|
Dit is elke sanger of kunstenaar se droom om
eendag 'n CD op te neem – almal is egter nie so
gelukkig om dadelik 'n platekontrak te kry waar
'n platebaas hulle touwys maak en in die
musiekindustrie kan begelei nie.
Baie kunstenaars moet dan
self die hele proses van 'n CD-opname aanpak.
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat drome in
nagmerries ontaard omdat die kunstenaars nie
behoorlik hul huiswerk doen nie.
Dan is daar ook soveel
fly by night-ateljees
wat nuwe kunstenaars uitbuit deur hulle om die
bos te lei met leë beloftes, wat hul
swaarverdiende geld vat en dan 'n minderwaardige,
swak opname die lig laat sien. Geen behoorlike
bemarking word vir die kunstenaar gedoen nie,
met die gevolg dat die CD nooit op enige
winkelrakke verskyn nie en die arme kunstenaar
met die skuld en die sak patats sit. Daar is
meer as genoeg sulke aasvoëls in die industrie!
Begin by die begin
So, waar begin jy as jy 'n CD wil opneem? By die
begin – maak seker jy kan sing!
Maak seker dat meer mense as net jou pa, ma en
sangjuffrou dink jy is talentvol. Kry iemand
buite jou vriendekring om 'n eerlike opinie te
gee oor jou vermoëns en wees voorbereid op
positiewe én negatiewe kritiek. Dit kos te veel
geld om tyd te mors op 'n CD wat nie gaan
verkoop nie. Om 'n goeie kwaliteit CD op te neem
gaan jou maklik R50 000 uit die sak jaag en jou
primêre fokus moet wees om daardie geld terug te
kry – en dit vat 'n bo-gemiddelde sanger of
musikant om daardie skaal verkope te verseker.
Een ding wat jy as 'n nuwe kunstenaar moet besef
– voordat jy opneem – is: die publiek moet weet
wie jy is! Dit gaan beteken dat jy baie moet
optree, by feeste probeer inkom, 'n musiekvideo
op TV en die internet kry, saam met ander
bekendes rondtoer en 'n buzz in die
bedryf begin maak.
'n Kunstenaarskontrak is die ideaal waaroor
meeste sangers van droom, en is 'n ooreenkoms
tussen 'n platemaatskappy en 'n kunstenaar
waarin die twee partye ooreenkom dat die
kunstenaar 'n album / DVD sal maak wat die
platemaatskappy kan bemark en verkoop.
Net soos enige ander besigheid is 'n
platemaatskappy se fokus om wins te maak, daarom
is dit vir hulle 'n groot risiko om 'n kontrak
met 'n onbekende kunstenaar te teken.
Besef asseblief dat 'n platemaatskappy jou nie
suksesvol kan maak nie - hulle skep net vir jou
'n produk en help om 'n profiel op te bou. Hoe
hard jy werk gaan jou sukses bepaal.
As onbekende kunstenaar gaan jy nie veel insae
in jou eerste CD se
look & sound
kry nie, maar 'n A&R (Artist & Repertoire )
bestuurder het jare se ondervinding – luister
gerus na hul raad en aanvaar hul leiding.
Wanneer 'n kontrak aangebied word, dra
platemaatskappye die kostes van 'n CD/DVD opname
en daarom is hulle die kopiereg- en Mastereienaars.
Omrede die CD/DVD die platemaatskappy se eiendom
is, is dit hul verantwoordelikheid om die produk
te bemark. Hulle dra dus die kostes vir die
bemarkingsmateriaal en hulle sal die nodige
promosiewerk doen om jou album sigbaar te maak
in die mark.
Sodra jy 'n kontrak teken, onderneem jy om
eksklusief vir die betrokke platemaatskappy op
te neem en dat jy nie ander opnames by 'n ander
ateljee sal doen nie.
Maar hoe kry jy 'n kunstenaarskontrak? Die
antwoord is: met baie moeite en 'n klein bietjie
geluk!
Net soos jy, is daar duisende ander
hopefuls
in Suid-Afrika wat graag 'n platekontrak wil hê.
Hulle maak ook almal demo's, pos dit vir die
groot platemaatskappye net om nooit weer iets te
hoor nie. Luister nou mooi: demo's is ou nuus!
Dit beland op 'n hoop in iemand se kantoor, wat
nooit weer daarna kyk of luister nie.
Dit is die inisiatief wat jy gebruik om die
platebase se koppe te laat draai wat jou gaan
help. Gebruik tegnologie soos MP3's, Youtube,
FaceBook en myspace tot jou voordeel. Tree op,
al begin jy in
local pubs
as Robbie Wessels se
opening act.
Kopiereg werk só
As jy iemand anders se liedjies gebruik, moet jy
weet hoe werk kopiereg.
Wanneer 'n lied vir 'n eerste keer opgeneem
word, moet die skrywer daarvan eers skriftelik
toestemming gee. Daarna, met ander woorde sodra
'n lied in die kommersiële mark beskikbaar is,
mag enigiemand anders daardie lied reproduseer
sonder die skriftelike toestemming van die
oorspronklike skrywer. Die nodige tantieme moet
egter aan die skrywer of sy
publisher
betaal word.
In Suid-Afrika word kopiereg beskerm vir vyftig
jaar nadat die oorspronklike liedjieskrywer
oorlede is, daarna word die lied "tradisioneel"
of "publieke eiendom" (public domain). Dan kan
jy dit opneem, verander of vertaal sonder
toestemming. Jy kry dan kopiereg op die nuwe
lied en niemand kan dan jou weergawe gebruik
sonder toestemming nie. 'n Goeie voorbeeld is
Afrikaners is plesierig
wat Karen Zoid bietjie opgekikker het, en nou is
sy die kopieregeienaar daarvan. Riana Nel het
dieselfde gedoen met
Hansie Slim.
Hoeveel gaan dit kos
Baie kunstenaars wat nie dadelik 'n platekontrak
kan losslaan nie, besluit om as 'n onafhanklike
kunstenaar hul eie album op te neem. Kunstenaars
wat die finale sê oor die opnameproses en hul
eindproduk wil hê, volg dieselfde roete. Maar om
'n goeie kwaliteit CD op te neem, sal jou maklik
in die omgewing van R50 000 uit die sak jaag as
jy self daarvoor gaan betaal. Besluit eers
hoeveel geld jy het, en hoeveel gaan jy benodig.
Kry verskillende kwotasies en stel jou begroting
op. Dit gebeur baie dat kunstenaars met 'n
bang wegspring en dan iewers deur die proses
agterkom die produk kos baie meer as wat jy
gedink het. Jou geld raak op en dan moet alles
staan en wag.
Onthou ook dat 'n goeie bemarker jou tussen R10
000 en R15 000 gaan kos.
|