|
Gretha Wiid ís kontroversieel. Min mense staan neutraal oor dié modieuse, blondekopvrou: sy word óf gekruisig óf opgehemel. Van haar uitlatings oor seks, tot haar bepleiting vir die onderdanigheid van die vrou in die huwelik, word uitmekaar geskeur. En vir elke mens wat beweer sy hou haar besig met booshede, is daar iemand wat glo hul huwelik is deur haar direkte voorskrifte gered.
Bemiddelaar van God, gesalfde, doemprofeet, dweper of swendelaar: dít alles is al aan haar toegedig.
Maar ondanks die storm om haar kop, is Gretha tog net 'n mens. Já, sy noem haar man, Francois – tot die ontsteltenis van talle feministe – haar koning. Já, sy het die donkerte van pornografie, ontrouheid en 'n amper-egskeiding beleef.
Maar hulle is deur die genade van God nog bymekaar, verduidelik sy.
Oor die kritiek in die media het sy baie te sê: “Ek besef dat die meeste opinies wat mense oor my huldig, op aannames en wanpersepsies geskoei is. Mense doen eenvoudig net nie die moeite om ordentlik te lees nie.”
Sensasionele beriggewing seëvier, volgens haar, terwyl objektiewe joernalistiek in die stof byt.
“Vandag weet ek, ek kan 'n wêreldoorlog begin deur doodeenvoudig net mense verkeerd en buite konteks aan te haal. En as ek boonop selektief die fokus laat val op enkele aspekte van 'n onderhoud, kan ek 'n hele land met my saamsleur en opsweep.”
Opsweep is die laaste ding wat Gretha wil doen, maar sy het tóg 'n paar dinge om te sê.
“Ek wil graag die dinge op my hart deel, maar nie met halwe antwoorde, wat misverstaan en uitmekaar geskeur kan word nie.”
En nou gee jouwêreld haar die eksklusiewe geleentheid om te reageer op van die kritiek wat oor haar uitgespreek word.
 “Ek stem nie saam met die motiveringspreker Gretha Wiid se Worthy Woman-teorie dat 'n vrou haar man soos 'n koning moet behandel nie. As jy dít doen, plaas jy jouself in 'n minderwaardige posisie. Ek het Mauritius lief as mens, nie as man nie. Ons verhouding is 'n vennootskap, nie 'n diktatorskap nie. Mense moet ophou verplig voel om ouderwetse idees oor man- en vrouwees aan te hang en eerder doen wat vir jóú as individu werk.”
Gretha antwoord: Gits, ek stem ook nie saam met dáárdie Gretha Wiid nie. Diktator se voet! Geen man is my baas of diktator nie. Ook nie my eie man nie. Maar ek glo dat manne soos konings wil voel by hul vroue. En vroue weer soos koninginne by hul mans. En dít, het absoluut niks te doen met slawerny nie. Dis 'n verhouding van wedersydse respek, agting vir mekaar en waar ons mekaar koester en die kroon op mekaar se koppe hou. Ek hang ook nie ouderwetse idees oor man- en vrouwees aan nie. Ek hang God se Woord aan. Nie volgens skrifgeleerdheid nie, maar wel met die leiding en die oortuiging van die Heilige Gees. Mense wat nie die dinge van die Gees verstaan of kies nie, sal hierdie dinge in elk geval nooit verstaan nie. Ek het ook nie 'n Worthy Women-teorie beet nie, maar 'n Woordlering.
“Laat ek dit nou maar erken: ek is nie 'n fên van Gretha Wiid nie. Ek sal nooit een wees nie. Om die waarheid te sê, ek haat haar. Gretha sal die creeps kry as sy ons huishouding in aksie moet sien. Sy sal die creeps kry as sy moet weet my vrou gee nie om as ek soms na die “secretary”-webruimtes gaan loer terwyl sy Desperate Housewives kyk nie. My vrou weet dat ek haar nooit sal verruil vir 'n internet-flerrie nie. Sy weet ek is lief vir haar en dat ek altyd by haar sal bly al dra sy nooit make up nie (en al wag sy baie selde vir my in die motorhuis op die bonnet van die kar met net 'n deurtrekker aan).”
