Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 


  Blindes in noppies oor resepte met knoppies

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


e-pos jouwêreld

Geskiedenis is gemaak toe die heel eerste gekombineerde resepteboek in Afrikaans, vir siggestremdes, verlede maand in Johannesburg bekend gestel is. Dié boek is uitgegee in grootdrukskrif én in braille.


(foto's deur Amanda Olivier)

Fakir Hassan, aanbieder van die program RSG-Rekenaar, bewonder die nuwe resepteboek.

Mense wat siggestremd is kon nog altyd daarin slaag om met die nodige aanpassings en vaardigheidsontwikkeling oor die weg te kom in 'n lewe waar sig eintlik onontbeerlik is.
Met gidshonde en padkieries kan hulle in die strate rondstap en die kafee en park besoek.
Hulle weet waar alles in hul huis is en kan self die radio aanskakel, badwater intap, 'n CD in die CD-speler druk en koffie maak. Vir diegene wat braille kan lees, is daar 'n groot verskeidenheid van boeke beskikbaar.
Selfs die maak van ligte etes is nie 'n te groot probleem nie.
Maar: die voorbereiding van nuwe disse uit 'n Afrikaanse resepteboek was hulle nie beskore nie.
Tot nou toe.

Geskiedenis is gemaak toe die heel eerste gekombineerde resepteboek in Afrikaans, vir siggestremdes, verlede maand in Johannesburg bekendgestel is. Gewoonlik word boeke óf in braille, óf in grootdruk, gepubliseer – maar dié gekombineerde resepteboek, Kook Sonder Grense, is in braille sowel as grootdrukskrif gepubliseer. Nou kan blinde én swaksiende kokke na hartelus uit die boek kook en bak.
Dié boek is deur Radio Sonder Grense (RSG), in samewerking met Blind-SA, uitgegee.
RSG-stasiebestuurder, Magdaleen Krüger, verduidelik dit is vir die radiostasie belangrik om betrokke te wees by gemeenskappe waar hulle 'n impak kan hê om sy luisteraars te bemagtig.  
"Ons identifiseer jaarliks 'n paar verdienstelike organisasies of projekte, waar ons deur middel van samewerking, ondersteuning of bewusmaking, 'n verskil kan maak aan die mense se lewens wat daarby betrokke is," vertel sy.   

Die Bestuurder van Braille Dienste van Blind-SA, Philip Jordaan, sê 'n oplaag van 500 boeke is gedruk waarvan die eerste 200 boeke genommer sal wees om Louis Braille se sterfdatum 200 jaar gelede te herdenk. Braille was die man wat 'n noemenswaardige verskil aan mense se lewens gemaak het deur die verfyning van die gehewe knoppies op papier wat uiteindelik as brailleskrif bekend geword het.
"Dié 200 boeke sal beslis 'n versamelaarswaarde hê," sê Magdaleen. 
 
Philip was 'n hele aantal jaar verbonde aan die Pionierskool in Worcester waar hy verskeie boeke in braille getranskribeer het, wat storie- en resepteboeke insluit. Hy sê daar is net 'n handjievol blindes in Suid-Afrika wat braille kan lees: sowat 3 000 blindes uit die nagenoeg 300 000 siggestremdes.

Heelwat van Philip Jordaan en sy vrou Sanette se resepte wat hulle tydens hul verblyf in die Boland beproef het, is ook in Kook Sonder Grense ingesluit.  Die ander is afkomstig van RSG-luisteraars wat hul resepte met die aanbieder van die radioprogram Tjailatyd, Amoré Bekker, gedeel het.
Dié resepte is ook op RSG se webwerf by www.rsg.co.za beskikbaar.
En dan het die kranige blinde kok Martie de Klerk ook van haar resepte ingesluit. Sy was ook daarvoor verantwoordelik om elke resep in Kook Sonder Grense te toets om seker te maak dat dit siggestremd-vriendelik is.

Sy verduidelik dat dit gevaarlik vir blinde mense is om geregte te maak waar hulle moet diepbraai. Dis ook moeilik om eiers se wit en geel te skei.
Blinde kokke moet liefs ook handskoene dra wat tot by die elmboog reik, is haar advies.  

Die president van Blind-SA, Cathy Donaldson, sê hulle is baie opgewonde en dankbaar oor dié projek: "Tot op hede kan die siggestremdes wat van die boek gehoor het, nie wag om hulle hande daarop te lê nie!"
Sy beskou dié gekombineerde resepteboek as die agtste wonder van die wêreld: "As dit nie vir RSG was nie, sou ons nooit so 'n groot projek kon aanpak nie. Dis wonderlik!"

RSG staan pa vir die drukkoste van die boek en die bemarking op lug. Die inkomste van verkope van die resepteboek sal weer direk in Blind-SA teruggeploeg word om hulle by te staan met die uitvoering van hul take en hulp aan die siggestremde-gemeenskap.

Die toetsing, samestelling, kopiereg en druk van die boek is deur Blind-SA behartig.  Dit bevat 63 eenvoudige, maar smaaklike, geregte.
Dit is opgedeel in die afdelings: voorgereg, vleis, groente, nagereg en terte.

 


"Ek kan nou wel nie sien hoe die nagereg lyk nie, maar ek kan proe!"

Die stasiebestuurder van RSG, Magdaleen Krüger, ontvang die eerste genommerde Kook Sonder Grense van die president van Blind-SA, Cathy Donaldon. 

Martie de Klerk, die blinde kok wat al die resepte in die boek in haar eie kombuis getoets het, wys aan Magdaleen Krüger hoe 'n blinde braille lees.

RSG-omroeper Jacqui January, saam met een van die blinde gaste, Heila de Beer.

Kook sonder Grense kos R85 en is beskikbaar by Blind-SA.
Skakel Sanette Jordaan by 011 839 1793 vir meer besonderhede

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]