druk hierdie bladsy uit
e-pos hierdie artikel

 


Maart 2009
Jaargang 1 Uitgawe 8

 

 

  My naam is Stefan

joufiksie
hoofinhoud
terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel


deur
Karin Rademeyer

Die klank van my naam stop my in my spore en ek draai versigtig om. Ek hou my sleutelhouer se mini-tuisgemaakte skokstok in my hand en met my duim druk ek vinnig die aanknoppie. My broer het my verseker sy uitvindsel sal 'n man se juwele in mieliepitte kan verander.

 

 

Stefan was een van daai mense wat ek onthou het die oomblik toe ons ontmoet het: Dit is asof ons in 'n vorige lewe saam konfyt gekook het. Dit was heeltemal per toeval dat ons mekaar ontdek het.
Dit was een van daai alleenaande vir my. Nadat ek vir 'n tweede rondte deur ál 80 kanale niks kon vind wat my oog vang nie, wip ek my kuite. Enigste opsie was om voete te klap Video Den toe.

Met my gunsteling rondlê-huisbroek – die een met die gaatjie nét links van mý gaaitjie – staan ek die DVD-rak en bekyk. Ek was beslis nie 'n musiek-speel-en-alles-beweeg-in-stadige-aksie prentjie van skoonheid nie: my bos hare was in 'n gekoekte bol vasgemaak met 'n bright oranje rekkie, geen grimering nie, 'n Metallica T-hemp wat al uitgewas is en tekkies sonder kouse. Die keuse van DVD’s was baie beperk. Dis seker te wagte 9 uur op 'n Vrydagaand. Na ek omtrent vir 10-minute lank al wat 'n DVD-houer gelees het, gee ek toe maar eerder op.
Dan vir Plan-B.
Kyk, 'n mens moet altyd 'n Plan-B hê. Die ding is: mý Plan-B in Video Den is altyd dieselfde: Moulin Rouge.
Ek kan al klaar hoor hoe Werner van agter die toonbank weer een of ander comeback gaan hê oor my keuse. Dit is vir hom moeilik om te verstaan hoe iemand 'n fliek meer as een keer kan kyk. Wat nog van 14 keer.

Vierde rak, derde DVD van links af. My hand gryp arrogant na die bekende huisvesting van Nicole Kidman en Ewan McGregor sonder om te kyk. Maar kyk, kyk ek vinnig toe ek die warmte van 'n vreemde hand voel. Gekoppel aan die hand sien ek 'n Iron Maiden T-hemp,  met 'n denimbroek vol verf en 'n paar plakkies wat sewe kontinente se grond ken.
“Jammer, ek het jou nie gesien nie,” reageer ek met 'n onmiddellike bewustheid van my rookasem, gaaitjie in my broek en gekoekte hare. Hy staan woordeloos met Nicole en Ewan in sy hand. Ons oë ontmoet en vir daai intense oomblik verdwyn die DVD-rakke, Werner by die toonbank, die groot poster van Sex and the City en die rak met mikrogolf-springmielies. Dit is net ek en hy. Gemaak vir mekaar tot in die fynste detail.

Ek kan ons toekoms duidelik in sy oë sien: Ek sien hoe hy soos Leonardo saam met my op die punt van die Titanic staan; Ek sien hoe die see se golwe oor ons liggame breek soos in From here to Eternity; Ek sien hoe ons 'n lang en passievolle soen deel soos Ryan Gosling en Rachel McAdams in The Notebook.
Ek sien hoe ek en hy soos Demi en Patrick in Ghost ons hande in die klei invleg.
Ek sien hoe hy my soos Richard Gere in Officer and a Gentleman by die werk kom optel en in sy arms wegdra.

“Ek sal voorstel dat jy volgende keer kyk waar jy vat dame.”
Sonder waarskuwing begin my verbeeldingsbeelde te smelt soos 'n film wat vashaak in 'n ou projektor. Meneer-pasgemaak vir my loop weg met my Moulin Rouge en al wat ek by my oor het is die koue van sy skouer.

“Sooooorrrryyy,” snip ek sarkasties terwyl ek kniediep in die saagsels van ons toekoms staan. Hoe simpel kan mens tog nie wees as jy in die movies lewe nie? Realiteit suig. Met die irriterende gedagte van ure se kanaal-rondspring wat vir my voorlê, storm ek met gaatjie-in-die-broek en al uit die Video Den uit. Gelukkig was ek per voet daar, anders het ek daai Nissan gespin soos Vin Diesel in The Fast and the Furious.

Die woonstel kom vinnig nader soos ek my teleurgestelde lyf voortsleep in my doellose toekoms in. Doelloos, romansloos, passieloos, seksloos – klink omtrent soos die perfekte beskrywing op my grafsteen. Ek was nog besig om my ma se geskokte gesig by my begrafnis te visualiseer, toe ek skielik besef dat ek nie alleen in die straat voortsleep nie.
Daai gevoel van agtervolg kruip soos 'n Hitchcock-fliek van die gaatjie in my broek tot verby my oranje haarrekkie. Omkyk sal ek nie waag nie, en ek verstel my spoed na vrekbang toe. Soos wat ek vinniger beweeg, hoor ek hoe die spore agter my ook verspoed. Holy Macaroni, maar nou kom al wat 'n rillerfliek in my kop op. My agtervolger verander in my verbeelding van Jason na Freddy na Count Dracula na Psycho na Hellriser. Dan praat ons nog nie eers Zombie nie.

“Tania!”
Ek versnel van draf na hol.
“Tania! Stop.”
Die klank van my naam stop my in my spore en ek draai versigtig om. Ek hou my sleutelhouer se mini-tuisgemaakte skokstok in my hand en met my duim druk ek vinnig die aanknoppie. My broer het my verseker sy uitvindsel sal 'n man se juwele in mieliepitte kan verander.

“Stop net daar. Moet nie nader kom nie. Ek weet hoe om hiérdie ding te gebruik.” 
Vir 'n oomblik is daar absolute stilte. Die figuur staan doodstil. Sy gesig onsigbaar.
Na ek vir amper 'n minuut my Uma Thurman-Kill Bill-pose gehou het, praat die figuur.
“Ek wil nou nie dom klink nie maar daai dingetjie lyk meer soos 'n tamponhouer as 'n wapen. Ek gaan jou nie aanval nie – ek wil net iets vir jou gee.”
“Hoe ken jy my naam en wat wil jy vir my gee? 'n STD?”
Die figuur bars uit van die lag terwyl ek nog die Kill Bill-pose hou.
“Nee, silly. Ek het vir jou 'n DVD. Ek het gesien hoe jy leë hande by die Video Den uitloop. Werner het vir my jou naam gegee.”
“Wat is dit?” vra ek met my juwele-krimp-wapen gerig op hom.
“Dit is Moulin Rouge. Ek het daai ongeskikte man omgekoop om dit vir my te gee. Ek het die fliek al 14 keer gesien en ek weet jy sal dit meer waardeer as hy.”

My hart mis 'n slag en ek laat sak my hand: 'n golf van elektrisiteit skiet deur my liggaam toe ek my sleutels in my sak druk. Alles word donker en my lyf ruk hard op die grond neer. Soos ek ruk, ruk die skokstok rond in my gunsteling broek se sak. Na nog 'n ruk verloor ek my bewussyn.

Daarna volg daar net flitse en hier en daar 'n woord of twee.
“Tania, byt vas.”
“Tania, hoor jy . . . ? ”
“Tania, die ambulans is amper . . .”
“Tania, ek sal vir jou wag....”

Nou sal jy kan dink dat 'n paar volt uit iets wat soos 'n tamponhouer lyk mens se hart kan laat staan. Goed ja, ek is wél 'n paar keer na mekaar geskok, maar nie ek óf my broer sou dit kon raai nie. Veral nie dat dit 'n vrou se roos in 'n rosyntjie kan verander nie.

Twee dae na my skokstok-aanval maak ek vir die eerste keer my oë weer oop – met alles om my so 'n bietjie uit fokus. Eers kon ek die drup stadig uitmaak, en toe die man wat my voete onder my uitgeskop het, getrou langs my bed. 

“Hallo daar Ninja Tania. My naam is Stefan,” sê hy.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] jouhoofstories ] jousê ] jourubrieke ] joupolitiek ] joumenswees ] joutuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joufiksie ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
vorige uitgawes
jouwêreld Facebook-groep