|
Stefan was een van daai mense wat ek onthou het
die oomblik toe ons ontmoet het: Dit is asof ons
in 'n vorige lewe saam konfyt gekook het. Dit
was heeltemal per toeval dat ons mekaar ontdek
het.
Dit was een van daai alleenaande vir my. Nadat
ek vir 'n tweede rondte deur ál 80 kanale niks
kon vind wat my oog vang nie, wip ek my kuite.
Enigste opsie was om voete te klap Video Den
toe.
Met my gunsteling rondlê-huisbroek – die een met
die gaatjie nét links van mý gaaitjie – staan ek
die DVD-rak en bekyk. Ek was beslis nie 'n
musiek-speel-en-alles-beweeg-in-stadige-aksie
prentjie van skoonheid nie: my bos hare was in 'n
gekoekte bol vasgemaak met 'n bright
oranje rekkie, geen grimering nie, 'n Metallica
T-hemp wat al uitgewas is en tekkies sonder
kouse. Die keuse van DVD’s was baie beperk. Dis
seker te wagte 9 uur op 'n Vrydagaand. Na ek
omtrent vir 10-minute lank al wat 'n DVD-houer
gelees het, gee ek toe maar eerder op.
Dan vir Plan-B.
Kyk, 'n mens moet altyd 'n Plan-B hê. Die ding is:
mý Plan-B in Video Den is altyd dieselfde:
Moulin Rouge.
Ek kan al klaar hoor hoe Werner van agter die
toonbank weer een of ander comeback gaan
hê oor my keuse. Dit is vir hom moeilik om te
verstaan hoe iemand 'n fliek meer as een keer kan
kyk. Wat nog van 14 keer.
Vierde rak, derde DVD van links af. My hand gryp
arrogant na die bekende huisvesting van Nicole
Kidman en Ewan
McGregor sonder om te kyk. Maar kyk, kyk ek
vinnig toe ek die warmte van 'n vreemde hand
voel. Gekoppel aan die hand sien ek 'n Iron
Maiden T-hemp, met 'n denimbroek vol verf en 'n
paar plakkies wat sewe kontinente se grond ken.
“Jammer, ek het jou nie gesien nie,” reageer ek
met 'n onmiddellike bewustheid van my rookasem,
gaaitjie in my broek en gekoekte hare. Hy staan
woordeloos met Nicole en Ewan in sy hand. Ons oë
ontmoet en vir daai intense oomblik verdwyn die
DVD-rakke, Werner by die toonbank, die groot
poster van Sex and the City en die
rak met mikrogolf-springmielies. Dit is net ek
en hy. Gemaak vir mekaar tot in die fynste
detail.
Ek kan ons toekoms duidelik in sy oë sien: Ek
sien hoe hy soos Leonardo saam met my op die
punt van die Titanic staan; Ek sien hoe die see
se golwe oor ons liggame breek soos in From
here to Eternity;
Ek sien hoe ons 'n lang en passievolle soen deel
soos Ryan Gosling en Rachel McAdams in The
Notebook.
Ek sien hoe ek en hy soos Demi en Patrick in
Ghost ons hande in die klei invleg.
Ek sien hoe hy my soos Richard Gere in
Officer and a Gentleman by die werk kom
optel en in sy arms wegdra.
“Ek sal voorstel dat jy volgende keer kyk waar
jy vat dame.”
Sonder waarskuwing begin
my verbeeldingsbeelde te smelt soos 'n film wat
vashaak in 'n ou projektor. Meneer-pasgemaak vir
my loop weg met my Moulin Rouge en al wat
ek by my oor het is die koue van sy skouer.
“Sooooorrrryyy,” snip ek sarkasties terwyl ek
kniediep in die saagsels van ons toekoms staan.
Hoe simpel kan mens tog nie wees as jy in die
movies lewe nie? Realiteit suig. Met die
irriterende gedagte van ure se kanaal-rondspring
wat vir my voorlê, storm ek met
gaatjie-in-die-broek en al uit die Video Den
uit. Gelukkig was ek per voet daar, anders het
ek daai Nissan gespin soos Vin Diesel in The
Fast and the Furious.
Die woonstel kom
vinnig nader soos ek my teleurgestelde lyf
voortsleep in my doellose toekoms in. Doelloos,
romansloos, passieloos, seksloos – klink omtrent
soos die perfekte beskrywing op my grafsteen. Ek
was nog besig om my ma se geskokte gesig by my
begrafnis te visualiseer, toe ek skielik besef
dat ek nie alleen in die straat voortsleep nie.
Daai gevoel van agtervolg kruip soos 'n
Hitchcock-fliek
van die gaatjie in my broek tot verby my oranje
haarrekkie. Omkyk sal ek nie waag nie, en ek
verstel my spoed na vrekbang toe. Soos wat ek
vinniger beweeg, hoor ek hoe die spore agter my
ook verspoed. Holy Macaroni, maar nou kom
al wat 'n rillerfliek in my kop op. My
agtervolger verander in my verbeelding van Jason
na Freddy na Count Dracula na Psycho na
Hellriser. Dan praat ons nog nie eers Zombie
nie.
“Tania!”
Ek versnel van draf na hol.
“Tania! Stop.”
Die klank van my naam stop my in my spore en ek
draai versigtig om. Ek hou my sleutelhouer se
mini-tuisgemaakte skokstok in my hand en met my
duim druk ek vinnig die aanknoppie. My broer het
my verseker sy uitvindsel sal 'n man se juwele
in mieliepitte kan verander.
“Stop net daar. Moet nie nader kom nie. Ek weet
hoe om hiérdie ding te gebruik.”
Vir 'n oomblik is daar absolute stilte. Die
figuur staan doodstil. Sy gesig onsigbaar.
Na ek vir amper 'n minuut my Uma Thurman-Kill
Bill-pose gehou het, praat die
figuur.
“Ek wil nou nie dom klink nie maar daai
dingetjie lyk meer soos 'n tamponhouer as 'n
wapen. Ek gaan jou nie aanval nie – ek wil net
iets vir jou gee.”
“Hoe ken jy my naam en wat wil jy vir my gee? 'n
STD?”
Die figuur bars uit van
die lag terwyl ek nog die Kill Bill-pose
hou.
“Nee, silly. Ek het vir jou 'n DVD. Ek het
gesien hoe jy leë hande by die Video Den
uitloop. Werner het vir my jou naam gegee.”
“Wat is dit?” vra ek met my juwele-krimp-wapen
gerig op hom.
“Dit is Moulin Rouge. Ek het daai ongeskikte man
omgekoop om dit vir my te gee. Ek het die fliek
al 14 keer gesien en ek weet jy sal dit meer
waardeer as hy.”
My hart mis 'n slag en ek laat sak my hand: 'n
golf van elektrisiteit skiet deur my liggaam toe
ek my sleutels in my sak druk. Alles word donker
en my lyf ruk hard op die grond neer. Soos ek
ruk, ruk die skokstok rond in my gunsteling
broek se sak. Na nog 'n ruk verloor ek my
bewussyn.
Daarna volg daar net flitse en hier en daar 'n
woord of twee.
“Tania, byt vas.”
“Tania, hoor jy . . . ? ”
“Tania, die ambulans is amper . . .”
“Tania, ek sal vir jou wag....”
Nou sal jy kan dink dat 'n paar volt uit iets wat
soos 'n tamponhouer lyk mens se hart kan laat
staan. Goed ja, ek is wél 'n paar keer na mekaar
geskok, maar nie ek óf my broer sou dit kon raai
nie. Veral nie dat dit 'n vrou se roos in 'n
rosyntjie kan verander nie.
Twee dae na my skokstok-aanval maak ek vir die
eerste keer my oë weer oop – met alles om my so
'n bietjie uit fokus. Eers kon ek die drup stadig
uitmaak, en toe die man wat my voete onder my
uitgeskop het, getrou langs my bed.
“Hallo daar Ninja Tania. My naam is Stefan,” sê
hy. |