Woeker met jou eierselle
Maretha Botes

deur Maretha Botes




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die ideaal sou wees dat geen vergoeding vir die skenking van eierselle gegee word nie, en dat skenkers dit uitsluitlik sou doen uit die goedheid van hul harte – maar ons leef nie in 'n ideale wêreld nie.
Die A - Z van eierselskenking.

Foto deur doriana_sDie advertensie op die webblad trek jou oog: Eierselskenkers benodig. Klik hier. Dan kliek jy en volg die skakel, want die aanbod klink verleidelik: 'n paar eierselle vir 'n paar duisend rand. Net genoeg om daardie laaste paaiement op jou motor te betaal, of skoolboeke vir jou kind te koop. Dit klink na malligheid, maar in sommige dele van die wêreld maak eierselskenkers 'n klein fortuin uit die groot hartseer waarmee ander worstel. 
Agentskappe vir eierselskenkers, -ontvangers en surrogaatmoeders, kan inderdaad nie voorbly in die vraag na skenker eierselle nie. In Amerika word daar byvoorbeeld jaarliks bykans 6 000 babas uit skenkereierselle gebore.
Maar wat is daarin vir jóú sou jy jou eierselle skenk? Of moet jy glad nie aan die geld dink nie – dit gaan immers daaroor om iemand anders die kans op swangerskap te gee . . .

In Suid-Afrika mag geen betaling vir orgaanskenking, insluitend eierselle, ontvang word nie, aangesien dit gelykstaande aan orgaanhandel is. Daar mag egter wel ooreengekom word op vergoeding vir die eierselskenker se tyd, moeite en kostes aangegaan om die skenking te maak, soos byvoorbeeld vir brandstof en verblyf.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Reproduktiewe Wetenskappe en Chirurgie (SAVRWC) beveel hiervoor 'n bedrag van tussen R5 000 en R6 000 aan. Enigiets meer as R10 000 moet gemotiveer word.
Skenking in Suid-Afrika word ook identiteitloos gedoen om beide partye te beskerm, behalwe wanneer die ontvangerpaartjie gebruik maak van mense wat aan hulle bekend is, soos 'n familielid of vriendin.

Die A-Z van eierselskenking in Suid-Afrika

Dit klink na 'n edele ding om te doen: Gee 'n stukkie van jouself, maak iemand anders 'n mamma en steek 'n paar duisend rand in jou sak.
Maar hokaai eers!
"Dit is nie só eenvoudig nie," sê Tertia Albertyn van Nurture, 'n agentskap vir eierselskenkers, -ontvangers en surrogaatmoeders. "Jou aansoek om 'n skenker te word, is maar net die begin."

Vereistes van 'n gesonde skenker

Ouderdom: oor 18 maar verkieslik tussen 20 en 34 jaar oud;
'n Beenmassa-indeks van tussen 19 en 28;
'n Gereelde menstruasiesiklus;
Geen geskiedenis van geneties-oordraagbare siektes in die familie nie;
'n Sielkundige evaluasie om seker te maak die voornemende skenker verstaan presies waarvoor sy haarself inlaat: Die skenker moet 100% oortuig wees sy wíl die proses voltooi. Eierselontvangers betaal duisende rande en kan nie die finansiële risiko waag om halfpad deur hul skenker in die steek gelaat te word nie.

Die skenkingproses

Die profiele van geskikte skenkers word identiteitloos op 'n gedeelte van die agentskap se webtuiste – wat slegs deur voornemende ontvangers besoek kan word – geplaas.
"Dán begin die groot werk," sê Jenny Currie van die Baby2Mom eierselskenker- en surrogaatagentskap.
Die skenker ontvang 'n omvattende mediese ondersoek wat 'n pelviese ondersoek, ultraklank en 'n reeks bloedtoetse insluit.
Sodra 'n paartjie op 'n skenker besluit het, sal die skenker 'n lae dosis voorbehoedpil begin gebruik om te help om haar siklus met dié van die ontvanger s'n te sinkroniseer.
Ongeveer twee maande na die eerste doktersafspraak sal die skenker begin om haarself daagliks vir twee weke lank met hormone in te spuit. Dít veroorsaak die vervaardiging van meer as een eiersel tydens ovulasie.
Die skenker sal in dié tyd ook vir ongeveer drie ultraklank-ondersoeke moet gaan.
Na twee weke vandat met die hormoon-inspuitings begin is, word die eierselle geoes. Die prosedure self is nie seer nie en dit word onder 'n ligte narkose gedoen. 'n Buis waardeur 'n dun naald na die eierstokke gelei word, word in die vagina geplaas om die eierselle te oes. Die hele proses neem maar 15 tot 30 minute.
Die eierselskenker hoef geen van die mediese kostes te dra nie – dít word alles deur die ontvangerpaartjie gedek.

Die risiko's van eierselskenking

Die mees algemene risiko is eierstok-hiperstimulasie-sindroom, wanneer die eierstokke oorgestimuleer word deur die hormone wat die skenker in dié tydperk moet neem. Die simptome is opgeblasenheid en in sommige gevalle naarheid en diarree. Indien dit nie behandel word nie, kan dit tot die dood lei.
Ander nagevolge sluit in hormoonverwante buierigheid, narkose-verwante komplikasies, pelviese absesse na die operasie en gevolglike infertiliteit en die risiko van perforasie van 'n aar of organe, soos die blaas. Daar is ook 'n moontlikheid van kanker van die eierstokke, hoewel geen navorsing nog hierdie verbintenis bewys het nie.

Hoeveel keer kan ek skenk?

Agentskappe soos Nurture en Baby2Mom beveel aan dat vroue nie meer as ses keer skenk nie.
"Baie vroue wil meer as een keer skenk," sê Tertia. So is 80% van Nurture se skenkers gereelde skenkers wat tot drie keer sal skenk.
Hoewel navorsing nog nie konkrete bewyse gelewer het, is daar kommer dat hormoon-inspuitings soos die wat gebruik word om meer eierselle te vervaardig, wel tot kanker kan lei. Dit is ook nadelig vir 'n mens om te veel narkose te ontvang.
In Amerika is daar egter nie perke op hoeveel keer vroue eierselle mag skenk nie. In haar boek Confessions of a serial egg donor, vertel Julia Derek byvoorbeeld dat sy al 12 keer geskenk het. Sy erken dat sy deur die geld gemotiveer was en dat sy as gevolg van al die hormoonbehandelings 'n ernstige hormonale wanbalans ontwikkel het.

'n Deeltjie van myself "iewers daarbuite". . .

Iemand wat eierselle skenk, skenk 'n baie kosbare deeltjie van hulself – daarom is daar altyd die risiko dat die skenker gevoelens van verlies en selfs 'n band tussen haar en die ongebore baba sal ervaar.
Tertia sê sy verduidelik altyd die situasie só aan vroue wat deur haar agentskap skenk: Die geskenkte eiersel sou in elk geval tydens die menstruasiesiklus weggewas word. En dit is nié die skenker se baba nie, want sonder die ma se baarmoeder en die pa se spermselle, sou daar nie 'n baba gewees het nie.
Tertia sê dit is een van die redes waarom skenkers vir 'n sielkundige evaluasie en selfs berading moet gaan: om seker te maak hulle kan hulself ná die skenking van die proses losmaak.
Jenny sê vroue se grootste motivering om hul eierselle te skenk, is om ander te kan help. "Hulle voel bevoorreg om deel te wees van hierdie proses, en 'n verskil te kan maak in iemand anders se lewe."

Aan die ontvangkant

In vitro-fertilisasie, met of sonder 'n skenkereiersel, kos ouerpare tussen R40 000 en R50 000 in Suid-Afrika – dit sluit die kliniekkostes en agentskap se deel in. Dié uitgawes word nie deur mediese fondse gedek nie.
"Die proses is nog goedkoop in Suid-Afrika. In ander wêrelddele is dit feitlik onbekostigbaar vir gewone salaristrekkers," sê Tertia.
Agentskappe sien jaarliks 'n groei in die aantal buitelandse ouerpare wat Suid-Afrika toe kom om die hele in vitro-proses hiér te kom laat doen. "Ons noem dit eierseltoerisme!"
Jenny Currie sê hulle sien veral ouerpare uit Brittanje, Amerika, Australië en Afrika.
Tertia sê dit is gewoonlik vir die ontvangerpaartjies 'n baie traumatiese gebeurtenis, veral wanneer die proses nie die eerste keer suksesvol is nie. Eerstens is dit traumaties om te hoor jy kan nie met jou eie eierselle swanger raak nie; dan moet jy vrede maak met die feit dat jou baba uit 'n klein deeltjie van 'n vreemde vrou gaan bestaan.
"Maar wéér moet vroue verstaan dit is nie gene wat 'n mamma maak nie – jy is 'n mamma as jy daardie baba vir nege maande in jou voel groei het, nagte om by 'n siek kind se bed gesit het, of soentjies steel van jóú slapende baba aan wie jy geboorte gegee het.
"Dit gebeur baie dat die proses nie die eerste keer 'n swangerskap oplewer nie. En dan moet sulke paartjies besluit of hulle wéér deur die hele emosionele proses wil gaan en ook of hulle die geld daarvoor het – of eerder ophou gaan probeer."

In 'n perfekte wêreld

Die ideaal sou wees dat geen vergoeding gegee word nie, en dat skenkers dit uitsluitlik doen uit die goedheid van hul harte.
"Maar ons leef nie in 'n ideale wêreld nie," sê dr. John Gilliland van die Noord-Kaliforniese Vrugbaarheid en mediese sentrum. In Brittanje byvoorbeeld het die aantal skenkers drasties verminder sedert die betaling van skenkers daar stop gesit is.
Volgens Nancy Block, stigter van die Sentrum vir Eierselskenkers in Illinois, Amerika, het hulle 'n derde meer skenkeraansoeke gesien sedert April verlede jaar toe die wêreldekonomie in duie gestort het. Eierselskenking is 'n $38 miljoen per jaar-industrie in Amerika. Skenkers wat deur agentskappe werk, bank sowat $7 000 per skenking. Privaat skenkers, na aanleiding van advertensies wat in sommige koerante verskyn, kan tot soveel as $20 000 maak.
"Dit word die Wilde Weste van eierselskenking genoem," sê Tertia.

In Amerika kan eierselskenkers op meer geld vir hul eierselle aandring as hulle 'n goeie profiel het – soos byvoorbeeld blonde hare, blou oë, 'n universiteitsgraad met A-simbole en 'n familiegeskiedenis van slim en mooi mense.

Meer inligting oor hoe om 'n eierselskenker te word, kan gekry word by www.baby2mom.co.za en www.nurture.co.za.

Maretha Botes is 'n vryskut-joernalis. Dié artikel van haar is ook in Rooi Rose geplaas.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend