|
Milandi is vyf jaar oud. Sy speel elke dag met
haar poppe – sy is vir almal lief, maar haar
gunsteling pop se naam is Katrien. As sy nie pop
speel nie, hou sy ook daarvan om buite in die
tuin tussen al die mooi blommetjies te speel en
na die pragtige skoenlappers te kyk.
Wanneer 'n skoenlapper op 'n
blom gaan sit, is Milandi baie opgewonde – dan
stap sy stadig op haar toontjies nader om die
pragtige kleure van die skoenlapper te bewonder.
As die skoenlapper na 'n volgende blom vlieg,
volg sy hom versigtig sodat hy nie sal skrik nie.
Sy het nog nooit probeer om een van hulle te
vang nie, want sy is te bang sy maak hulle fyn
vlerkies seer.
Een oggend sien sy die mooiste, mooiste
skoenlapper met die helderste kleure wat sy nog
ooit gesien het. Soos die skoenlapper van blom
tot blom vlieg om kossies te kry, trippel
Milandi al agter hom aan.
Dan vlieg die skoenlapper oor die heining, en
Milandi is vinnig by die tuinhekkie uit – al
agter die skoenlapper aan. Sy is egter só
opgewonde oor die skoenlapper, dat sy nie eens
agterkom dat sy al hoe verder en verder van die
huis af wegdwaal nie. Maar skielik vlieg die
skoenlapper hoog die lug in op en verdwyn in die
verte. Milandi is baie teleurgesteld, maar omdat
sy so moeg is van al die gerondlopery agter die
skoenlapper aan, besluit sy om net daar te gaan
sit en eers bietjie te rus.
Dit is eers toe dat sy om haar rondkyk en besef
dat sy só ver weg van haar pappa en mamma se
huis weggedwaal het, dat sy nou glad nie meer
weet waar sy is, of hoe om terug tot by die huis
te kom nie.
Skielik raak sy bang, en begin net daar te huil.
"Waar is ek? Waar is my huis? Waar is my mamma
en pappa?" huil sy.
Wat gaan sy nou doen? wonder sy tussen haar
snikke deur. Gaan sy ooit weer haar mamma en
pappa sien?
Gelukkig sien 'n vriendelike tannie die hartseer
dogtertjie wat op die sypaadjie sit en huil, en
sy stap na haar toe.
"Wat makeer, dogtertjie?" vra die tannie
bekommerd. Milandi hou op huil en vertel vir die
tannie van die mooi skoenlapper wat sy agtervolg
het, en dat sy toe so ver van haar huis af
weggedwaal het dat sy nou glad nie meer weet
waar hulle huis is nie.
Die tannie sit haar arm om Milandi om haar te
troos: "Moenie huil nie, kleinding," sê die
tannie. "Ek sal jou help en dan is jy sommer
vinnig weer terug by die huis! Sê my, ken jy
julle adres?"
Milandi knik haar koppie terwyl sy die trane van
haar wangetjies afvee.
"Ja tannie," sê sy. "My mamma het al lankal vir
my ons adres geleer. Ek ken dit sommer uit my
kop uit!"
Vinnig gee sy die adres vir die tannie.
Die tannie glimlag: "Ag, dis glad nie te ver nie!
Gelukkig weet ek presies waar dit is! Kom, gee
my jou handjie dan stap ons terug na jou huis
toe!"
Die twee was sommer in 'n japtrap terug by
Milandi se huis, maar intussen het Milandi se ma
baie bekommerd begin raak toe sy agterkom dat
haar pragtige dogtertjie weg is. Sy het reeds
oral na haar gesoek, maar kon haar nie kry nie.
Sy was maar net te bly toe sy sien die tannie en
Milandi stap by die voorhekkie in.
"Wat het gebeur?" het haar mamma besorg gevra. "Waar
was jy die heeltyd?"
Milandi het haar vertel van die pragtige
skoenlapper wat sy agtervolg het, en dat sy baie
bang was toe sy agterkom dat sy verdwaal het.
En net daar het sy vir haar mamma belowe dat sy
nooit, nooit weer uit die erf sal loop agter 'n
skoenlapper aan nie.
Die volgende dag het Milandi en haar ma na die
boekwinkel in die winkelsentrum gegaan, en 'n
groot boek vol kleurryke skoenlappers gekoop.
Elke aand het haar mamma vir haar uit die boek
gelees, en sy kon die skoenlappers se kleure van
naderby op die bladsye bewonder.
|