Ekstatiese gevoel ná "dood"

deur die jouwêreld-redaksie



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Michael Jackson se laaste bisarre oomblikke word in skokkende legkaartstukke een na die ander uitgepak.

Hy maak gereed om bed toe te gaan: dit is ná middernag, maar hy weet die slaap sou nie vanself kom nie. Dit is immers al die afgelope twee jaar dat hy 'n sterk narkosemiddel moet gebruik voor hy kan slaap. Dan wissel hy 'n paar woorde met sy persoonlike dokter wat hom na sy kamer volg. Dit is ontsettend warm op die boonste verdieping van die huurhuis in Holmby Hills in Los Angeles: die gasverwarmers is op hul hoogste gestel, want Michael Jackson kry gou koud.
Die slaapkamer is deurmekaar: bondels klere lê orals rond en handgeskrewe notas is teen die muur geplak. Op een van die notas het hy geskryf: "Children are sweet"; op 'n ander "Children are innocent".
Jackson verklee en gaan lê op die bed; langs hom lê 'n kindergrootte-porseleinpop geklee in vroueklere. Hy omhels die pop terwyl dr. Conrad Murray die drup met die sterk narkosemiddel, propofol, noukeurig voorberei. Soos hy soveel keer vantevore al moes doen. Dan hou Michael sy arm uit; Murray soek 'n aar en druk die naald in. Hy verstel aan die toediening en Michael sluit sy oë terwyl die middel sy liggaam binnevloei. Binne minute verval hy in 'n diep koma met die pop styf in sy arms.
In die slaapkamer staan ook drie suurstoftenks gereed, net vir ingeval dinge verkeerd verloop – soos dit immers al in die verlede gebeur het.
Murray gaan sit op 'n stoel want hy weet hy moet die binneaarse-toediener dophou. Maar toe raak hy aan die slaap . . . en die propofol bly drup.
Die volgende dag het nuusdienste die skoknuus wêreldwyd oorgedra: Michael Jackson, die koning van pop, is dood.

Kon dít die skokwekkende omstandighede wees waaronder die ikoon van miljoene popliefhebbers sy laaste asem uitgeblaas het? Soos die ondersoek na Jackson se dood vorder en al hoe meer mense wat naby aan die sanger geleef het van die diepste geheime van die Jackson-huis vertel, begin die bisarre legkaart stukkie vir stukkie in mekaar pas.
Sy dieetkundige, Cherilyn Lee, vertel hy kon nie sonder die narkotiese middel propofol aan die slaap raak nie. "Hy was verslaaf aan die uitwerking van dié medisyne. Vir ten minste twee jaar al."
Die sjef in die Jackson-huis, Kai Chalon Chase, vertel hy het die oggend van 26 Junie geen onraad vermoed "toe mnr. Jackson nie by die ontbyttafel saam met die drie kinders opgedaag het nie. Ek het gedink hy slaap maar net laat."
Na ontbyt het die kinders buite gaan speel, maar kort daarna het 'n histeriese dr. Murray die trappe afgestorm en op Kai geskree om die kinders te roep.
Toe Murray die oggend wakker word, was Michael reeds bewusteloos, vertel hy. Hy het onmiddellik CPR op hom begin toepas nadat hy die nooddienste gebel het. Paramedici was binne 30 minute by die huis. Toe Kai saam met die kinders en ander huispersoneel die kamer binne kom, was almal besig om Michael se hart weer aan die gang te probeer kry.
"Ons het hande gevat en begin bid. Asseblief Here, red meneer Jackson se lewe, het ons gebid," vertel hy. "Dit was 'n histeriese deurmekaarspul in die kamer. Maar na 40 minute het hulle stil geraak, en ons het net geweet dat dit alles verby is."
Die ambulans het buite gewag. Jackson is met 'n draagbaar afgedra en na die UCLA-mediese sentrum gejaag waar hy dood verklaar is.
Die kinders het huilend agter gebly.

Michael Jackson het altyd gedink hy sal veilig wees solank dokters hom net monitor, vertel Lee oor die sanger se verslawing aan propofol.
Maar toe kom nog 'n skokonthulling: Michael het alreeds drie keer by die dood omgedraai, maar elke keer kon sy persoonlike dokters daarin slaag om sy hart weer aan die gang te kry. Die suurstoftenks en ander mediese toerusting wat die polisie in Jackson se slaapkamer aangetref het, is die stille getuienis hiervan.
Jackson was baie ekstaties oor die doodsgevoel en het die afgelope 18 maande "ten minste drie keer gesterf" – maar is elke keer deur sy dokters na die lewe teruggebring, word daar nou vertel. Ook dat hy gek was oor die sensasie wanneer sy hart na 'n stilstand weer aan die gang gekry is. 'n Bron binne die Jackson-huishouding, wat verkies om anoniem te bly, het aan bangshowbiz.com vertel dat sy bewus is van ten minste drie keer dat die sanger se hart gaan staan het. Dokters moes hom dan met CPR weer aan die lewe kry. Michael het blykbaar aan hulle vertel dat hy gesterf en hemel toe was, en dat dit goed gevoel het.
Vir hom was "dit die mees ekstatiese gevoel om te gaan kyk hoe dit aan die ander kant lyk, en dan weer terug aarde toe te kom," sê die bron.

Michael se ma, Katherine Jackson, het die skuld vir haar seun se dood vierkantig op dr. Murray se skouers gepak.
"My mening is dat hy aan die slaap geraak het terwyl die drup in Michael se arm is," het sy gesê.
Volgens bangshowbiz.com word 10 dokters nou ondersoek by hul moontlike betrokkenheid na die popsensasie se dood. Daar word vermoed dat Jackson die middel propofol reeds die afgelope twee jaar gebruik het, en die polisie wil nou vasstel wie die dokters almal was wat dit aan hom verskaf en toegedien het.
Propofol se doel is nie om herhaaldelik te gebruik om mense te laat slaap nie, en is veronderstel om slegs binne 'n mediese omgewing onder toesig van 'n gekwalifiseerde narkotiseur gebruik te word. Dit word binneaars toegedien om pasiënte voor 'n operasie hul bewussyn te laat verloor. Dit verlaag die hartpols, bloeddruk en asemhaling voordat die pasiënt in 'n koma verval. Indien die narkotiseur die situasie nie noukeurig monitor nie, sal die pasiënt ophou asemhaal en sy hart uiteindelik gaan staan.

Dit was hiérdie gevoel waaraan Michael Jackson verslaaf was. Hy het vas geglo hy sal elke keer gered word, en het só sy lewe talle keer op die spel geplaas. Maar die nag van 25 Junie was een keer te veel.

Bronne: Associated Press, showbiz.com, TMZ

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend