joufiksie

Johnny Malgas
deur Johnny Malgas




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Tweestryd

Iets het in die gang geraas en sy het uitgeglip met 'n vinnige soen op die voorkop – met die woorde wat rillings deur sy lyf gestuur het: “Ek is die suster.”

Die winter begin saggies onderdeur die deur inkruip en Hannes trek die gordyne toe – hierdie winter gaan 'n koue een wees, dink hy. Hy staan in sy woonvertrek in sy 1970-dorpshuis in Bloemfontein, omring deur skilderye teen die muur. Een van hulle geskilder deur 'n ene M. Maya. Hy stap verby die skildery wat 'n verlore nagtegaal uitbeeld, met 'n halfdooie boom verlig deur die maanlig in die agtergrond. Hy stap die kombuis binne en sit die ketel aan. Hy vind homself waar hy hardop roep: “Wil jy ook 'n koppie . . . ”
Dan eers onthou hy dat sy nie meer daar is nie.
Dit is nie die eerste keer dat Hannes roep na iemand wat nie meer daar is nie. Hy onthou hoe hy haar die laaste keer gegroet het: sy het met trane in haar oë by die voorhek gestaan sonder om terug te wuif toe hy by die voorhek uit verdwyn.
Sy was die vrou van sy drome. Hy het haar in Stellenbosch ontmoet waar sy in die Afrikaanse Mediaklas naby hom gesit het. Hulle het dadelik goed oor die weg gekom en kon ure lank gesels oor die dinge van die lewe, of net op die gras by die Rooiplein lê en verskillende filosofiese teorië op mekaar uittoets. Sy’t gewoonlik met haar kop op sy skoot gelê en met haar groot groen oë vir hom gesê dat hy perfek was. Hoogs verlief. Regte studenteliefde.
Dit was dus net logies dat Hannes later haar ouers sou ontmoet: daardie eerste paar dae het hy homself goed van sy taak gekwyt en die regte dinge op die regte tyd gesê en gedoen, maar het egter gesukkel om met haar tweelingsuster oor die weg te kom. Die identiese tweelingsuster wat in die Paarl kuns geswot het. Sy het hom van die begin af snaaks behandel en dit het vir hom gelyk asof sy die enigste een in die gesin was wat hom nie goedkeur nie. Sy het wel geglimlag en lekker saam gesels as almal by was, maar sodra sy en Hannes alleen in die vertrek was het sy afsydig geword. Asof sy hom wou vermy.
Toe gebeur daardie aand: Na sy laatnag geselsies en vrytjie, het Hannes gaan inkruip, maar toe gaan sy kamerdeur op 'n skrefie oop. 'n Figuur kom binne. Hy voel hoe die figuur langs hom in die bed klim en styf teen hom kom lê. Hy het die reuk geken. Dit was sý tweeling. Sy het hom hartstogtelik begin soen en haar vinger voor sy mond gehou as hy iets wou sê. Hy het haar lyf verken en vir die eerste keer met haar hele wese liefde gemaak. Dit was asof hy haar opnuut leer ken het. Iets het in die gang geraas en sy het uitgeglip met 'n vinnige soen op die voorkop–  met die woorde wat kouerillings deur sy lyf gestuur het: “Ek is die suster.”
Hannes kon daardie nag nie 'n oog toemaak nie. Wat sou hy die volgende oggend doen? Wat sou hy sê? Sou sy iets sê?
Maar toe hy die volgende oggend by die ontbyttafel aansit, was dit soos elke ander oggend. Sy eie tweeling het hom met haar vriendelike lewenslus gegroet en die suster het hom net aangegluur. Die res van die week het op die oog af glad verloop, maar binne in hom het dit gewoed.
Toe die kuier verby is en hulle moes groet, het sy hom gesoengroet maar ook niks gesê nie. Hannes en sy tweeling het in die motor geklim en terug Stellenbosch toe gery.

Twee jaar later het hulle albei graad gevang. Hul liefde het gegroei en Hannes het by tye van daardie voorval vergeet. Die tweelingsuster is die volgende jaar Engeland toe om haar kunsloopbaan te vestig, en Hannes het haar daarna nie weer gesien nie. Sy kon ook nie Hannes-hulle se troue bywoon nie as gevolg van een van haar kunsuitstallings in Europa.

Hannes kon dit regkry om soms vir maande lank daarvan te vergeet, maar is elke keer daaraan herinner deur een van die skilderye wat aan hulle geskenk was. Dit was gewoonlik die een of ander abstrakte uitbeelding van die fisieke. Een was uiters eksplisiet, met twee identiese gedroggies wat aan 'n frisgeboude figuur se voete sit. Dit was dan ook asof hiérdie skilderye 'n invloed op sy vrou gehad het: Sy het stiller geword en Hannes het die skuldgevoel in hom dieper probeer begrawe. Die stilte het deur die loop van die jare erger geword. Hy het al by verskeie mense gehoor dat dinge partykeer verander in die eerste paar jaar na die troue, maar hul situasie was vir hom buitegewoon. Die skuldgevoel in Hannes het al hoe erger geword, maar hy kon nooit die moed bymekaar skraap om dit uit te laat nie. Dit was in elk geval te laat en hy sou nie kon verduidelik waarom hy stilgebly het nie. Die stilte tussen hulle het dus vermeerder en so ook die gaping tussen hulle.
Toe sy hom eendag sê dat hulle moet gesels, was hy oortuig daarvan dat sy uitgevind het. Haar suster moes die stilte verbreek het, het hy gedink. Maar toe kom die woorde wat hom soos 'n vuishou slaan: “Hannes, daar is iemand anders,” het sy gebieg.
Hy het gehoor hoe hy vra wie dit is. “Dis Dewald. Jou broer. Dit het verlede jaar begin; tydens die vakansie saam met jou familie.”

Hannes stap die kombuis binne en sit die ketel aan. Hy vind homself waar hy hardop roep: “Wil jy ook 'n koppie . . . ”
Hy onthou dan eers dat sy nie meer daar is nie. Hy skink sy koffie en gaan sit soos gewoonlik agter sy rekenaar. Terwyl hy wag dat die rekenaar aanskakel, vang sy oog die skildery in die skerm se refleksie. 'n Frisgeboude figuur, gehurkend by slegs een gedroggie.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?