jarige ouderdom was hy immers die wenner van
die eerste Mnr. Gay UK-titel in 1993. Ook as
sjef het hy uitgestaan waar hy in 'n restaurant
in Leeds gewerk het. 'n Blink toekoms het gewink
– dit alles sou egter een aand in April 2008 op
dramatiese wyse verander.
Gedurende dié oggend het Morley en sy voormalige
verhoudingsmaat, Damian Oldfield (33) wat as 'n
advertensie-verteenwoordiger vir die gay-tydskrif
Bent gewerk het, 'n hele paar
SMS-boodskappe aan mekaar gestuur.
Oldfield het laat weet dat hy graag weer die
verhouding sal wil hervat – maar dat hulle dinge
eers stadig moet vat.
Vroeg die aand het die twee mans mekaar in die
stad ontmoet en drankies saam geniet – daarna is
hulle na Morley se huis.
Morley, die perfekte gasheer en sjef by
uitnemendheid, het nóg drankies geskink waarna
hy vir hulle aandete voorberei het. Na ete het
Morley die gay-rolprent Brokeback Mountain
in die DVD-speler gedruk.
Later die aand is die twee vriende kamer toe.
Oldfield het weer gesê hulle moet dinge stadig
vat, en dat daar niks dié aand tussen hulle sal
gebeur nie. Min het hy egter geweet hoe verkeerd
hy was . . .
Hulle het vinnig aan die slaap geraak – dit wou
voorkom of daar vir altwee 'n rustige nagrus
voorlê.
Maar dis nie hoe dié aand homself sou afspeel
nie.
Later in die nag het Morley wakker geword: in sy
hand was 'n mes. Soos 'n ervare slagter het hy
met 'n paar vlymskerp bewegings Oldfield se keel
afgesny; daarna het hy sy bors oop gekerf –
Oldfield se dood was vinnig, maar morsig.
Op sy borskas het hy sy bankkaart neergesit . .
.
Versigtig het Morley 'n paar stukke vleis uit
die lyk se bobeen gesny: hy was lus vir 'n
middernag-versnapering.
In die kombuis het hy met die voorbereidings
begin: hy het olyfolie in sy braaipan gegooi en
die vleis met vars kruie bedek. Toe het hy dit
gebraai . . . en begin eet.
Halfpad deur die ete het hy egter opgestaan. Met
net sy bebloede kamerjapon en pantoffels aan het
hy na 'n nabygeleë wegneemrestaurant gestap –
daar het hy aan die geskokte personeel vertel
dat hy so pas iemand doodgemaak het wat hom wou
verkrag.
Die polisie het hom kort daarna by die
restaurant gearresteer.
In die hof
Tydens sy verhoor het Anthony Morley vertel hy
kan glad nie onthou dat hy sy vriend vermoor en
stukke van sy vlees vir 'n ete voorberei het
nie.
Maar wat hy wél kan onthou, sê hy, is dat hy
daardie grusame nag wakker geword het terwyl
Oldfield besig was om 'n seksdaad met hom te
pleeg.
"Ek het geskrik. Ek het 'n terugflits gekry van
hoe 'n ouer man my as jong seun gemolesteer en
verkrag het – dit het my erg getraumatiseer. Ek
was bang ek word weer verkrag."
Maar van die moord kan hy niks onthou nie; ook
nie wat daarna gebeur het nie.
"Ek kon dit miskien gedoen het omdat ek
deurmekaar was en gedink het ek berei 'n stuk
steak voor vir die restaurant waar ek werk," het
hy getuig.
Die jurie was egter nie oortuig nie.
Die uitspraak
Regter James Stewart het tydens sy uitspraak
verlede maand gesê dié moord is een van die
grusaamste wat hy nog ooit moes aanhoor.
"Nie net het jy jou vriend vermoor deur sy keel
af te sny en sy borskas stukkend te steek nie,
maar jy het ook stukke vlees uit sy lyk gesny,
dit gaar gemaak en daarvan geëet."
Stewart het gesê dat hy voor dié hofsaak
kannibalisme geassosieer het "met 'n era van
lank gelede, iets wat in Robinson Crusoe-verhale
voorkom".
Hy het die moord as grusaam, bizar en afgryslik
beskryf.
Morley het met sy kop geboë gestaan.
Sy hande wringend voor hom.
"Moordenaar!" het iemand vanuit die volgepakte
hofsaal geskree.
Die jurie se beslissing was eenparig:
"Lewenslank," het Stewart die vonnis bekragtig.
Hofgangers het spontaan begin handeklap.
Verskeie van die jurielede het die hofsaal in
trane verlaat – die impak van dié grusame aand
het ook sy impak op húlle gehad. |