Gretha antwoord: Sal dit gepas wees as ek noem dat ek ook nie noodwendig 'n aanhanger van Koos Kombuis se musiek en artikels is nie? En Koos, haat is 'n sterk woord! Shakespeare het gesê: "The lady doth protest too much, methinks!” Sielkundiges sou dalk kon aanneem dat ek iewers 'n snaar getref het wat verdedig moet word. Koos sal sekerlik verlig wees om te hoor dat my man nie kombuis-sku is nie, en dat hy ook vaardig is in die ‘poef-doek-ruil-afdeling’. Hy ís immers die pa van 4 dogters. Hy is ook mans genoeg om nie bedreig te voel deur stereotipes van die man óf vrou nie. Die groot verskil kom daarby in dat Francois weet dat pornografie net nog 'n vorm van 'n soeke is. Dis nie 'n ontdekking wat hy gemaak het nie – dis 'n openbaring wat hy by God gekry het. Hy’s 'n volbloedman: vaardig in die kombuis én slaapkamer.
As jy God dien met jou hele hart, siel en verstand, beteken dit dat jy 'n lewe wil leef sonder kompromieë. Waar presies pas pornografie daarby in? Nee wat. Dit is oppervlakkige, wêreldse dinge wat 'n geesvervulde kind van God nooit kan regpraat nie. Terwyl Koos sê dat hy tot bekering gekom het, moet hy dalk saans probeer om God te dank vir die internetvroue. Dalk sal hy ook swaar sluk daaraan?
“ Die NG Kerk en Hervormde Kerk het verlede week gesê hulle deel nie Wiid se standpunt dat die vrou in die huwelik ondergeskik is aan die man nie.”
Gretha antwoord: Ek is oor en oor gekruisig in die media en deur verskillende teoloë oor my woordkeuse van hoofdyskap en onderdanigheid. Ongelooflik! Watter woorde presies gebruik hulle dan om Efes. 5 aan te haal? Die verskil is dat ek net aangehaal word waar ek die Bybel se woorde gebruik, maar nooit die geleentheid gegun is om te deel wat daardie woorde vir my beteken nie. ‘Ondergeskik’ is nie 'n woord wat ek gebruik het nie, onderdanig wel. Meeste mense sal uit die aard van die saak dink dat dit een en dieselfde ding is. Maar dit is nie. Die een dui op minderwaardigheid, die ander op dien van die ander. Efes. 5 leer dat ons aan mekaar onderdanig moet wees. Ons moet ons verbondsmaat dus eer, respekteer en bereid wees om hulle te kies bo onsself. Mans moet hul vroue dus ook dien. Dit bly 'n verwarrende ding as jy dit net so lees of aanhaal. Maar, ek het vrede gevind toe ek by God self gaan stilraak het, en Sy hart gehoor het rondom die man en vrou in die huwelik.
Sonder 'n man wat God dien met sy hele lewe, is onderdanigheid net nog 'n woord wat vroue gaan seermaak. Vir my is die verbond tussen man en vrou soos 'n sambreel. Sonder die raamwerk van 'n sambreel, het jy net 'n stuk lap. En so ook het 'n raamwerk alleen geen funksie nie. Saam maak hulle iets wonderliks en funksioneel, en beskerm hulle diegene wat daaronder moet beweeg. As die beskermende lapwerk die sterk raamwerk sou probeer vernietig, of andersom, word die totale funksie van die sambreel vernietig. In 'n huwelik het 'n man en vrou mekaar nodig, maar is hulle tog verskillend in funksie. Nie ongelyk in waarde nie, net verskillend in roeping. In ons huis is ek en Francois absoluut mekaar se gelyke. Ons is 'n span en ons hardloop skouer aan skouer, maar hy staan heel eerste voor God verantwoordelik vir ons as gesin. En dis maklik om my man te eer en te ondersteun. Hy is opreg lief vir die Here, en hy eer en koester my as sy koningin.
“If Gretha Wiid had one wish, it seems, it would be that we return to a time when men were heads of their households and women tittered around worrying about nothing more than their make-up and how sexually attractive they are to their husbands. It is, as we all know by now, a recipe for disaster. But that doesn’t stop Ms Wiid from behaving like a self-proclaimed latter-day prophetess channeling the hungry ghost of some long departed 50s housewife. “
Gretha antwoord: Dit is die grootste klomp nonsens wat ek sekerlik al oor myself gelees het. Wat ek vir vroue sê is dat mans van nature baie visueel ingestel is. Maak jouself dus mooi vir jou man. Uit respek en liefde vir hom én vir jouself. Ek wonder: sou dit dan beter wees as ek vir vroue vertel dat slordigheid, stink asems en lang beenhare aanvaarbaar is, omdat liefde nie gaan oor die uiterlike nie? Huh?
Ek voel sterk daaroor dat vroue nie gebruiksartikels is nie: hul waarde is soveel meer as die verganklike uiterlike. Maar mans moet hulself ook goed versorg en ‘mooi maak’ vir hul vroue. Uit respek en liefde vir haar. Ek praat reguit daaroor met mans by my seminare. Dit is laakbaar om te dink dat mense dit wil laat klink asof ek sê dat vroue net 'n gesig en 'n lyf is; maar net so min is mans slegs 'n beursie en 'n handy-man. Om jouself goed te versorg sê nie iets van slawerny of argaïse 50’s tradisies nie, dit sê iets van jou karakter. En dit sluit mans in. Ek hanteer by my seminare al die verskillende aspekte van die huwelik. Intimiteit, begeerte en die uiterlike is maar 'n klein deeltjie daarvan. As grimering en sensualiteit 'n huwelik kon laat slaag, sou ons seker heelwat minder egskeidings en gebrokenheid in 'n plek soos Hollywood gesien het.
En o ja – ek het myself nog nooit 'n profeet genoem nie. Ek is ook nie 'n evangelis soos wat ek deesdae genoem word in sommige koerante nie. Ek is 'n verhoudingskenner wat lief is vir God se Woord. Ek bedien nie die Woord nie. Ek hanteer alledaagse vraagstukke – en soek die antwoorde daarvoor in God se Woord. Die enigste ghost wat ek graag wil channel (Marianne se woorde), is die van die Heilige Gees.
Seksslawe, 27/07/2009, Cecile ZuBentheim
“So, Gretha Wiid - wat jy ons eintlik wil vertel, is dat jy jou man met seks by jou moet hou! Se gat - wat maak dit van jou? 'n Getroude hoer!”
Gretha antwoord: Ek is op 'n walglike manier uitgebeeld as 'n seksbehepte vrou wat glo dat jy jouself moet gooi en goedkoop maak vir jou man. Dis ver van die waarheid af. Eers hoogheilige slaaf en dan goedkoop vrou op die bonnet? Sjoe!
Seks is 'n baie belangrike deel van die huwelik, maar ongetwyfeld nie die belangrikste nie. Ek weet van baie pare wat as gevolg van onder andere mediese redes of selfs ouderdom, glad nie meer seksueel aktief is nie. En van hulle is dolgelukkig. Ek weet ook van paartjies wat byna chronies seks het, wie se huwelike uitmekaar uit val. Jy het nie seks nodig om intimiteit te kan ervaar nie. En as jy jou man met seks by jou moet hou, sal hy jou kan beheer, afkraak, misbruik en speel soos 'n marionnet. Vroue is vir seker meer werd as dit. Mans ook.
'n Huwelik is meer as net die uiterlike voorkoms, seks, geld, kommunikasie, kwaliteit tyd, respek, kinders en geloof. Dit is die somtotaal van al hierdie dinge – en nog baie meer.
Ter afsluiting – dit is al die swak grappies wat al dekades met ons saamkom wat mense warm onder die kraag laat voel oor my woorde. Ons hoor mos nog altyd van barefoot and pregnant, die ‘ja, baas’-teorie van manne, dat mans lus gebore is en dat alle vroue altyd sukkel met hoofpyn wanneer dit kom by seks. Ons moet dan nou juis deesdae hoor dat mans blykbaar nie van nature monogaam kan of wil bly nie. Dis na my mening infame leuens en walglike tradisionele sieninge van sommiges.
Mense wat die ware Gretha ken en gehoor praat het, sal weet: Ek is beslis nie my man se slaaf nie, ek is nie vulgêr as dit kom by seks nie en ek probeer nie maak of ek enigiemand se profeet is nie – en ook nie of ek die vroulike weergawe van oom Angus is nie.
Ek is sommer net Gretha. Ek en my man het 'n helse pad gestap, maar is deur God se genade anderkant uit sonder die beplande egskeiding. Ek praat gewone Afrikaans – nie hoog of altyd suiwer nie. Ek is nie bang vir kontroversiële onderwerpe nie; ek dink dis hoogtyd dat ons praktiese antwoorde kry by ons eie gemeentes – nie net vir ons verhouding met die Here nie, maar vir elke dag se struggles. En dit sluit in: pornografie, seks, en wat God sê oor die man en die vrou, kinders, geld, konflik – ag, alles van ons alledaagse lewens. Dís my passie, dís my elke dag se werk.
En dít, dames en here, is in die kleine 'n deeltjie van myself: die wáre Gretha Wiid.
jougeskenke
5 Gelukkige lesers kan elk 'n Gretha Wiid-geskenkpak wen. Dit bestaan uit die DVD's Adam se hart en Eva se lyf sowel as 'n dubbel-CD oor emosionele behoeftes in die huwelik.
SMS die woorde JW WIID, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 31 Maart 2010.
|