April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

  Ope brief aan adv. Mokotedi Mpshe

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel



Helen Zille het in 'n Ope Brief aan die waarnemende Direkteur van Openbare Vervolging, adv. Mokotedi Mpshe, 'n uiteensetting gegee waarom die DA dink dat die vervolging van Jacob Zuma voortgesit moet word. Hier is die volledige brief.

Geagte adv. Mpshe

i.s.: Vertoë ten opsigte van die vervolging van Jacob Gedleyihlekisa Zuma

Vind hierby aangeheg asseblief vertoë van die Demokratiese Alliansie ten opsigte van die vervolging van mnr. Jacob Gedleyihlekisa Zuma.

Ons vertoë sit duidelik en dwingend uiteen waarom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Zuma moet vervolg, en waarom die NVG die saak wat hy sorgvuldig oor die afgelope vyf jaar gebou het, nie moet laat vaar nie.

Eerstens het die NVG 'n grondwetlike plig om sy werksaamhede sonder vrees, gunste of vooroordeel uit te voer. Hy moet die oppergesag van die reg in stand hou, asook die beginsel dat ons almal voor die reg gelyk is. Dit is die NVG se uitdruklike plig om die sterkste verdediger van die oppergesag van die reg te wees. Die NVG is geskep om 'n kultuur van onaantasbaarheid te bestry, en korrupsie te stuit. As die beginsel van gelykheid voor die reg verwerp word, kan ons nie meer 'n konstitusionele demokrasie genoem word nie, al tel ons Grondwet (op papier) onder die bestes ter wêreld.

Die NVG het reeds in beëdigde verklarings en in geregshowe daarop gedui dat hy 'n sterk saak teen Jacob Zuma het, wat gesteun word deur 'n nougeset gedokumenteerde argief van bewyse en 'n redelike kans op welslae in 'n geregshof. Voorts is Schabir Shaik reeds weens die omkopery van mnr. Zuma skuldig bevind. Ná Shaik se skuldigbevinding is die NVG se bewyse aansienlik versterk toe die NVG toegang tot 13 sleuteldokumente in besit van die owerhede in Mauritius gekry het.

As die NVG tweedens versuim om sy saak teen mnr. Zuma voort te sit, sal hy versuim om sy vervolgingsplig uit te voer, en die strafregstelsel self in die steek laat. Die Hoërhof in Pietermaritzburg het genoem: "'n Aanklaer het 'n plig om te vervolg as daar 'n prima facie-saak is, en as daar geen dwingende rede vir die weiering van 'n vervolging is nie". Só 'n saak het 'n paar weke gelede klaarblyklik bestaan. Wat het intussen gebeur om te sorg dat dit verdwyn?

Wat gebeur het, is dat Jacob Zuma 'n geheime dokument aan die NVG voorgelê het. As dié dokument só 'n dwingende saak uitmaak dat die saak laat vaar moet word, moet ons weet wat dit is. Waarom duik hierdie betoog nou eers op? Waarom is dit nie deel van mnr. Zuma se verdediging in 'n ope geregshof nie? As dié vrae nie beantwoord word nie, sal daar 'n wolk van agterdog oor die NVG hang, en sy geloofwaardigheid sal in die gedrang kom. In die publiek se beskouing sal hy voor politieke druk geswig het.

Derdens het die NVG 'n verantwoordelikheid om met die vervolging voort te gaan, want hy het die unieke werktuie en ervaring om strafregtelike vervolgings te voer. As die NVG 'n vervolging staak, is daar geen realistiese verwagting dat die beskuldigde in 'n hof sal verskyn nie. Die samelewing moet dan hulpeloos toekyk terwyl iemand wat van ernstige misdade beskuldig word, nie vir sy of haar dade tot verantwoording geroep word nie.

Vierdens sal die terugtrekking van die aanklagte teen mnr. Zuma die voorbeeld skep dat individue in magsposisies bo die reg verhewe is en hul pad uit die moeilikheid met bullebaktaktiek kan bewerkstellig. Die magtiges het die hulpbronne en die invloed om druk op die strafregstelsel te plaas om hulle in wese immuniteit te gee. Mnr. Zuma het toegang tot staatsgeld om 'n regsverdediging te finansier wat nie vir gewone mense beskikbaar is nie. In sulke sake waarby die magtiges betrokke is, moet instellings soos die NVG die oppergesag van die reg juis die sterkste verdedig. Die terugtrekking van die aanklagte sal die publiek se geloof in die legitimiteit van die strafregstelsel ondermyn en lede van die regering aanmoedig om hul mag te misbruik omdat hulle weet dat hulle op vrywaring van vervolging kan staatmaak.

