|
Na 'n lang en uitgerekte geding tussen die
Hoërskool Ermelo en sy beheerraad aan die een
kant, en die Mpumalanga-onderwysdepartement aan
die ander kant, was dit die leerlinge en hul reg
tot moedertaalonderrig wat gewen het.
Die
appèlhof het verlede maand in Bloemfontein
beslis dat die onderwysdepartement se besluit om
die skool te verbied om sy eie taalbeleid te
bepaal, ter syde gestel moet word.
Dié onenigheid tussen die departement en die
skool strek terug tot in 2001, toe die
departement probeer het om dié Afrikaanse skool
te ver-Engels. Die beheerliggaam het egter
vasgeskop – en uiteindelik die saak in die hof
gewen.
Die burgerregte-inisiatief AfriForum het die
appèlhof se uitspraak verwelkom as 'n oorwinning
vir almal wat gekant is teen die regering se
viktimisering van enkelmedium Afrikaanse skole.
AfriForum het die hoop uitgespreek dat die
Ermelo-uitspraak ander Afrikaanse skole se
beheerliggame sal aanspoor om ook onregmatige
inmenging in skole se taalbeleid teen te staan.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van
AfriForum is die appèlhof se bevinding, dat die
owerheid onregmatig opgetree het, 'n aanduiding
daarvan dat die regering selfs bereid was om
staatsmag tot op die uiterste te misbruik ter
voering van 'n ideologies-gedrewe stryd teen
Afrikaanse skole. Hierdie stryd geskied volgens
Kriel ten spyte daarvan dat enkelmedium
instellings volgens Artikel 29 van die
Suid-Afrikaanse Grondwet toelaatbaar is.
AfriForum se standpunt dat
die onderwysowerhede spesifiek Afrikaanse skole teiken, word
volgens Kriel gestaaf deur die feit dat daar
landwyd nie 'n enkele voorbeeld is van waar die
minister of die onderwysowerhede ingegryp het om
'n enkelmedium Engelse sekondêre skool se
taalbeleid te verander nie. "In teenstelling
hiermee het die minister en onderwysowerhede dit
nodig geag om die staat se volle mag te gebruik
om te probeer verseker dat die Hoërskool Ermelo
verengels," het Kriel bygevoeg.
Kriel het daarop gewys dat AfriForum die
grootste simpatie met die massas kinders in
hierdie land het wat nie toegang tot goeie
onderwys het nie. "Die argument van toegang is
egter bloot as handige verskoning misbruik om
Hoërskool Ermelo van sy status as Afrikaanse
skool te probeer ontneem, aangesien daar
genoegsame fasiliteite in die skool se omgewing
beskikbaar is om leerders wat Engels as voertaal
verkies, te kan akkommodeer," het Kriel gesê.
Volgens Kriel het die owerhede 'n kunsmatige
behoefte aan Engelse onderrig geskep om 'n anti-Afrikaanse
agenda te bevorder.
Die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA) sê dat
die uitspraak bevestig die Christen-Demokratiese
beginsel van subsidiariteit, naamlik dat gesag
op die laagste moontlike vlak gesetel moet wees,
en dat die owerheid hom nie met ander lewensfere,
soos die onderrig onbehoorlik moet inmeng nie.
"In 'n demokratiese bedeling is die staat daar
om geboue te voorsien, onderwysers op te lei en
te betaal. Ouerbeheerliggame het weer hul taak
as verlengstuk daarvan om ouers te wees," sê dr.
Christo Landman, woordvoerder oor grondwetlike
sake van die CDA.
"Ons vertrou dat hierdie saak die regering sal
laat besluit om eerder genoeg skole te bou en
leerkragte op te lei, as om goed-funksionerende
skole, wat moedertaalonderrig verskaf, te
probeer aftakel om sy eie swak regeervermoë te
probeer regmaak."
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, sê
die appèlhofuitspraak span die kroon op 'n
jarelange stryd en onderstreep die blatante
onregverdige manier waarop die ANC inmeng in
Model C-skole.
"Die Hoërskool Ermelo was nog altyd een van die
top presteerders in Mpumalanga. Die Minister van
Onderwys, me. Naledi Pandor, wou duidelik eerder
presteerders viktimiseer as om disfunksionele en
onderpresterende skole tot orde roep," sê dr.
Mulder.
Van die ongeveer 2000 enkelmedium Model C-skole
in 1994, kan nog net 310 as enkelmedium beskryf
word. Uit die syfer blyk dit dat daar 'n
duidelike aanslag teen Afrikaanse skole is.
"Ons hoop om die hofuitspraak te gebruik om
Afrikaanse skole te verweer teen die aanslag.
Die VF Plus hou ook die internasionale
organisasie UNPO, waarvan ons lid is, deurlopend
op hoogte van moedertaalonderwys en sal die
hofuitspraak onder hulle aandag bring," het dr.
Mulder bygevoeg.
Die jeugleier van die VF Plus, mnr. Cornelius
Jansen van Rensburg, sê die uitspraak is 'n
oorwinning nie net vir Afrikaans nie, maar ook
vir veeltaligheid, aangesien skole wat 'n erns
maak met die ontwikkeling en instandhouding van
moedertaalonderrig nou nie meer deur die
onderwysdepartement intimideer kan word nie.
"Die vraag ontstaan rondom die regte van
tersiêre instellings om hul eie taalbeleid te
bepaal sonder om reaksie vanaf die regering te
vrees. Tans het universiteitsrade en 'n senaat
die mag om 'n instelling se taalbeleid te bepaal.
Vrees vir regeringsinmenging en die inkorting
van subsidies word egter voorgehou as redes vir
die geleidelike aftakeling van Afrikaans aan
Afrikaanse Universiteite.
"Universiteitsbesture behoort nou aktief en op
meer tasbare wyses die plek van Afrikaans op die
vyf historiese Afrikaanse Universiteite te
bevorder. Geen land kon in vreemde tale enige
hoogtes bereik of bydraes lewer nie. Engels is
'n uitheemse taal terwyl Afrikaans en die ander
tale sy oorsprong in Afrika het. Suid-Afrika kan
dit nie bekostig om nie meertaligheid aan die
opvoedkundige instellings te bevorder nie,"
het Jansen van Rensburg bygevoeg. |