November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 


   Ete vir een

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Jaco Hough-Coetzee

e-pos die skrywer

 

Hy het nie net sy slagoffer wreed vermoor deur hom met 'n mes te steek en sy keel af te sny nie – hy het ook stukkies vlees uit die lyk gesny, dit smaakvol voorberei en dit toe geëet.


Anthony Morley (links) het Damian Oldfield (regs) grusaam vermoor.

Die hof was gepak met familielede, die media en nuuskieriges. In die beskuldigde bank het die Britse sjef, Anthony Morley (36), kop omlaag gestaan.
Voordat regter James Stewart sy vonnis in die hooggeregshof in Leeds, in die noorde van Brittanje, uitgespreek het, het hy gesê dié moord is een van die grusaamste wat hy nog ooit moes aanhoor.
Morley is verlede maand lewenslank tronk toe gestuur – 'n vonnis waarvan hy ten minste 30 jaar sal moet uitdien. Indien hy gelukkig is, kan hy dalk vrygelaat word kort voor sy 70ste verjaarsdag.

Daardie grusame aand

Anthony Morley is 'n aantreklike man – op 20-jarige ouderdom was hy immers die wenner van die eerste Mnr. Gay UK-titel in 1993. Ook as sjef het hy uitgestaan waar hy in 'n restaurant in Leeds gewerk het. 'n Blink toekoms het gewink – dit alles sou egter een aand in April 2008 op dramatiese wyse verander.
Gedurende dié oggend het Morley en sy voormalige verhoudingsmaat, Damian Oldfield (33) wat as 'n advertensie-verteenwoordiger vir die gay-tydskrif Bent gewerk het, 'n hele paar SMS-boodskappe aan mekaar gestuur.
Oldfield het laat weet dat hy graag weer die verhouding sal wil hervat – maar dat hulle dinge eers stadig moet vat.
Vroeg die aand het die twee mans mekaar in die stad ontmoet en drankies saam geniet – daarna is hulle na Morley se huis.
Morley, die perfekte gasheer en sjef by uitnemendheid, het nóg drankies geskink waarna hy vir hulle aandete voorberei het. Na ete het Morley die gay-rolprent Brokeback Mountain in die DVD-speler gedruk.

Later die aand is die twee vriende kamer toe. Oldfield het weer gesê hulle moet dinge stadig vat, en dat daar niks dié aand tussen hulle sal gebeur nie. Min het hy egter geweet hoe verkeerd hy was . . .
Hulle het vinnig aan die slaap geraak – dit wou voorkom of daar vir altwee 'n rustige nagrus voorlê.
Maar dis nie hoe dié aand homself sou afspeel nie.
Later in die nag het Morley wakker geword: in sy hand was 'n mes. Soos 'n ervare slagter het hy met 'n paar vlymskerp bewegings Oldfield se keel afgesny; daarna het hy sy bors oop gekerf – Oldfield se dood was vinnig, maar morsig.
Op sy borskas het hy sy bankkaart neergesit . . .
Versigtig het Morley 'n paar stukke vleis uit die lyk se bobeen gesny: hy was lus vir 'n middernag-versnapering.
In die kombuis het hy met die voorbereidings begin: hy het olyfolie in sy braaipan gegooi en die vleis met vars kruie bedek. Toe het hy dit gebraai . . . en begin eet.
Halfpad deur die ete het hy egter opgestaan. Met net sy bebloede kamerjapon en pantoffels aan het hy na 'n nabygeleë wegneemrestaurant gestap – daar het hy aan die geskokte personeel vertel dat hy so pas iemand doodgemaak het wat hom wou verkrag.
Die polisie het hom kort daarna by die restaurant gearresteer.

In die hof

Tydens sy verhoor het Anthony Morley vertel hy kan glad nie onthou dat hy sy vriend vermoor en stukke van sy vlees vir 'n ete voorberei het nie.
Maar wat hy wél kan onthou, sê hy, is dat hy daardie grusame nag wakker geword het terwyl Oldfield besig was om 'n seksdaad met hom te pleeg.
"Ek het geskrik. Ek het 'n terugflits gekry van hoe 'n ouer man my as jong seun gemolesteer en verkrag het – dit het my erg getraumatiseer. Ek was bang ek word weer verkrag."
Maar van die moord kan hy niks onthou nie; ook nie wat daarna gebeur het nie.
"Ek kon dit miskien gedoen het omdat ek deurmekaar was en gedink het ek berei 'n stuk steak voor vir die restaurant waar ek werk," het hy getuig.
Die jurie was egter nie oortuig nie.

Die uitspraak

Regter James Stewart het tydens sy uitspraak verlede maand gesê dié moord is een van die grusaamste wat hy nog ooit moes aanhoor.
"Nie net het jy jou vriend vermoor deur sy keel af te sny en sy borskas stukkend te steek nie, maar jy het ook stukke vlees uit sy lyk gesny, dit gaar gemaak en daarvan geëet."
Stewart het gesê dat hy voor dié hofsaak kannibalisme geassosieer het "met 'n era van lank gelede, iets wat in Robinson Crusoe-verhale voorkom".
Hy het die moord as grusaam, bizar en afgryslik beskryf.
Morley het met sy kop geboë gestaan.
Sy hande wringend voor hom.
"Moordenaar!" het iemand vanuit die volgepakte hofsaal geskree.
Die jurie se beslissing was eenparig: "Lewenslank," het Stewart die vonnis bekragtig.
Hofgangers het spontaan begin handeklap. Verskeie van die jurielede het die hofsaal in trane verlaat – die impak van dié grusame aand het ook sy impak op húlle gehad.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember


 

Carol Boyes, Champagne Gifts and MORE!