November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 

  Klein probleem = groot probleem

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

deur die Redaksiespan

 

Erektiele disfunksie – 'n leser maak sy hart oop: "Dit het vir my gevoel of ek 'n marshmallow deur 'n sleutelgat probeer druk."

 

 

Paul* is nog in die fleur van sy lewe. Pure man. Iemand wat altyd 'n positiewe uitkyk op die lewe gehad het.
Maar hy het met 'n probleempie gesit. 'n Kleintjie. Sien, dinge wou nie so lekker in die slaapkamer vir hom uitwerk nie.
Of in enige kamer, in daardie geval, voeg hy by.

Paul (36) het reeds 'n paar jaar gelede besef dat daar iets skort.
"My sekslewe was nie hoe ek dit wou gehad het nie – inteendeel, dit het eintlik nie bestaan nie. Wanneer ek en my vrou wel seks gehad het, het dit vir my gevoel of ek 'n marshmallow deur 'n sleutelgat probeer druk."
Hy was aanvanklik huiwerig en skaam om hulp te kry, maar het uiteindelik besef hy het geen ander keuse nie. Vandag is hy 'n ander man en gesels hy openlik oor dié stadium van sy lewe.
Vir ander mans wat nou in dieselfde ongemaklike bootjie is, as wat hy in was, het hy die volgende raad: "Onthou, daar is mediese sowel as sielkundige redes vir erektiele disfunksie – maar die enigste manier om dit te bowe te kom, is om te erken dat daar 'n probleem is. En dan hulp te soek."

Paul het aanvanklik sy seksuele onvermoë aan spanning by die werk en huis toegeskryf, aangesien hy afdanking in die gesig gestaar en 'n nuwe babadogtertjie tuis gehad het.
"Sien, ek is die tipe man wat oor die algemeen 'n positiewe uitkyk op die lewe het, so ek het nie te veel aandag daaraan geskenk nie. Ek bedoel, ek was daardie tyd in my vroeë 30's, so dit sou mos nie vir lank 'n probleem gewees het nie, of so het ek gedink."

Hy het begin om boeke te koop en het verskillende tegnieke bestudeer om sy vrou te bevredig, "sodat sy ten minste 'n orgasmiese ervaring het en nie sleg van my sou dink nie . . . die probleem was egter dat ek haar eers in die bed moes kry."

Sy werksprobleme het verbeter. Die hantering van die baba het beter geraak. Maar om 'n ereksie te kry, het nie.
Paul onthou daardie moeilike tyd asof dit gister was: "Ek het uiteindelik desperaat geraak en die moed bymekaar geskraap om my dokter te gaan sien. Natuurlik het ek ander simptome van 'n geheimsinnige siekte opgemaak om die afspraak te maak, en moes toe 'n manier kry om die feit dat ek nie die viriele jong man was wat ek altyd verbeel het ek is nie, te openbaar. Om nou 'n lang storie kort te maak, ek het 'n voorskrif vir wonderwerk-pille gekry wat belowe het om dinge só pennetjie-orent te kry dat die blote aangesig van 'n négligé my gerééd sou maak. Dan sou ek my vrou op die tradisionele manier van penetrasie kon bevredig . . . Hoe verkeerd was ek nie!"

Dan vertel hy wat daarna gebeur het: "Alhoewel ons twee of drie keer oor 'n spesifieke naweek seksueel sou verkeer, het die frekwensie daarvan nie vermeerder nie aangesien ons dan vir weke lank daarna niks gedoen het nie."
Hy lag: "Hel, die pille kos 'n fortuin! Dit móés resultate lewer, of my vrou nou lus was of nie, en alhoewel my ereksies aan die begin harder was, kon ek dit steeds nie enduit volhou nie."

Paul en sy vrou het bittermin aan mekaar geraak – hetsy binne of buite die slaapkamer. Hulle het dit ook nooit bespreek nie. Wanneer hy haar wel kon oorreed om seks te hê, het hy al sy energie daarop toegespits om haar 'n orgasme te laat kry – maar ná die tyd het hy leeg en ontevrede gevoel.
Tydens een van sy menigte internet-besoeke het Paul 'n webwerf van 'n plaaslike terapeut ontdek. Dié webwerf het aan hom meer inligting oor erektiele disfunksie verskaf – en hy het besluit om haar te kontak.
Sy plan was om sy vrou "saam te sleep sodat sy genees kon word en meer met my seks sou wil hê".
Onder die dekmantel: "Die erektiele disfunksie wat my vir die laaste paar jare lastig val. Dis mos sommer twee vlieë met een klap! Ja-nee, dit het na 'n wonderlike plan geklink. 'n Besoek aan 'n terapeut sou in elk geval as trendy beskou word!"

Dan raak Paul ernstig. Dit het vir hom gevoel asof sy huwelik besig was om uit mekaar te val, en hy moes op die een of ander manier iets doen om dit te probeer red.
"Ek is lief vir my vrou. Skei was dus nie vir my 'n oorweging nie."

