|
Vir jare lank het hy die boodskap van God se
liefde vanaf die kansel verkondig.
'n Man van God. Gesinsman, 'n liefdevolle
eggenoot en vader.
In die kerk het sy vrou en dogter gesit – 'n
toonbeeld van 'n hegte gesin sonder enige
probleme.
Maar die man op die kansel het 'n donker geheim
wat hy in hom ronddra: hy smag na die liggaam
van 'n ander man.
Vanaf sy tienerjare het hy dié behoefte
onderdruk, daaroor gewroeg, daarteen gebid.
Sonder sukses.
Toe besluit hy, hy kan nie meer met die leuen
saamleef nie – hy moet uit die kas klim.
Hy het sy vrou en sy gemeente vertel.
Hy is geskei en het uit die AGS-gemeente waar hy
toe pastoor was, bedank. Sy egskeiding is egter
iets waaraan hy steeds met groot hartseer
terugdink.
Vandag is hy die pastoor van 'n gemeente in
Melville, Johannesburg – maar mense wat dink dit
is 'n gay-kerk, maak 'n fout.
"Ons verkondig nie gay-wees nie. Ons verkondig
Jesus Christus en die kruis," sê hy dadelik.
Verlede maand het sy boek, Daar is 'n gay
pastoor in my kop, op die winkelrakke
verskyn.
Pastoor Philip Liebenberg (46) vertel die rede
hoekom hy dié boek geskryf het, "het baie
fasette".
Een van dié fasette is dat hy tydens sy 20 jaar
in die bediening "baie mans ontmoet het wat nog
vasgevang sit in huwelike waarbinne hulle ontrou
is aan hul vrouens".
Dit is mans wat eintlik gay is, maar weens vrees
vir verwerping deur die samelewing besluit het
om eerder in die geheim daarmee te leef – en dan
te trou.
Hy sê die kerk moet ook kennis neem daarvan dat
baie van sy getroude manlike lidmate "met ander
mans in donker gange speel terwyl hulle in die
kerkraadsbanke sit".
Maar Philip wys daarop dat ontrouheid seker die
lelikste ding is wat 'n mens kan pleeg, en ook
die seerste ding is om te ontvang. "Daarom haat
hierdie mans hulself. Tog pleeg hulle hul
dubbele lewens en vrees hulle die waarheid asof
dit gevaarlik is."
Hy wil dié ouens help en hul moed gee om met
hulself en hul vrouens eerlik te raak.
"So pynlik as wat die onthulling is, so heilsaam
is dit vir almal wat betrokke is. Die waarheid
maak mens vry en skep die hospitaalbed waarop
die siekes genesing uit die Here se hand kan
ontvang.
Philip weet ook dit is 'n lang pad: "'n Gesin
wat aan homoseksualiteit blootgestel is, het
baie pyn om deur te werk."
Philip het vir baie lank – vanaf sy tienerjare
reeds – sy homoseksualiteit probeer onderdruk en
ook baie "maniere van gaywees" probeer: maar
alles sonder sukses. Hy vertel dat niks wat hy
probeer het, goeie vrugte gebring het nie.
"Selibaat is volgens baie die perfekte manier,
maar in my en die meeste ander gay mans se
lewens het dit verskriklike gevolge gehad wat
nadelig vir ons psige en funksionering was."
Hy verduidelik dat mens dan konstant besig is om
jou sterk behoeftes aan 'n lewensmaat te
onderdruk: "Alleenheid. Jy word al hoe meer
moedeloos oor 'n lewe sonder nabyheid en
intimiteit. Jy val vir quickies en voel al
slegter oor jouself. Dit laat jou jou vermoë tot
ware intimiteit en monogamie verloor."
Philip sê hy wil verhoed dat jong seuns, wat gay
begeertes het, dit vir hul ouers wegsteek.
"Die wegsteek gaan 'n lang lewe van leuens met
groot gevolge inhou."
Weereens die waarheid, voel hy.
Vir ouers sê hy dat hulle nie met hul seuns moet
baklei nie. "Lees eers my boek om 'n kykie te
kry wat in jou gay seun se kop aangaan, voordat
daar skade in daardie jong gemoed aangerig
word."
Philip rig 'n ernstige versoek dat daar nie met
só 'n seun baklei moet word, of hom sleg laat
voel oor wie hy is nie.
"Ek verseker jou dat hy reeds baie sukkel met
die gestoei in sy eie kop. Help hom – moet dit
nie erger maak nie."
Philip glo dat daar 'n pa-seun-kultuur geskep
moet word "waarbinne jong seuns eerlik oor hul
homoseksuele behoeftes kan wees sodat die
spanning van geheimsinnigheid ontlaai en hulle
beskerm kan word".
En hy weet waarvan hy praat, want hyself moes as
tiener met sy homoseksuele gewaarwordings deel.
Hy beskryf dié tyd as 'n geestelike stryd met
God.
Daar was onder andere die "mooi
swartkop-Geskiedenisonderwyser".
Bedags het hy oor hom gefantaseer en saans het
hy die Here om vergifnis gesmeek en om hom te
help om daarmee op te hou.
Sy liefde vir God en behoefte om 'n pastoor te
wees, kom ook van jongs af.
"Ek is verskriklik lief vir God," het hy dit
verlede maand tydens die bekendstelling van sy
boek in Pretoria beklemtoon.
"Ek is 'n Christen en ek is gay," het hy gesê.
Alhoewel Philip besluit het om van die leuen
ontslae te raak en in die waarheid te leef,
vertel hy dat hy nog baie veroordeel word.
"Maar ek gaan nie baklei nie. Wanneer mense my
met modder gooi, koes ek maar net."
|