|
Verlede maand het daar weereens duisende mans na die Mighty Men-saamtrek gestroom om antwoorde op hul geestelike vrae te kry. 'n Paar van hulle het hul persoonlike belewenisse met jouwêreld gedeel.
Hulle het van regoor die land in hul massas na die plaas Shalom net buite Greytown in die Natalse Middellande gestroom met bakkies, fietse, motorfietse, motors, karavane, trokke en busse. Daar is self 'n voetslaner of twee. Soos ds. Dawie Liebenberg wat al die pad van Johannesburg met 'n kruis oor sy skouer gestap het. Hulle is almal hier met net een doel: om oom Angus Buchan tydens die sewende en laaste Mighty Men-saamtrek te hoor preek, en om 'n persoonlike belewenis met God te ervaar. Hulle is hier vir 'n boodskap. Hulle wil God se stem in die chaos van hul lewens hoor.
Dis skemeraand en daar is 'n effense koeligheid in die lug, maar die atmosfeer rondom die reusagtige verhoog is met opwinding gelaai. Sowat 300 000 mans en seuns pak die vlakte rondom die verhoog vol in afwagting vir die evangelis se verskyning.
Dan verskyn oom Angus, soos hy algemeen bekend staan, Bybel in die hand op die verhoog. Die reuse TV-skerms verseker dat almal hom kan sien.
“Jesus!” skree hy oor die klanksisteem terwyl sy vinger na bo wys.
Die duisende mans is op hul voete. “Jesus!” dreun hul stemme.
“Jesus! Jesus!” skree oom Angus weer as hy na die anderkant van die verhoog stap. Die applous wat uitbreek, is oorverdowend.
Hy lig sy hande na die skare: die teken dat hulle moet ophou hande klap en gaan sit.
Bybel-swaaiend in die hand bring hy sy boodskap – sy tema is Watchmen of the House as hy Esegiël 3:17 voorlees: “Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.”
Die mans moet wagters in die huis en in Suid-Afrika wees en wag staan teen die sonde, roep hy uit. Die skare klap hande.
“Moenie patete wees nie, wees 'n ware man! Moenie bang wees en weghardloop van Suid-Afrika en sy probleme nie. Daar is probleme orals in die wêreld!”
“Amen!” stem die mans saam.
Oom Angus stap flink rond op die verhoog terwyl hy preek. Hy doen weer sy kenmerkende opstote terwyl die skare juig. Na sy opspraakwekkende ineenstorting tydens verlede jaar se saamtrek, is oom Angus dié jaar blakend gesond en sy ou self.
'n Uur later en hy sluit af met gebed: “God, seën die mans, seën hul gesinne, seën Suid-Afrika.”
Dan is die diens verby. Die orkes neem oor terwyl die liedjies se woorde oor die TV-skerms rol.
“My Lord is alive, my Lord is alive,” sing die gehoor met hande na bo gelig. Orals kniel groot mans op die grond, verdiep in gebed terwyl die trane oor hul wange rol.
Later beweeg almal in groepies terug na hul tente. Onder die massas is Jaco de Jager (33) en sy seun, Ian (4), van Potchefstroom. Hulle stap hand-aan-hand deur die donkerte.
Vir Jaco is oom Angus se boodskap duidelik: “Dit gaan oor die gesin.”
Hy vertel dat hy aanvanklik nie lus was om die saamtrek by te woon nie. Hy was immers mos verlede jaar hier; én dit is so vreeslik ver om te ry, het hy verskonings gemaak.
“Ek sou veel eerder die naweek saam met my vrou en kinders spandeer,” verduidelik hy. Toe skielik kom die gedagte by hom op om sy seun saam te bring.
“Ja, ek weet daar is mense wat my sal kritiseer omdat ek my vierjarige hierheen gebring het,” vertel hy. “Maar vir my was dit 'n ongelooflike ervaring van versoening, vashou, saamsing en saamwees. Ons het 'n twee-mantent gedeel en selfs 'n berg geklim.”
Hy voel dat dit ook goed vir Ian is om te sien dat die dinge waaroor “groot mense” praat, ook gelééf word.
“En Ian het dit gelove,” sê Jaco. “Hy het vir al sy maatjies by die kleuterskool Joe Niemand-CD’s uitgedeel en kon nie ophou praat oor hoe lekker die naweek saam met die manne was nie.”
“Soveel meer as wat ons verwag het”
Rudolph Pretorius (31), ook van Potchefstroom, se manne-naweek het weer heel anders begin. Hy vertel dat hy graag wou gaan. Hy het gebid, maar het geen antwoord van God ontvang nie. Dit het dus beteken: bly tuis.
“God het toe vir my gesê ek moet sewe dae vas om deur te maak wat Sy Seun in die woestyn beleef het,” vertel hy. Die Donderdag net voor MMC – na die vastydperk – het hy sy antwoord gekry: Gaan. Die volgende oggend was hy gereed en het hy, saam met vriende, die tog aangedurf.
Hy vertel dat God spesifieke dinge in sy lewe aan hom uitgewys het. “Hy het my gewys hoe ek lyk, hoe alles in my lewe nog oor my gaan, dat ek hoogmoedig is. Natuurlik was ek baie hartseer en het ek gehuil.”
Niémand bly onaangeraak nie, verseker hy.
Sedert Rudolph twee jaar gelede tot bekering gekom het, word dit vir hom al hoe makliker om emosie te wys.
“Die Saterdagoggend was daar 'n man op die verhoog wat Amazing Grace op die doedelsak gespeel het. Dit is toe dat ek weer besef het, 'n mens kan net één God dien.”
Dis ook hier dat hy besef het dat God soveel meer vir hom gegee het as waarvoor hy gevra het.
“Ja, natuurlik is daar mense wat met verwagtinge gaan en hulle kan dalk teleurgesteld wees. Oor die geriewe of die spesifieke vrae wat hulle in hul harte dra,” verduidelik hy, “maar dit gaan ook daaroor of jou verwagting geestelik of fisiek is.”
Sy vriend, Eduard Schoch (34), voeg by: “Oom Angus is nie een van daai emosioneel-opsweperige predikers nie. Hy het nie hierdie groot revelations wat hy neersit nie. Hy kom en hy vertel jou hoe dit is. Dis prakties, dis nie nuwe goed of iets wat ons nie geweet het nie. Hy konfronteer jou die hele naweek met hoekom jy nie dinge in jou lewe reg doen nie.”
Eduard glo hierdie pak slae is 'n positiewe ervaring in sy lewe.
“Soms moet daar maar hard met ons as manne gepraat word,” lag Rudolph.
Manne, vroue en die media
“Oom Angus is geroep deur God om met manne te praat,” sê Eduard. “Maar sy hart is vir die gesin.”
Hy verduidelik dat Angus telkemale gesê het 'n sterk familie is 'n sterk land. Niks in daardie boodskap sê onderdruk jou vrou nie.
“Maar mans en vroue het beslis verskillende rolle en is verskillend emosioneel aanmekaar gesit.”
“Tannie Jill is beslis nie 'n onderdrukte vrou nie,” sê Rudolph. “Al wat oom Angus sê is, staan in jou rol as man en wees lief vir jou vrou.”
'n Man se identiteit lê nie in sy manwees nie, dit lê in Christus, verduidelik hy sy siening. “En Christus kan nie in 'n boksie gesit word nie. Ons elkeen het ons eie storie. Die wêreld se idee van 'n tradisionele, sterk man en sy rol is vervals. Dit is in 'n boksie. Ons moet ons rolle in liefde definieer. Dan sal geen vrou onderdruk word nie want ons sal mekaar voltooi en aanvul, binne die konteks van ons huwelik.”
“Ja, die media ondermyn die boodskap deur op geslagsgelykheid te fokus,” sê Eduard.
“Eintlik sit hulle die pot skoon mis,” sê Jaco. “Wie jy is, beïnvloed wat jy hoor. Dus as jou intensie negatief is en jy wil hoor dat oom Angus sê jy moet jou vrou onderdruk, is dit presies wat jy gaan hoor.”
Die enorme krag van die gesin moenie onderskat word nie, verduidelik die mans eenparig. “En dit is presies hierdie krag wat die vyand aanval en wat oom Angus se boodskap probeer aanspreek: Eerbiedig mekaar en wees lief vir mekaar. By MMC, al is jy tussen derduisende ander mense, is daar 'n veilige omgewing om jou emosies te wys.”
“Ons persepsie van die liefde is vuil en vervals. Oom Angus se boodskap is om dit te suiwer,” sê Rudolph. “En hy is nie perfek nie. Hy is ook maar net 'n mens. Hy het selfs verskoning vir ons en vir sy seuns gevra vir wat hy alles verkeerd gedoen het.”
“Ja, niemand is perfek nie,” las Jaco by. “Ons is almal maar eintlik net krom en skeef.”
Op die laaste dag van die MM-saamtrek, met die boodskap van liefde in hul ore, stap die manne terug na hul tent toe.
Daar rol 'n traan oor Jaco se wang.
"Pappa, hoekom huil jy?" vra die vierjarige Ian.
“Want dit is vir my vrék lekker om hier saam met jou te kan wees, my seun,” antwoord hy.
|