WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Dis 'n vreemde wêreld




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend







Brokkies snaakse nuusgebeure vanoor die wêreld heen.

Liz Taylor sien nog vir baie kans
Dit is nie net die spreekwoordelike kat wat nege lewens het nie – nou is daar gissings dat die Hollywood legende Liz Taylor, binnekort vir die negende keer voor die kansel 'n draai gaan maak.
Die Britse koerant Telegraph bespiegel dat Taylor (78) moontlik onlangs stil-stil aan haar vriend van die afgelope drie jaar en wat met 30 jaar haar junior is, Jason Winters (49), verloof geraak het.
Taylor se woordvoerder het die gissings oor die verlowing nie ontken of erken nie, maar net gesê dat dit algemene nuus is dat die twee reeds vir lank 'n paartjie is.
Met Taylor se gesondheid gaan dit deesdae glad nie goed nie en sy sukkel veral met kroniese nekpyn as gevolg van skoliose. Ten spyte daarvan dat sy soms soveel pyn het dat sy skaars haar nek regop kan hou, wil sy nie dokters se voorgestelde operasie ondergaan nie. Taylor, wie nog nooit met blakende gesondheid kon spog nie, het al meer as 100 operasies ondergaan. Sy word deesdae al hoe meer in 'n rolstoel gesien wanneer sy in die openbaar verskyn.

Miley klaar met TV en sing
Die veelbesproke tienerster Miley Cyrus het aangekondig dat sy nie eintlik lus is om weer TV-werk te doen wanneer haar reeks Hannah Montana later die jaar tot 'n einde kom nie. Daar sal ook nie meer musiekalbums van haar uitgereik word nie, het sy op die Amerikaanse kletsprogram The View gesê.
Die 18-jarige aktrise en dogter van die countrysanger Billy Ray, sê sy wil nou net op haar filmloopbaan konsentreer. Haar nuuste film, The Last Song, word later dié jaar in Suid-Afrika verwag.
Miley het groot opskudding veroorsaak toe sy as 15-jarige meisie vir 'n reeks erotiese foto’s vir die glanstydskrif Vanity Fair geposeer het. Sy moes daarna in die openbaar vir haar ondersteuners omverskoning vra.

Weg met skoonma
'n Britse man en sy vrou was baie opgewonde oor 'n daguitstappie wat hulle verlede maand na Frankryk onderneem het – só opgewonde dat die veerboot waarmee hulle gevaar het, amper reeds in Calais vasgemeer het toe hulle ontdek dat hulle die man se skoonma vergeet het. Dit nogal in die motor op die parkeerterrein van die veerboothawe in Dover waar hulle vertrek het.
Hulle het darem die polisie gebel wat die bejaarde vrou uit die motor gaan haal en haar versorg het totdat haar kinders weer terug is. Volgens die polisie was die vrou woedend gewees.

Alles lê in die bikini
Dit is haar eie skuld, het die Indiese owerheid teenoor 'n negejarige Russiese meisie uitgevaar nadat sy vroeër die jaar in Goa, Indië, verkrag is. Want sien, dit is die bikini wat sy gedra het wat die plaaslike Indiese inwoners uitgelok het, verduidelik hulle.
Volgens 'n woordvoerder van Indië se departement van toerisme sal dit beslis “die mans stimuleer as meisies half-kaal op die strande rondloop”. Volgens die woordvoerder kan 'n mens nie die verkragters blameer nie, “want hulle het nog nooit meisies in sulke kleredrag gesien nie”.
Intussen het die Britse poniekoerant, The Sun, 'n Londense klerewinkel aangevat omdat hulle kinderbikini’s waarvan die bostukkies opgestop is, verkoop. Die winkel, Primark, het dit ernstig opgeneem en dadelik hierdie kledingstukkies van hul rakke verwyder.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010