|
Die een dag 'n sorgelose jong man, die volgende dag 'n pa. Hierdie oorgang is vir die meeste “nuwe pa’s” 'n lewensveranderende oomblik. Die kunstenaars Wouter van de Venter, Ivan Botha en Jak de Priester vier hierdie maand hul eerste Vadersdag – en gesels openlik oor dié nuwe rol wat hulle nou vertolk.
Die musikant en liedjieskrywer, Wouter van de Venter, leer nou eers die pajamadril. Dit op 'n ouderdom wat ander 39-jarige pa’s reeds hul kinders soggens voor die hoërskoolhekke gaan aflaai.
“Dit was 'n verantwoordelikheid wat op my neergesak het,” beskryf hy sy en vroulief Anita se eersteling, Walt, wat verlede jaar gebore is.
Maar ter wille van dié nuwe klein bondeltjie vreugde in die Van de Venter-huishouding het Wouter sy daaglikse roetine met graagte aangepas, want sien, hy is 'n besige kunstenaar. Nie net is hy gereeld in verskeie produksies, soos nou byvoorbeeld in die gewilde Ses Snare, op die verhoog te sien nie, maar tree ook as kitaarspeler en liedjieskrywer vir talle plaaslike kunstenaars op.
Maar hy maak tyd vir pret saam met sy seun: “Ek probeer so veel as moontlik vir Walt te glimlag, dan lag hy terug en daarna skaterlag ons saam,” sê hy. “Ek dink die belangrikste ding is liefde en tyd saam.”
 Wouter van de Venter en klein Walt.
Ivan Botha (23), beter bekend as Wimpie Koekemoer in Bakgat en Pieter in 7de Laan, stem saam. “Ek is baie beskermend en probeer so veel as moontlik aandag en liefde aan my dogter gee as wat ek kan.”
Nadat hy en sy vrou, die aktrise Ciske Kruger (25), verlede September die ouers van Amelie geword het (lees die artikel “My mamma g'n feeks”, in die November-uitgawe van jouwêreld), het Ivan se mening van vaderskap baie verander.
“Dit is vir my 'n voorreg om 'n pa te wees. 'n Mens besef nou eers hoe lief jou ouers jou eintlik het en hoe baie hulle vir jou gedoen het.”
Vir dié akteur wat nou besig is met die flieks Bakgat3 en Superhelde, het die draaiboek van sy rol as pa instinktief gekom. Hy glo nie daar is vooropgestelde reëls wat sal verseker dat jy die perfekte vaderfiguur is nie.
Pa-wees beteken vir die sanger en liedjieskrywer Jak de Priester “om verantwoordelikheid te neem vir die kind wat jy in hierdie wêreld gebring het”.
Hy en sy vrou Michelle se eersteling, Jamie, is vroeg dié jaar gebore.
“Jy moet vir daardie klein dingetjie sorg, liefde gee en hom lei sodat hy 'n goeie mens kan uitdraai,” sê Jak. “Jy moet hulle unconditionally lief hê tot die dag van jou dood.”
Jak het sopas ook geboorte geskenk aan 'n ander “baba”: sy eerste hardebandboek, Brood. Die koffietafelboek bevat al die lirieke van sy vyf albums met stories oor waar, wanneer en hoekom hy elkeen geskryf het. Dan is daar ook persoonlike nota’s, koerantberigte wat liedere geïnspireer het, asook bladmusiek, kortverhale, 40 nuwe gedigte, animasie en fotografie.
Vir Jak, wat op die klein Vrystaatse dorpie Parys grootgeword het, is dit baie belangrik dat 'n pa sy kind sal toelaat om homself te wees. “Terselfdertyd moet hy goeie dissipline kan handhaaf en veilige grense skep waarbinne die kind die lewe kan ontdek,” vertel Jak. “Maar die belangrikste is om daar te wees vir jou kind en tyd saam met hom te spandeer.”
Minder slaap, maar meer geluk
 Jak de Priester en Jamie.
Tyd is iets waarvan besige kunstenaars nie baie het nie.
“My lewe het totaal verander – om 'n kind te hê is 'n 24-hour job,” bieg Jak. “Dit is nou baie moeiliker om vinnig iewers heen te gaan of sosiale geleenthede by te woon. Omdat ek die meeste aande vertonings aanbied, probeer ek veral om op die ander aande soveel as moontlik by die huis te wees.”
Jak sê hy slaap definitief baie minder. Maar sy slapelose nagte is nie net oor 'n huilende baba nie; hy bekommer hom ook baie meer oor die toestand van die wêreld en veral oor die van Suid-Afrika.
“Onthou, ek leef nou nie net meer my eie lewe nie; ek wil ook hê dinge moet goed wees vir my kind en sy toekoms.”
Maar Jamie se geboorte het beslis van hom 'n gelukkiger mens gemaak, sê Jak.
En Wouter die Vader is deesdae net so gelukkig – veral omdat hy en sy vrou hul ouerlike pligte deel. Hy dink “dit moet hel wees om 'n enkel-ouer te wees”.
“Ek en Anita hanteer vir Walt saam. Ek was die bottels en sy gee dit vir hom!” verklap Wouter hul geheim as ouers.
Buiten ma-wees bestuur Anita ook haar eie kunstenaars-agentskap, Blue Division.
“Die slaap is wel minder en 'n mens bekommer jou meer, maar dit is 'n klein opofferinkie in ruil vir die glimlag wat Amelie vir my gee as ek haar vermaak,” som Ivan sy verhouding met sy dogter op.
Van een pa na 'n ander
 Ivan Botha en kleinding, Amelie
Noudat hulle self ervaar wat dit is om 'n pa te wees, kyk hulle met ander oë na hul eie pa’s.
Ivan sê sy pa was nog altyd 'n voorbeeld vir hom, wat altyd daai bietjie ekstra gegee het om vir hom 'n voorsprong in die lewe te kry.
“Hy is altyd vol grappies en het altyd seker gemaak ons het sekuriteit,” vertel Ivan. “Ek het by hom geleer 'n pa moet daardie gerustheid in 'n familie verseker.”
Jak se pa is weer 'n bietjie meer konserwatief as wat hy is.
“Dit het nogal konflik veroorsaak op skool want 'n tiener dink mos glad nie soos sy ouers nie,” spot Jak. “Seker maar omdat ons in verskillende era's leef.”
Hy glo die kuns lê daarin om jou kinders só te hanteer sodat dit vir hulle voel hulle word aanvaar: “Maak nie saak wat of hoe nie,” sê Jak. “Dan sal ons, ten spyte van verskille, hopelik steeds 'n verhouding hê.”
Wouter se lewe draai nou net om vaderskap. “Elke nuwe woordjie en move wat Walt maak is 'n belewenis,” verduidelik hy.
Maanskyn, rose en vuil doeke
Om die belewenis van kind-grootmaak nie te laat inmeng met jou huwelik nie, kan soms moeilik wees, maar Wouter sê die enigste moeilikheid wat hy en Anita het, is wanneer hy nie die bottels was nie.
“Ek probeer maar my bes,” spot hy. “Maar gelukkig maak ons 'n uitstekende span!”
Amelie se geboorte het vir Ivan en Ciske net nader aan mekaar gebring. “Ons deel 'n kind wat uit ons liefde vir mekaar hier is,” sê hy.
Oor die laat aande, gehuil van 'n baba en vuil doeke probeer hulle maar net lag.
Ivan sê die beste raad wat hy vir 'n paartjie met hul eersteling kan gee is: As julle baklei, sê dadelik jammer.
“Ons het besef ons is nou together forever, saam moet ons dinge aanpak, ons is nou 'n family!” sê Jak.
Maar alles is nie altyd maanskyn en rose nie: “Een ding is seker, 'n baba en 'n humidifier in jou kamer is 'n passion killer!”
|