Carina DeSwardt

deur Carina DeSwardt




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Daardie aand voor slaaptyd gaan Casper bed toe sonder om sy tande te borsel. Hoekom sal ek omgee as die Tandmuis in elk geval nie kom nie? dink hy.

Casper kyk vir die honderste keer onder sy bed: Dit is dan nog steeds daar! dink hy teleurgesteld.
Casper het sy eerste tand gewissel en dit binne sy skoolskoen gesit. Dit blink sommer in die maanlig! 
Die Tandmuis is veronderstel om vir hom geld te bring as hy die tand in sy skoen sit. Casper het besluit dat hy nie gaan slaap totdat die Tandmuis gekom het nie. Hy wil sien wanneer die Tandmuis kom om die geld in sy skoen te sit.

Mamma loer om die hoek van sy kamerdeur: “Slaap jy nog nie?”
“Mamma, waarom maak die Tandmuis tande bymekaar?” wil Casper weet.
“Want hy wil 'n groot huis bou. Hy gee net geld vir gesonde sterk tande,” antwoord sy. “Maar jy moet nou gaan slaap, dis al laat. Goeie nag!”
Mamma maak die deur saggies agter haar toe.
Casper probeer baie hard om wakker te bly, maar hy raak tog aan die slaap.
Hy word eers die volgende oggend wakker toe hy Mamma se stem vanuit die kombuis hoor roep: “Ontbyt is reg in vyf minute!”

Hy spring vinnig uit sy bed en kyk binne in sy skoen: Maar die tand is dan nog steeds daar!
Hy hardloop vinnig by die trappe af kombuis toe. “Ma,” vra hy teleurgesteld, “hoekom het die Tandmuis nie vir my geld gelos nie?”
“Agge nee!” Mamma kyk verbaas na Pa wat koerant lees. “Het jy dit gehoor, my Man? Die Tandmuis het toe nooit gisteraand gekom nie!”
Pa loer agter sy koerant uit. “Die Tandmuis was seker baie besig. Maar ek is seker hy sal vanaand kom.”
Casper is ontsteld: “Ek glo julle nie! Van nou af gaan ek nie meer my tande borsel nie!”
Hy val in sy stoel neer en gooi sommer ekstra suiker oor sy pap.

Daardie aand voor slaaptyd gaan Casper bed toe sonder om sy tande te borsel.
Hoekom sal ek omgee as die Tandmuis in elk geval nie kom nie? dink hy.
Hy spring kwaad in die bed, maar hoor toe iets onder sy bed hardloop: Hy kyk, maar daar is niks nie – net die skoen met die tand daar binne.
Casper probeer weer om wakker te bly, maar dis te vergeefs. Hy raak aan die slaap. Die volgende oggend toe hy wakker word is die tand steeds in die skoen.
“Hoekom, Mamma?” vra hy teleurgesteld.
“Het jy gisteraand jou tande geborsel?” vra Mamma. “Jou asem ruik darem baie sleg, jong!”

Daardie aand borsel Casper sy tande twee keer. Miskien het die Tandmuis besluit om nie te kom nie, omdat ek nie my tande geborsel het nie, dink hy.
Toe kry hy 'n blink idee: Hy haal die tand onder sy bed uit, borsel dit goed en sit dit versigtig terug in sy skoen. Casper klim in die bed en maak sy oë toe. Hy was te moeg om nog vir die muis te wag.

“Koek-a-doe-del-doo!” maak die hoederhaan vir Casper die volgende oggend wakker. Hy kyk vinnig onder sy bed: Die tand is weg! In die plek van die tand is geld! Hy hardloop vinnig by die trappe af.
“Kyk wat het ek gekry!” Hy swaai die geld in die lug rond en spring opgewonde op en af.
“Sjoe! Dis darem baie geld!” sê Mamma.
“Ja, dis omdat ek my tande geborsel het!”
Toe hardloop Casper vinnig badkamer toe om sy tande te borsel en seker te maak of hy nie dalk nog los tande het om te wissel nie.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend