Wilde-appelliefies blom ook
Ragab tel die kleibordjie by die deur op en gooi die geldstukkies in die velsakkie – dit was 'n goeie nag.
Sy dink aan die besoek van een van Jerigo se stadsvaders: eintlik soek hy net 'n oor en 'n skouer, iemand rustig by wie hy kan ontspan. Maar hy betaal goed, sy kla nie. Daar is 'n paar manne wat gereeld die helfte van haar nag kom opeis en daaroor haat die ander vrouens haar met 'n passie.
Vinnig haak Ragab 'n mandjie oor haar arm en trek die deur toe. By die markplein kyk sy rond vir groente en rogbrood. En sy soek 'n stuk linnelap. 'n Paar nagte gelede het Fahim haar rok geskeur. Sy is sommer van vooraf woedend. Dit is nie die eerste keer wat dié vet man met sy drillerige wange en hangmaag gewelddadig teenoor haar raak nie: 'n Paar jaar gelede het hy in sy dronkenskap gereeld sy perverse seksdrange op haar afgedwing. Hy het haar laat verstaan dat hy betaal en dat sy elke vieslike gier van hom sal uitstaan. Sy was jonk en sonder inkomste, sonder heenkome. Agterna het sy gehuil en haarself oor en oor gewas; die vuil probeer afwas, 'n vuil wat seep en water nie kan reinig nie. Maar sy het geweet hy was reg, sy het nie 'n keuse gehad nie.
Sy vee vinnig met die agterkant van haar hand oor haar wange. Die swart koolstofpoeier om haar oë verklap trane gou. In hierdie aaklige Kanaän is sy 'n uitgeworpene. Ragab kan amper nie meer onthou hoe sy op hierdie pad beland het nie. Sy het tog 'n pa en broers wat haar moes beskerm, maar op 'n dag was hulle nie naby nie en is sy wreed onteer. Daarna het haar pa haar die huis belet.
Vandag is dinge anders. Toe Fahim haar rok skeur, het sy haar mes gegryp en na hom gesteek.
“Ek het jou gewaarsku,” het sy gesis. “Die dae wat jy jou vieslike drange op my kom afdwing, is verby.”
Hy het teruggetree. Sy klein ogies het nog nouer getrek.
“Ek sal jou weer inbreek, jou klein slet!”
Hy het haar vasgegryp en haar rok verder van haar probeer afskeur, maar sy het die lem in sy arm laat wegsak en losgeruk.
“As jy ooit weer naby my kom, sal ek op die markplein gaan vertel wie en wat jy is!” het sy gedreig. Sy weet hy is in onguns by die koning oor sy vetsugtige, luilekker lewe.
“Jy sal dit nie waag nie!”
“Jy dink so? Wat het ek om te verloor?” het sy gevra. Hy het die huis uitgestorm.
Skielik voel Ragab koue oë deur haar gluur.
“Hoer!”
“Vieslike vrou!”
“Jy gaan nog vrot!”
“Mag wurms jou siel opvreet!”
Trane wil-wil opwel, maar sy skud haar kop en stap vinnig by 'n tent in. Daardie woorde het sy al male sonder tal van haar afgeskud. As die lewe anders was, as hulle 'n god kon aanbid wat volmaaktheid in mense kon bring, sou sy nie nodig hê om hul mans te onthaal nie. Sou sy nie 'n prostituut wees nie.
Diena omhels haar.“Hoekom is jy so maer?”
“Jy vra dit elke keer, Diena. Ek is mos maar soos ek is, weet jy dit nou nog nie?”
“Wat kom soek jy by my?” Haar stem is sag.
“'n Stuk lap, mooi linnelap.”
Haar skoonsuster kyk lank na haar.“Wat gaan aan?”
“Diena, jy is die enigste wat vir my omgee, behalwe mammie, natuurlik. Ek mis haar so baie.”
Hulle staan agter die tentflap.
“Maar ek kan nie nou vertel nie. As my broer my hier sien, is jy weer in die moeilikheid.”
Diena wys haar 'n paar stukke lap.
“Ek is moeg vir die lewe, Diena. Moeg vir siek, perverse mans met die mentalitiet van 'n agterstraathond.”
“Hoekom stop jy dit nie?” vra Diena toe Ragab haar betaal.
“Hoe? Hoe moet ek dan leef?”
Diena het nie 'n antwoord nie. Dan lag Ragab gemaak-vrolik met 'n bitter klankie agterna.
By die huis pak sy alles weg en gaan lê opgekrul op haar lae bed. Sy is oormoeg en raak dadelik aan die slaap. Na die middaguur hoor sy in haar drome weer die gesprek waarna sy geluister het terwyl sy groente uitgesoek het.
“Daardie spul Jode het toe nie in die woestyn gevrek nie.”
“Veertig jaar het hulle sterk gemaak.”
“Onmoontlik. Niemand kan die moordende woestyn veertig jaar oorleef nie.”
“Hulle God het hulle bewaar. Hy het hierdie land aan hulle belowe.”
“Ag snert. Daardie tyd was Hy glo ook hulle God en tog het hulle druipstert teruggedraai die woestyn in.”
Dit was die stem van Fahim wat sy by haar weggejaag het.
'n Volgende man het bygekom:“Hulle God het hulle gehelp om die Amoriete, Og en Sihon, oorkant die Jordaan, te verslaan.”
“Ja,” het nog iemand geantwoord. “Niemand het oorgebly nie.”
Ragab word wakker. Haar eerste gedagte bring 'n oomblik se warmte om haar hart. Mag die God van daardie volk my genadig wees, gaan dit deur haar gedagtes.
Laat daardie middag maak sy gereed vir die nag. Sy verf haar oë ekstra donker om die neerslagtige wolk om haar te probeer skeur. Die eerste ou man se hande is sweterig en sy asem hyg. Sy tong tas oral op haar vel voordat hy haar neem. Sy gee meganies toe. Later lê sy in die arm van 'n veel jonger man.
“Vir wat is jy vanaand so koud?”
Ragab glimlag effens. “Jammer.”
Haar vingers begin hom streel, outomaties masseer sy hom. Dan laat sy hom toe om haar nuwe rok uit te trek. Vir 'n oomblik bewonder hy die mooi lap.
“Jy moes 'n naaldwerkster geword het.”
“Hoekom?”
“Dan kon ek jou my vrou gemaak het.”
Na middernag is sy 'n tyd lank alleen. Saam met die trane oor haar wange, loop haar gedagtes terug na haar versugting van vroeër.
“Hoe kon ek so vermetel wees?” vra sy aan die mure. “Hoe kan so 'n groot God my genadig wees?”
Sy weet tog niemand is ooit 'n hoer genadig nie. Dan skeur dit deur haar wese: die idee dat sy mooi genoeg is dat iemand haar sy vrou wou maak. As sy net nie 'n hoer was nie!
Word vervolg
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joufiksie volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?
