Dans GiGi, dans
Min Suid-Afrikaners het 'n jaar terug werklik geweet wie GiGi, of te wel Perlé van Schalkwyk, is. Gautengers het haar wel leer ken as die mede-eienaar van die Lollipop Lounge in Randburg en teatergangers onthou haar as die aktrise wat nakend in die Deon Opperman-verhoogstuk Nipple Caps and G Strings verskyn.
Maar skielik, ná 'n maand op 'n verlate eiland naby Mosambiek in die realiteitstelevisiereeks, Survivor South Africa: Santa Carolina, ken álmal in Suid-Afrika dié blondekop-wenner.
2010 is 'n groot jaar vir GiGi: Sy was Survivor-wenner, genomineer vir 'n YOU New Celebrity of the Year-toekennning, sy is besig om saam met Deon aan haar biografie, Nipple Caps and G Strings, te skryf en speel ook in Willie Esterhuizen se laaste fliek in die Stoute boudjies-trilogie, wat in Desember in teaters begin draai. Tans is sy weer in die Engelse weergawe van die verhoogstuk Nipple Caps and G Strings in die Victory-teater in Johannesburg te sien.
Al die jare se dans en sweet het nou uiteindelik vir haar vrugte afgewerp.
“Dit is harde werk,” sê sy. “En ja, ek het my kop al 'n paar keer hárd gestamp!”
GiGi se lewe het haar op lang paaie geneem tot by die sukesvolle sakevrou en glanspersoon wat sy nou is. Sy het gematrikuleer by die Paarl Gimnasium en daarna haar drama-graad op Stellenbosch gekry. Dit is ook hier waar dié dogter van 'n konserwatiewe musiekdosent haarself die eerste keer naak op 'n verhoog bevind het. Dit was in 'n toneel uit die verhoogstuk Equus en boonop die eerste keer dat naaktheid op 'n Stellenboschse-verhoog toegelaat was. Daarna het sy in kabarette begin dans en die oorgang na ontkleedansery was natuurlik. Die transformasie van die plattelandse Perlé, met kinderdrome van veearts word na die eksotiese GiGi, het begin.
“In daardie jare, voor 1994, moes ons volgens wet nog met nipple caps dans,” onthou sy. “Die nipple caps was egter meestal in die kleedkamers gereed gehou vir as die polisie sou opdaag!”
Sy het 15 jaar lank as ontkleedanseres gewerk voor sy 5 jaar gelede die Lollipop Lounge – 'n eksotiese dansklub in Randburg – saam met 'n besigheidsvennoot, Mike Creole, oopgemaak het.
Daar werk tans 60 ontkleedanseresse of, soos GiGi dit beskryf, eksotiese danseresse, vir haar.
“Ek weet nie of die woord eksotiese danseres taalkundig reg is nie, maar dit klink darem baie mooier as 'n paaldanser!” sê GiGi met daardie kenmerkende vonkel in die oog.

Hoe vertel jy jou ouers?
GiGi het in 'n tradisionele huis met onbetwisbare morele standaarde groot geword, maar tog was dit nooit vir haar moeilik om in naaktonele op die verhoog te verskyn nie. Of om as eksotiese danseres haar kliënte om haar pinkie te draai nie.
“Ek was nog altyd baie gemaklik in my liggaam,” vertel die self-erkende showgirl verder.
Wat wel moeilik was, was om destyds haar ouers daarvan te vertel.
Sy het oorspronklik alles in haar vermoë gedoen om dit agter hulle rug te doen: Wanneer sy in teaterrolle in gewaagde tonele moes optree, het sy selfs so ver gegaan as om foto’s van haar ouers aan die voorportaal-assistente te gee, wat hulle dan toegang moes verbied.
Helaas het die bom egter gebars en haar pa, wat nou reeds oorlede is, het 'n skraps geklede foto van haar op die agterblad van die Sondagkoerant Rapport gesien. Hy was glo baie kwaad.
“Hy sou niks van die klub gehou het nie,” erken sy vandag. Haar oë skiet vol trane as sy aan hom terugdink. Dan, blitsig, nes dit 'n goeie aktrise betaam, plak sy 'n brawe glimlag op haar gesig en verander vinnig van onderwerp: “Maar my ma was al by die klub en sy is mal daaroor!”