Hy het alleen na die eerste sessie gegaan – en hy was angsbevange, bieg hy nou.
"Ons het begin praat, en, alhoewel ek myself as baie liberaal beskou, was ek geskok oor hoe oop en reguit die terapeut met my was – maar na 'n halfuur het ons soos ou skoolpêlle gesels!"

Vir die tweede sessie het hy sy vrou saamgevat en die terapeut het hul probleme puntsgewys vir hulle saamgevat:
1. Sy en sy vrou se libido's is nie eers in dieselfde boek nie, wat nog te sê van op dieselfde bladsy.
2. Hulle het die klassieke simptome van 'n "pursuer / distancer"-verhouding gehad.
3. Sy erektiele disfunksie was hoofsaaklik die gevolg van sielkundige probleme, waarvan prestasie-angs 'n hoofoorsaak was.

Paul lag as hy aan dié diagnose terugdink: "Enigiemand kon sien dat ons libido's nie ooreenstem nie, maar wat is 'n "pursuer / distancer"-verhouding, en dié nonsens van prestasie-angs? Ek is dan 'n man van die nuwe millennium en het hope artikels gelees oor hoe om 'n vrou te bevredig. Wat het ek om oor angstig te wees? En tog, toe dit op die stuk van sake kom, kon ek nie die punch vat nie."

Maar binne homself het Paul geworstel met baie onbeantwoorde vrae: "Wat was fout met my? Het ek as eggenoot misluk? Was dit alles my skuld? Is ek die oorsaak van die verwydering tussen ons?"
En hy het besef dat hulle hulp nodig gehad het. Dat hý hulp benodig – nou, meer as ooit.

"In die volgende paar weke daarna het baie dinge gebeur. Ek het baie oor my vrou geleer – iemand wat ek gedink het ek na die afgelope 14 jaar geken het. Ek het geleer hoe om te luister. En ek het geleer hoe om te kommunikeer!"
In dié weke het hulle meer baklei as nog ooit tevore, maar dit was alles ten goede, vertel Paul: "Ons het ten minste gekommunikeer – albei van ons, en ek het geleer hoe my vrou voel, verstaan waardeur sy gaan, haar behoeftes verstaan. En ek het gevoel hoe ek weer van vooraf verlief raak!"
Die terapeut het elke week vir Paul en sy vrou "huiswerk" gegee om te doen: dinge waarvoor hulle tyd moes maak, iets wat hulle al vergeet het om te doen. Hulle moes van vooraf leer hoe om mekaar aan te raak en dinge met mekaar te deel.

Paul se oë sprankel: "Oplaas het ons weer geleer hoe om liefde te maak. En ek bedoel nie seks nie – ons het geleer hoe om waarlik liéfde te maak."
Sy vrou het sy probleem verstaan en hy weer, het beter verstaan wat sy uit hul intieme tyd saam benodig het. Hy het ook begin begryp dat hy nie alleen vir haar orgasme verantwoordelik was nie, maar dat hulle dit saam moes bereik.
"My vrou inisieer seks nou meer gereeld en ons is ook baie liefdevoller buite die slaapkamer. Ja, ons lewens is geensins perfek nie: 'n huwelik benodig baie werk, maar ons verhouding is sterker omdat ons nou oor sake wat ons pla, kommunikeer. Dit het ons vroeër nie gedoen nie."

Paul se eerlike raad vir mans wat met erektiele disfunksie sukkel, of vroue wie se maat probleme het, is om eers openlik met mekaar daaroor te praat en dan sáám hulp te soek.
"Die ondersteuning van my vrou het vir my die hele verskil gemaak," verduidelik hy.
Sy advies is direk en op die man af: "Kom oor jouself, sluk jou trots en kry dit uitgesorteer. Glo my, dit het 'n negatiewe invloed op jou selfbeeld en veral op jou verhouding. As jy jouself en jou maat liefhet – doen iets daaroor. Moenie soos ek wees en vir jare in ontkenning leef voordat jy die moed bymekaar skraap om met iemand te praat nie."
Dan voeg hy met 'n stoute laggie by: "Seks is pret, moenie dat jou ego, of 'n slap penis, dit vir jou bederf nie!"

*Skuilnaam
 

Lees meer oor erektiele disfunksie in dié uitgawe, asook die jouwêreld-artikel oor lae libido in verlede maand se uitgawe.

Paul* en sy vrou het berading en hulp by Leandie Buys, 'n kliniese seksuoloog en traumaberader, ontvang. Kontak haar by 041 373 5800. Jy kan ook 'n faks stuur na 086 517 2107 of 'n e-pos na info@leandiebuys.co.za.
Om haar maandelikse nuusbrief te ontvang, besoek www.leandiebuys.co.za.
 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember


 

This page must be uploaded to a web site. Banner ads will then be visible.:X:.