Januarie 2009
Jaargang 1 Uitgawe 6

 

 


   Bloedspoor op die teerpad

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Jaco Hough-Coetzee
 

Ten spyte van die goeie bedoelings van busdienste om die veiligheid van hul passasiers te verseker, blyk dit dat dié pogings nog nie werklik geslaag het nie.

 


(Foto: http://www.sxc.hu/)

Die Desembervakansie het nog skaars begin toe die eerste busongeluk, waarin 75 mense beseer is, plaasvind.
'n Passasiersbus van SA Roadlink was op die N3-hoofweg na Durban onderweg toe dit naby Howick vroegaand in mistige en reënweer teen 'n ander bus, wat stukkend in die noodbaan gestaan het, gebots het. Dit het noodpersoneel twee uur geneem om die ernstig beseerde busbestuurder uit die wrak te bevry.

'n Paar dae later het die tweede SA Roadlink-busongeluk in KwaZulu-Natal plaasgevind – dié keer het 11 mense gesterf.
Dit was skuins na middernag toe die bus op die N2-hoofweg, aan die Natalse-suidkus naby Hibberdene, teen 'n aankomende motor gebots het. Al die passasiers in die motor, 'n pastoor van Empangeni en sy gesin, het omgekom. Daar was net 12 mense op die bus, maar vier van hulle het ook gesterf.

Was dit maar net die begin van die slagting op dié provinsie se paaie tydens die Kersseisoen waarby passasiersbusse betrokke is? Passasiersbusse in Suid-Afrika, en veral SA Roadlink, het immers 'n tragiese ongeluk-geskiedenis agter hul naam. Dit is wat Bheki Cele, die LUR vir vervoer in KwaZulu-Natal, gedink het.
Hy het onmiddellik aangekondig dat geen busse van dié maatskappy vanaf 20 Desember meer op dié provinsie se paaie toegelaat sal word nie. Hy het ook gedreig dat busbestuurders voor die voet gearresteer en die busse geskut sal word indien SA Roadlink dit weer in die provinsie waag.

Dit is ongrondwetlik, het Allan Reddy, SA Roadlink-voorsitter, kort daarna tydens 'n mediakonferensie met joernaliste in Johannesburg teruggekap.
Volgens die maatskappy het hulle die reg om ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid eers voorleggings te doen voordat hul lisensie in die provinsie opgeskort word. Hulle het ook geen korrespondensie van die KwaZulu-Natal se departement van vervoer oor die aangeleentheid ontvang nie, sê hulle.

Toe is dit hof toe: Regter Isaac Madondo het op 19 Desember in die Pietermaritzburg Hooggeregshof 'n tussentydse bevel gemaak dat SA Roadlink met sy roetes in die provinsie mag voortgaan totdat die LUR meer redes kan verskaf hoekom dié busdiens verbied moet word. Die hof het ook gehoor dat 'n algehele verbod onnodig sou wees, aangesien die verkeersowerhede enige tyd busse kan voorkeer en ondersoek. 

Wat word gedoen?

Nou wil bekommerde buspassasiers weet: Wat is fout? Daar was immers verlede jaar alleen ten minste 15 busse in ongelukke betrokke waarin meer as 70 mense gesterf en 500 beseer is.
Klagtes van ontnugterde passasiers – wat aan nagmerrieritte blootgestel is – word gereeld gehoor. Dié klagtes sluit in bestuurders wat jaag en onverantwoordelik bestuur, oormoeg is en in sommige gevalle selfs dronk is, en busse wat nie in 'n goeie toestand is nie. 

Verskeie veiligheidsmaatreëls is egter sedert 2000 ingestel om die doodspoor wat busse op die land se paaie veroorsaak, te beperk.
Busse se snelheid is onder meer tot 100km/h beperk, maar soos die geval meestal in Suid-Afrika is, is wetstoepassing 'n probleem. Gereelde buspassasiers vertel dat busbestuurders nie altyd by dié spoedgrens hou nie, veral as die bus agter skedule is en tyd opgemaak moet word. Ook gedurende die nag, en buite vakansieseisoene wanneer daar feitlik geen wetstoepassing op die land se paaie is nie, word die spoedgrens gereeld oorskry.
Passasiers en ander motoriste kan egter help om busbestuurders wat te vinnig en onverskillig ry, by die spesifieke busdiens se bestuur te verkla.
Van die duurder en meer luukse langafstandbusse is deesdae met stelsels wat die bus se spoed voortdurend monitor toegerus – tot minute voordat 'n ongeluk sou gebeur.
Passasiersbusse moet jaarliks vir padwaardigheid getoets word, maar korrupsie en ongerymdhede by toetsstasies laat die vraag ontstaan oor hoe suksesvol dié toetse in werklikheid is.
Die afgelope vier jaar word rolstawe ook in alle nuwe busse se dakke as standaardtoerusting ingebou. Dié stawe moet verhoed dat die dak nie inmekaar vou wanneer die bus rol nie.

Herman Steyn, woordvoerder van SA Roadlink, sê hul busse word met 'n satellietstelsel gemonitor wat aandui as die bestuurder die spoedgrens oortree.
Hulle het voor Desember verlede jaar ook hul vloot vernuwe deur ses nuwe busse aan te skaf, en het al hul busse vrywillig vir padwaardigheid laat toets.

Bheki Cele, die LUR vir vervoer in KwaZulu-Natal, het gesê hulle het aan die begin van die Desemberfeesseisoen 'n nuwe mobiele toestel in gebruik geneem wat voertuie se padwaardigheid langs die pad kan kontroleer. Die verkeersowerheid in dié provinsie het danksy dié toestel binne die eerste paar dae reeds 35 busse en 20 taxi's vanaf die pad verwyder. Hulle het ook tydens die vakansieseisoen die bestuurders van alle busse en taxi's wat onpadwaardig is, die spoedgrens oorskry of oorlaai is, onmiddellik gearresteer en die voertuie geskut.
Kort na die Hibberdene-ongeluk is 'n ander SA Roadlink-bus by Ladysmith weens onpadwaardigheid van die pad gehaal.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) se woordvoerder, Rob Handfield-Jones, voel sterk daaroor dat Suid-Afrikaanse wetgewing dit verpligtend moet maak dat passasiersbusse met driepunt-sitplekgordels en rolhokke toegerus moet word.

Só loop die bloedspoor

Ten spyte van die goeie bedoelings van busdienste om die veiligheid van hul passasiers te verseker, blyk dit dat dié pogings nog nie werklik geslaag het nie.
Hiérdie is maar net 'n paar van die busongelukke wat verlede jaar op die land se paaie plaasgevind het:

Januarie
'n Greyhound-bus slaan om naby Ulindi in KwaZulu-Natal. 10 Mense sterf, 43 beseer.
'n Intercape-bus en 'n vragmotor tref mekaar skrams op die N1-hoofweg naby Hanover. Geen ernstige beserings nie, maar twee passasiers word in die hospitaal opgeneem. 


Februarie
'n SA Roadlink-bus verlaat die N1-hoofweg naby Springfontein in die Suid-Vrystaat. 1 Sterf, 4 ernstig en 33 lig beseer.


Maart

'n Intercity Express-bus verlaat die pad net buite Pretoria op die N1-hoofweg. Twee sterf en 36 is beseer.
Die bestuurder van 'n Buscor-bus verloor beheer oor die bus op die R40-pad tussen Witrivier en Nelspruit. 11 Mense is dood, 23 ernstig en 67 lig beseer.


Mei
'n Bus stort sowat 300 m teen 'n krans af nadat die bestuurder in die Kaka's-pas naby Cedarville in die Oos-Kaap beheer verloor het. 22 Mense dood, 25 beseer.


Junie
'n SA Roadlink-bus raak die N3-snelweg naby Durban byster, bots teen 'n reling langs die pad en slaan om. 43 mense is beseer.
Nog 'n SA Roadlink-bus slaan naby Alberton op die R59-snelweg, kort nadat dit vanuit Johannesburg vertrek het, om. 5 Mense is gedood, en 41 beseer. 


Julie
'n BMJ-bus met 19 passasiers verlaat die N1 naby Colesberg en slaan om. Geen sterftes, maar almal is beseer.


Augustus
'n Golden Arrow-bus stort oor die Lansdowne-brug in Kaapstad. 2 Mense is dood, en 10 beseer.


September
'n Passasiersbus slaan naby Welkom om. 1 Mens sterf en 40 is beseer. 


Desember
'n SA Roadlink-bus bots teen 'n ander stilstaande bus naby Howick op die N3-hoofweg in die KwaZulu-Natalse Middellande. 75 Mense is beseer.
Nog 'n SA Roadlink-bus bots teen 'n motor op die N2-hoofweg naby Hibberdene aan die Natalse-suidkus. 11 Mense sterf.
 

Vertel ons jou storie

Is jy 'n gereelde buspassasier, of het jy onlangs van 'n busdiens gebruik gemaak? Wat was jou ondervinding daarvan – positief of negatief?
Hoe het jy as motoris busbestuurders se padgedrag die afgelope vakansie beleef?
Wat, volgens jou, is van die grootste faktore wat 'n rol speel in busongelukke en wat kan nog gedoen word om dit te verhoed?
Vertel ons jou storie – stuur jou brief aan redaksie@jouwereld.co.za voor 25 Januarie 2009.
 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 




 

 
 
 



Lees ons ander
uitgawes
2008
Augustus
September
Oktober
November
Desember
2009
Januarie
Februarie