Tensy die NVG laastens beskuldigdes soos mnr. Zuma voor 'n geregshof daag, beteken die veronderstelling van onskuld niks. Die veronderstelling van onskuld bestaan bloot om beskuldigdes te beskerm totdat hulle verhoor word. Die onttrekking van die aanklagte staan nie aan 'n bevinding van onskuldig gelyk nie, en daar sal steeds 'n wolk van agterdog oor mnr. Zuma hang. Net die instellings in die strafregstelsel kan sowel die beskuldigde as die breë samelewing die sekerheid gee wat gepaard gaan met die wete dat 'n beskuldigde deeglik verhoor en beoordeel is, en skuldig of onskuldig bevind is, soos deur die reg vereis.

Dit is geweldig jammer dat die NVG geweier het om die inhoud van mnr. Zuma se vertoë bekend te maak sodat ons sy punte in ons eie vertoë kon aanspreek. Die feit bly dat niks in mnr. Zuma se vertoë hoegenaamd die berg bewyse wat die NVG vergaar het, ongedaan kan maak nie. Die NVG het 'n plig om op die grondslag van daardie bewyse op te tree.

Mnr. Zuma se vertoë berus na berig word op wat sy regspan die "Simson-opsie" noem. Dit is, as mnr. Zuma "te gronde gaan", moet ander dié lot met hom deel - veral oudpres. Thabo Mbeki en ander senior kollegas, deur hulle met die wapentransaksie te verbind of deur politieke motiewe aan mnr. Zuma se vervolging toe te dig.

As dit inderdaad die grondslag van mnr. Zuma se vertoë uitmaak, glo die DA dat dit die saak teen hom inderwaarheid vererger. Hy vra vir 'n toesmeerdery omdat die bewyse in 'n ope hof die regering tot 'n val sal bring. Die moontlikheid dat die NVG aan só 'n toesmeerdery aandadig kan wees, sal die einde van die oppergesag van die reg in Suid-Afrika beteken. Dit is die gevolgtrekking waartoe talle sal kom as die aanklagte teen Jacob Zuma teruggetrek sou word.

As enige ander huidige of voormalige bekleër van 'n regeringspos onwettig opgetree het in die omstandighede wat die ondersoek na Jacob Zuma betref, moet dié persone óók aangekla word. Hul vermeende oortredings kan egter nie gebruik word om die 16 aanklagte van korrupsie, omkopery, geldwassery en rampokkery teen mnr. Zuma ongedaan te maak nie. Regter Louis Harms van die Appèlhof het met die omkering van die Pietermaritzburgse Hoërhof se 2008-uitspraak oor mnr. Zuma se vervolging gesê: "'n Vervolging is nie verkeerd net omdat dit vir 'n verkeerde rede ingestel is nie. Dit is net verkeerd as redelike en waarskynlike redes vir die vervolging boonop ontbreek."

Die konteks waarin die huidige verwikkelinge hulle voordoen, skep ook die duidelike indruk van 'n opeenvolging van gebeure wat daarop gemik is om Jacob Zuma teen die reg te beskerm. Dié gebeure is onder meer die ontbinding van die Skerpioene (ondanks oorweldigende openbare steun vir die behoud van dié eenheid), die ontslag van Vusi Pikoli, die hoof van die NVG (al het die Ginwala-kommissie bevind dat hy vir sy pos geskik is), en die ontslag van Schabir Shaik (in stryd met die regsvereistes vir mediese parool). Al dié verwikkelinge het die Grondwet ondermyn en die instrumente van daardie dokument in 'n uitbreiding van die Zuma-kliek binne die ANC verander.

Die DA glo dat die aangehegte vertoë 'n duidelike en onweerlegbare betoog lewer vir waarom die NVG sy saak teen Jacob Zuma moet voortsit. As die NVG die aanklagte vir watter rede ook al sou laat vaar, het die publiek die reg om te weet op watter grondslag die aanklagte laat vaar is. Dit is 'n gevestigde regsbeginsel dat die reg nie net moet geskied nie, maar ook sigbaar moet geskied.

As só 'n verduideliking nie verstrek word nie, sal die publiek daarop geregtig wees om die gevolgtrekking te maak dat die NVG en mnr. Zuma 'n onderling voordelige skikking in ruil vir die onttrekking van die aanklagte bereik het. Dit sal 'n ramp vir Suid-Afrika wees. Dit sal die magtiges vrye teuels gee om korrupsie te pleeg, en 'n konteks van algehele wetteloosheid aanmoedig.

Ek sien na u reaksie uit.

Die uwe

Helen Zille
Leier van die Demokratiese Alliansie

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep