OUTsurance
joufiksie

Adéle van der Berg
deur Adéle van der Berg




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

'n Vrou se smart

Die Egiptiese vrou het nie die Joodse vrou se geprewel verstaan as sy met haar God praat nie – maar sy het instinktief geweet dat dié God sal keer dat die Jode enige leed aangedoen word.

Sy sit op 'n saggebreide karos onder die skuiling. Snikke ruk haar stom skouers, trane loop stil van haar toegeswelde oë af. Haar seun lê voor haar, bedek met 'n linnelap. Rayda vou weer die lap terug om vir oulaas sy gelaatstrekke in te drink. Hy was haar enigste; ander is nie deur die gode aan haar gegun nie. Hulle het twee dogtertjies begrawe wat sy nie eers die volle dragtyd kon dra nie. Daarom was hierdie eersgeborene, haar seun, haar alles.
Gister het Hannah, die Joodse vrou wat haar grootgemaak en by haar kom werk het nadat sy getroud is, haar gesmeek om net nog een keer weer na haar te luister en 'n bokkie te laat slag. Dan moes sy van die bloed aan die deurkosyn smeer.
Oor al die jare het Hannah baie dinge met haar gedeel. Toe sy nog kind was, het sy soms grootoog gesit en luister na die vertellings oor haar God. Sy het ouer geword en besef hoekom haar ouers die Joodse vrou belet het om oor haar God te praat: want sowat van 'n verbeelding darem!
Die peste van die afgelope weke trek haar gedagtes terug na Hannah se vertellings van jare gelede en sy dink skielik anders oor die Jode hier langs hulle. Beangs, tot die dood toe, snak sy na haar asem want haar kind is dood. En Hannah het kom vertel dat haar kind gaan sterf! Sy het Rayda gesmeek om na haar God te luister. Maar Eduo het ingekom en haar summier weggejaag.
En nou is hy oppad om hulle te kom haal sodat hulle hul lieflingseun te ruste kan gaan lê. En niemand kan help nie, niemand kan troos nie want haar familie en al die bure treur en huil oor hul eie kinders. Die stegies en paadjies hang vol gille en geween.

Rayda se hart is stukkend en sy is te moeg om nóg te huil. Haar man wil hê sy moet op die waentjie klim waarmee hul seun na sy graf geneem is, maar sy wil nie daar bo sit nie. Dis in elk geval nie te ver om te loop nie en hulle is soveel groepies wat nog heen en weer op die pad is. Sy het daar by die grafte besef dat daardie God van die Jode nie net kinders gevat het nie: Al die oudste kinders is dood, maak nie saak hoeveel oesjare hulle al beleef het nie. Sy is dankbaar Eduo is nie die oudste nie. Hy gaan nou eers help om sy oudste broer ook na die grafte toe te neem.
Met die wete dat sy dan heeltemal alleen gaan wees, klem vrees styf om haar hart. Meeste ander mense het nog kinders, maar wie gaan haar bystaan, sou haar man iets oorkom?

Rayda het agter die afskorting op haar bed gaan lê en probeer om kalm oor die afgelope weke se gebeure na te dink. Hierdie Jode bly glo al honderde jare in Goosen. Blykbaar was daar net 'n handjievol van hulle wat hierheen getrek het, maar deur die geslagte van haar voorouers se lewe heen, het hulle vermeerder tot derduisende mense. Sowat 80 oesjare gelede het die farao bevel gegee dat al hulle pasgebore seuntjies doodgemaak moet word. Haar ouma het haar van daardie jare se smartlike geween vertel en tot 'n paar weke gelede nog het Hannah vertel hoe haar volk se moeders treur oor elke seuntjie wat vermoor word. Syself het grootoog geluister na haar vertelling oor die mishandeling wat die farao op die Jode afdwing. Sy weet presies hoe hard en wreed die Egiptiese mans is.

Rayda verlang na Hannah. Sy is lief vir haar. Die Joodse vrou het gehelp om haar groot te maak en saam met haar gehuil oor die dood van haar dogtertjies. Elke keer wanneer haar gemoed wou ingee onder haar smart, was Hannah daar om haar te ondersteun. Sy het saam met haar gegaan wanneer sy aan hul gode geoffer het, maar nie deelgeneem aan die rituele nie. Dan het Hannah eenkant op haar knieë gaan sit en geprewel-praat tot sy klaar was. Rayda het haar eenkeer gevra hoekom sy so met haarself praat, maar kon nie verstaan toe sy verduidelik dat sy haar God vra om haar, Rayda, se smart ligter te maak nie. Die gode van haar voorouers is haar dan goedgesind en het elke keer haar trane minder gemaak, haar weer moed gegee vir die toekoms.

Eduo storm die huis binne en begin sy krygsuitrusting aantrek. So tussendeur vertel hy dat hulle daardie Jode gaan terughaal, of hulle almal uitroei. Die onnosele klomp mense is glo vasgekeer teen die see, sis hy smalend. Rayda besef skielik die gevaar waarin hy gaan verkeer – want sy weet net dat daardie God van Hannah nie sal toelaat dat een van die Jode skade aangedoen word nie.
“Moet nie gaan nie, asseblief!” roep sy uit. Haar man kyk haar ongelowig aan. “Is jy mal?” vra hy bars en storm die vertrek uit. In die deur sak sy op 'n hopie neer. Kan dit die man wees met wie sy al 12 oesjare getroud is? Nog altyd kon sy haar koester in sy omgee, sy liefde vir haar ervaar. Sy weet dat min vroue dieselfde geluk het want meeste van hul huwelike is deur die gode gereël. Eduo het egter iets in hom wat gemaak het dat sy hom liefgekry het. Hul lewe saam is baie gelukkig en die swaar wat hulle deurgegaan het, het hulle net nader aan mekaar gebring.
Maar skielik is hy vir haar 'n vreemdeling.

Haar suster gooi nog hout op die vuur en draai haarself weer toe in 'n warm tjalie. Rayda soek 'n boodskap tussen die sterre maar net die sagte huilklanke van haar ma en ander familie weerklink in die vuur se lig. Die mans wat nie saam is woestyn toe nie, dwaal rond. Niemand dink aan slaap nie. Haar pa is lankal dood, maar sy weet hy sou anders ook gister saam met haar oudste broer gesterf het.
Die nag is lank, die luggie koud en die sterre hang helder naby die aarde. Met die eerste môrelig gaan hulle voort met die noodsaaklikste take in en om hul huise. Die krygers behoort teen laatmiddag terug te wees. Die stof onder die ysterkrygswaens sal van veraf gesien word. Skielik voel Rayda hoendervleis. Sy kan nie beweeg nie, matelose angs laat haar keel toetrek. Die son sak al toe enkele ruiters aangejaag kom. Wanneer die eerste mense die nuus van die krygers se verdrinking hoor,weerklink geskreeu en weeklaag tot teen die kranse van die verste rante. Egipte is in rou gedompel, die magtige nasie platgeslaan.
Rayda laat sak haar huis se deurgrendel en trek die skerms voor die vensteropeninge toe. Slegs die een naaste aan haar slaapplek waardeur sy na die Ooste kan uitkyk, los sy oop. Sy wil niemand sien nie. Dan sak sy neer op haar knieë soos sy Hannah gesien doen het. Sy weet nie wat om te sê nie, maar hoop dat daardie God haar sal raaksien. Iewers in die nanag raak sy aan die slaap en so vind die son haar in 'n bondeltjie, streel oor haar hare en omhels haar met sy hittekombers.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?