|
In die tienerrolprent Bakgat! is sy die bekkige en agterbakse Christie Barnard; in kykNET se Getroud met Rugby die feeks Driekie. Maar die meisie agter dié karakters, Ciske Kruger, het nou 'n nuwe uitdaging.
Dit is Ciske (25) en haar man, die akteur Ivan Botha (23), se eersteling wat nou die hoofrol in hul lewens speel.
Hulle het hul bondeltjie liefde, wat op 15 September gebore is, na die hoofkarakter in hul gunsteling Franse fliek, Amelie, vernoem.
Die naam beteken "hardwerkend en versorgend" – eienskappe wat vir Ciske en Ivan belangrik is. "Daarom is die naam vir ons so spesiaal," vertel Ciske opgewonde. "Dit is die ideale keuse vir ons eersteling!"
En die nuwe ouers is behoorlik trots op hul dogtertjie.
Amelie is lank vir haar ouderdom: Ciske en Ivan vertel hulle moet spesiale kleertjies vir haar soek.
"Sy is maar 'n besige enetjie en sy is nie groot op slaap nie," sê Ivan. En asof Amelie weet daar word van haar gepraat, begin die kleinding in sy arms kriewelrig en huilerig raak.
"Sy hou daarvan om in jou arms te wees. So ek moet nogal baie multitask."
Ciske se raad aan ander nuwe ma's is om hulp te aanvaar van die oumas en oupas. Háár ma is ongelukkig ver van Johannesburg, maar Ivan se ma – wat in die Oos-Rand woon – help gereeld. En dan is Skoonsus net 'n oproep ver.
"Ivan se broer-hulle se seuntjie is nou ses maande oud, so hulle weet al wat om te doen."
Ivan het bekend geword vir sy rol as Wimpie Koekemoer in Bakgat!, waarna hy die wegloperkind in Getroud met Rugby gespeel het. Volgende jaar begin hy en Ciske aan 'n nuwe Afrikaanse fliek, Superhelde, werk waarin hulle teenoor mekaar die romantiese hoofrolle vertolk.
Ciske sien uit daarna om weg te beweeg en 'n ander soort karakter te speel as dit hoe kykers haar leer ken het. "Ek dink dit gaan 'n uitdaging wees omdat ek baie lank gelede so 'n soort rol vertolk het."
Dit sal die eerste keer wees dat hierdie paartjie teenoor mekaar speel. "Gewoonlik kry ons skaars kans om met mekaar te praat as ons werk. Dis gaan interessant en lekker wees."
Danksy haar rolle as die spreekwoordelike feeks, het Ciske reeds die publiek se woede ervaar. Sy was al op straat deur 'n kwaai kyker gekonfronteer oor sy "so lelik is met Dries" (haar man in Getroud met Rugby).
"'n Mens lag maar net. En dan sê ek maar iets soos: 'nee, tannie dis mos net 'n rol . . .' 'n Mens weet nie eintlik hoe om dit te hanteer nie."
"Dis gewoonlik ook die lekkerste rolle," voeg Ivan by. "Maar wat lekker is daarvan," sê Ciske, "is dat ek nou uitsien om weer iemand normaal te speel. 'n Mens mis dit om 'n normale persoon te speel as jy heeltyd die feeks is. Hoewel dit ook lekker is om iemand te speel wat totaal anders as jyself is. Dis altyd fun.
Amelie is nie beplan nie, erken Ciske en Ivan: Hulle wou eers oor twee jaar met 'n gesin begin. "Maar ek dink nie God sal iets oor jou pad stuur as jy nie reg is daarvoor nie," sê Ciske. "So ek dink dit was meant to be dat Amelie nou in ons lewens is."
"Dit was darem nie 'n skandaal nie!" skerm Ivan vinnig. "Ons lyk baie jonk, maar ons is darem al twee jaar getroud!"
Ciske voel as paartjies mekaar nog nie lank ken nie, moet hulle eers 'n bietjie wag om kinders te hê. "Julle moet mekaar eers geniet. Vir baie mense kleef daar 'n stigma aan trou en kinders kry, veral omdat die egskeidingsyfer so hoog is."
Ciske en Ivan het besliste waardes waarvolgens hulle Amelie wil grootmaak. "Die belangrikste ding wat ek haar wil leer is dat God ons Vader is. Daardie wete kry my en Ivan deur slegte tye, en ek dink dit is belangrik dat sy Hom ook ken."
Dan wil Ciske ook seker maak hul dogter toon respek en is liefdevol teenoor alle mense – ongeag wie dit is en wat hul agtergrond is.
Vir Ciske was die aanpassing as ma baie natuurlik. Sy het ook normaal gekraam. Toe sy die eerste tekens van die bevalling halftwee op die oggend van 15 September voel, het sy eers rustig gaan bad en grimering aangesit!
"Ek wou darem mooi lyk as hulle foto's neem," lag sy.
Hierdie rustigheid is ook iets wat sy in haar ouerskapstyl wil toepas. "Ek dink ek gaan 'n funky ma wees, omdat ek self nog jonk is. Aan die ander kant dink ek ons sal ook baie beskermend wees. Ivan spot nou al en vertel haar ouens is sleg en so – asof sy nou al kan verstaan!"
Hulle sal graag nog 'n kind wil hê. "Maar eers later!" skerm Ciske vinnig.
Ivan reken die perfekte gaping tussen kinders is so twee jaar. Dan kan Amelie en haar boetie of sussie nog lekker saamspeel.
Vir nou fokus hierdie twee gewilde akteurs eers op hul eersteling en hul opkomende projekte. Aanhangers van Getroud met Rugby kan uitsien na nog van Driekie se streke, want die tweede reeks word in Maart 2010 verfilm. Bakgat 2 word in Junie 2010 vrygestel en hierin het Ciske se karakter haar vietse lyfie verloor, maar haar vlymskerp tong behou.
Gelukkig ken Amelie net liefde van haar ma.
 |
.jpg) |
Ivan Botha en Ciske Kruger met hul babadogtertjie, Amelie.
(Foto's deur Rozanne Myburgh)
|
|