September 2008

 

 

 

   Daar is 'n gay pastoor op die kansel
 

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Jaco Hough-Coetzee
 

Hy het eers bevryding gevind die dag toe hy nie meer met die leuen kon saamleef nie






 


Philip Liebenberg, skrywer van Daar is ‘n gay pastoor in my kop, tydens die vrystelling van sy boek in Pretoria.
(foto's deur Ronell Riekert)

Vir jare lank het hy die boodskap van God se liefde vanaf die kansel verkondig.
'n Man van God. Gesinsman, 'n liefdevolle eggenoot en vader.
In die kerk het sy vrou en dogter gesit – 'n toonbeeld van 'n hegte gesin sonder enige probleme.
Maar die man op die kansel het 'n donker geheim wat hy in hom ronddra: hy smag na die liggaam van 'n ander man.
Vanaf sy tienerjare het hy dié behoefte onderdruk, daaroor gewroeg, daarteen gebid.
Sonder sukses.
Toe besluit hy, hy kan nie meer met die leuen saamleef nie – hy moet uit die kas klim.
Hy het sy vrou en sy gemeente vertel.
Hy is geskei en het uit die AGS-gemeente waar hy toe pastoor was, bedank. Sy egskeiding is egter iets waaraan hy steeds met groot hartseer terugdink.

Vandag is hy die pastoor van 'n gemeente in Melville, Johannesburg – maar mense wat dink dit is 'n gay-kerk, maak 'n fout.
"Ons verkondig nie gay-wees nie. Ons verkondig Jesus Christus en die kruis," sê hy dadelik.
Verlede maand het sy boek, Daar is 'n gay pastoor in my kop, op die winkelrakke verskyn. 

Pastoor Philip Liebenberg (46) vertel die rede hoekom hy dié boek geskryf het, "het baie fasette".
Een van dié fasette is dat hy tydens sy 20 jaar in die bediening "baie mans ontmoet het wat nog vasgevang sit in huwelike waarbinne hulle ontrou is aan hul vrouens".
Dit is mans wat eintlik gay is, maar weens vrees vir verwerping deur die samelewing besluit het om eerder in die geheim daarmee te leef – en dan te trou.
Hy sê die kerk moet ook kennis neem daarvan dat baie van sy getroude manlike lidmate "met ander mans in donker gange speel terwyl hulle in die kerkraadsbanke sit".
Maar Philip wys daarop dat ontrouheid seker die lelikste ding is wat 'n mens kan pleeg, en ook die seerste ding is om te ontvang. "Daarom haat hierdie mans hulself. Tog pleeg hulle hul dubbele lewens en vrees hulle die waarheid asof dit gevaarlik is."
Hy wil dié ouens help en hul moed gee om met hulself en hul vrouens eerlik te raak.
"So pynlik as wat die onthulling is, so heilsaam is dit vir almal wat betrokke is. Die waarheid maak mens vry en skep die hospitaalbed waarop die siekes genesing uit die Here se hand kan ontvang.
Philip weet ook dit is 'n lang pad: "'n Gesin wat aan homoseksualiteit blootgestel is, het baie pyn om deur te werk."

Philip het vir baie lank – vanaf sy tienerjare reeds – sy homoseksualiteit probeer onderdruk en ook baie "maniere van gaywees" probeer: maar alles sonder sukses. Hy vertel dat niks wat hy probeer het, goeie vrugte gebring het nie.
"Selibaat is volgens baie die perfekte manier, maar in my en die meeste ander gay mans se lewens het dit verskriklike gevolge gehad wat nadelig vir ons psige en funksionering was."
Hy verduidelik dat mens dan konstant besig is om jou sterk behoeftes aan 'n lewensmaat te onderdruk: "Alleenheid. Jy word al hoe meer moedeloos oor 'n lewe sonder nabyheid en intimiteit. Jy val vir quickies en voel al slegter oor jouself. Dit laat jou jou vermoë tot ware intimiteit en monogamie verloor."

Philip sê hy wil verhoed dat jong seuns, wat gay begeertes het, dit vir hul ouers wegsteek.
"Die wegsteek gaan 'n lang lewe van leuens met groot gevolge inhou."
Weereens die waarheid, voel hy.
Vir ouers sê hy dat hulle nie met hul seuns moet baklei nie. "Lees eers my boek om 'n kykie te kry wat in jou gay seun se kop aangaan, voordat daar skade in daardie jong gemoed aangerig word."
Philip rig 'n ernstige versoek dat daar nie met só 'n seun baklei moet word, of hom sleg laat voel oor wie hy is nie.
"Ek verseker jou dat hy reeds baie sukkel met die gestoei in sy eie kop. Help hom – moet dit nie erger maak nie."

Philip glo dat daar 'n pa-seun-kultuur geskep moet word "waarbinne jong seuns eerlik oor hul homoseksuele behoeftes kan wees sodat die spanning van geheimsinnigheid ontlaai en hulle beskerm kan word".

En hy weet waarvan hy praat, want hyself moes as tiener met sy homoseksuele gewaarwordings deel. Hy beskryf dié tyd as 'n geestelike stryd met God.
Daar was onder andere die "mooi swartkop-Geskiedenisonderwyser".
Bedags het hy oor hom gefantaseer en saans het hy die Here om vergifnis gesmeek en om hom te help om daarmee op te hou.

Sy liefde vir God en behoefte om 'n pastoor te wees, kom ook van jongs af.
"Ek is verskriklik lief vir God," het hy dit verlede maand tydens die bekendstelling van sy boek in Pretoria beklemtoon.
"Ek is 'n Christen en ek is gay," het hy gesê.

Alhoewel Philip besluit het om van die leuen ontslae te raak en in die waarheid te leef, vertel hy dat hy nog baie veroordeel word.
"Maar ek gaan nie baklei nie. Wanneer mense my met modder gooi, koes ek maar net."

 

Philip Liebenberg se boek, Daar is 'n gay pastoor in my kop, is verlede maand tydens 'n funksie in Pretoria bekend gestel. Ronell Riekert het die foto's geneem.
 

Die boek is deur Penguin gepubliseer, en kan by takke van Exclusive Books gekoop word.

jougeskenke
Drie lesers kan elkeen 'n kopie van Philip Liebenberg se boek, Daar is 'n gay pastoor in my kop, wen.
SMS die woorde JW GAY, tesame met jou naam en e-pos adres, aan 34780.
(Lees ook die kompetisie-reëls op jougeskenke)

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

 

 

 

 



 


 

Rentaspot
 


 

Win a LCD TV
 

Private Property
 

All4Women
 

Carol Boyes, Champagne Gifts and MORE!