Seksobjekte of geldwolwe
Die Lollipop Lounge-kliënte is skynbaar ook mal daaroor. GiGi glo hulle kom terug vir haar mooi meisies en ook die lekker kos – jy kan enigiets van Seductive Salads tot Flirty Fish en 'n Wake-up sex-ontbyt bestel.
“Hulle koop in in 'n fantasiewêreld,” vertel Gigi, “maar hulle gaan huis toe na hul vrouens.”
Altyd?
“Ons het streng reëls by die klub, maar ons kan nie beheer wat die meisies na die tyd doen en saam met wie hulle huis toe gaan nie.”
Gigi glo in die kosbaarheid van die huwelik. Sy is immers self getroud – met die motorverslaggewer Egmont Sippel – en praat dus uit ondervinding.
Deesdae besoek heelwat getroude paartjies ook die klub. Soos die man en vrou wat gereeld inloer waarna die vrou dan self ook 'n paar draaie om die paal gaan maak.
“Jy moet sien hoe glinster haar man se oë as hy sien ander mans bewonder haar,” vertel GiGi.
En ja, álles lê in die oë: “Jy moet jouself kan verkoop,” verduidelik GiGi. “Jy moet kontak maak, met jou lyf leer praat en dit boonop geniet ook.”
Die toekoms is rooskleurig
Haar meisies geniet hul werk in die klub, wat sy beskryf as 'n spa vir mans. Sy verkies om met Suid-Afrikaanse meisies te werk. “Nie net vir werkskepping nie, maar ook omdat hulle lekkerder kan gesels en omdat hulle emosioneel sterk is,” vertel sy.
Hulle moet sterk wees, want in 'n eksotiese dansklub kan die gehoor soms wreed wees: “Jy weet, mans wat drink kan varke wees.”
Hulle sal dikwels beledigings rondslinger, maar tyd is geld in 'n stripclub en the show must go on …
“Die meisies kan soms emosioneel raak, maar hulle voel veilig by my, want hulle weet ek ken die bedryf,” sê GiGi, wat op 42 self nie meer dans nie en nou die rol van bestuurder, sielkundige, raadgewer en moederhen oor haar meisies speel.
Die verhoog is vir haar en die meisies 'n heiligdom. Dit is hier waar hulle kreatiewe vryheid het om te kan vermaak, verduidelik GiGi. “Dit gaan alles oor mag en die tease is deel daarvan.”
Sy wens om mense, en veral vroue, se persepsies oor eksotiese dansers te verander.
“Vroue dink dikwels dat die dansers hul mans wil steel,” vertel GiGi. “Maar hulle stel eintlik nie eers in hom belang nie – al wat hulle sien, is sy beursie.”
Geld is vir haar belangrik en sy leer die meisies om verantwoordelikheid te neem vir hul finansies: “Hulle moet leer om te spaar, onafhanklik te lewe en om geld weg te sit in eiendom of so,” verduidelik GiGi. “’n Loopbaan in hierdie industrie is short lived en jy moet jou toekoms beplan.”
Oor haar eie toekoms is GiGi beslis: Sy wil teen die tyd dat sy 50 is permanent op haar plaas in Franskraal, in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap, gaan woon.
“Ek sal graag met diere wil werk en nie vroue nie,” vertel GiGi, wat tans perdrylesse neem ter voorbereiding van haar plaaslewe.
“My pa was gek na daai wêreld,” onthou GiGi nostalgies. “Die mense daar is wonderlik en down to earth.”
GiGi voel aangetrokke tot hulle: “Hulle het nog oudtydse waardes, en dit is waarna ek wil teruggaan.”
Vir meer inligting
Besoek GiGi se persoonlike webtuiste.
Besoek die Lollipop lounge se webwerf.
Woon die vertoning Nipple Caps and G Strings in Johannesburg by. Vir meer inligting gaan na www.victorytheatre.co.za of kontak 011 728 9603
2 Gelukkige lesers kan elk 'n dubbelkaartjie ter waarde van R550 na GiGi se eksotiese dansklub, die Lollipop Lounge in Randburg, wen. Die prys sluit 'n skootdans met die meisie van die wen-paartjie se keuse in.
SMS die woorde JW GIGI, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 31 Augustus 2010.
SMS’e kos R5.00 elk.
Lees ook die kompetisie-reëls.
Lesers mag van 'n skuilnaam gebruik maak.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouhoofstories volgende artikel vorige artikel |


