joufiksie

Esther Fourie
deur Esther Fourie




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Sien jy die ding?

Ongelukkig het die laken in die slag gebly. Ongelukkig sy broek en hemp ook. Die vlamme verlig met 'n helder geelrooi skynsel die hele buitekamer terwyl ou Jan reg voor die oop deur staan.

Soms sien 'n mens 'n ding mos van ver af aankom en jy weet iets gaan gebeur, maar jy weet net nie wanneer, waar en hoe nie. So was dit ook op dié nuwejaarsoggend toe ou Jan wakker word.
Jan is een van daardie mense wat met eenslag moet wakker word. Hy moet sy oë oopmaak, besef die nag is verby en met sy hele liggaam gelyktydig opstaan. Niks van eers gaap en rek en wonder nie, of die kombers oopgooi en dan weer toepluk nie. Ook nie met stampe en stote regop kom, die pyne uit die rug vryf en pantoffels soek nie. Nee, as ou Jan wakker word, is hy reeds regop. Dis asof sy skoene in afwagting staan en trippel en sodra daardie nommer twaalf voete hul lê in die velskoene kry, knoop die rieme uit pure gewoonte.
Sy broek en hemp weet as’t ware dis nou aantrektyd. Die knope sukkel nie onder sy bonkige vingers nie. Hulle weet wat goed is vir hulle. Knoop vas en bly vas. Die kruisbande, reeds vas aan die broek, gly soos hekkiesatlete oor die skouerknoppe. Janee, wanneer ou Jan wakker word is hy reeds aangetrek. Of so sal dit altans vir die buitestaander lyk.

Maar dié nuwejaarsoggend was daar 'n ander neukery. Toe ou Jan wakker word, kramp sy tone. Nie effentjies asof dit maar net skeeftrek nie. Nee, sy tone kramp met mening. Elke toon staan in 'n ander windrigting. Die toonnaels lyk of hulle wil afdop so trek die tone teenoormekaar. Ou Jan skop hier en trek daar. Maar kramp, kramp daai tone. Dit pyn tot so skuins onderkant sy kniekoppe. Hy spartel en spook, maar niks help nie en met die gespartel raak hy in die beddegoed verstrengel. Hy beur regop, want hy dink as hy nou net op sy voete kan trap, sal die tone dalk weer in gelid spring.
Toe die ou steunend en kreunend regop kom, was die laken al halfpad om sy lyf gedraai. Ook maar 'n genade, want ou Jan glo nou nie eintlik aan slaapklere nie en intussen kramp sy tone dat hulle soos 'n ou tuinvurk lyk - die tande wat nie reeds afgebreek het nie, staan skoon windskeef. Met die opstaanslag ruk die laken die olielamp van die tafel af, op die presiese oomblik dat ou Jan in sy angs 'n vuurhoutjie trek om lig te maak. Toe die lamp breek, val die brandende vuurhoutjie ook. Pandemonium bars los.
Wat presies hierna gebeur het sal niemand ooit in kronologiese volgorde kan weergee nie. Maar voordat die vlamme aan sy voete kon lek, staan ou Jan met gekrampte tone en al binne-in sy velskoene reg voor die deur.
Ongelukkig het die laken in die slag gebly. Ongelukkig sy broek en hemp ook. Die vlamme verlig met 'n helder geelrooi skynsel die hele buitekamer terwyl ou Jan reg voor die oop deur staan. Sy silhoeët, tot in die fynste detail, sigbaar teen die helder lig en dis toe op daardie oomblik dat die melkmanne verby stap. Hulle bekyk die ding in die vroeë môre skemerte, maar kan nie kop of stert uitmaak van wat hul sien nie, want intussen kramp daai tone in stereo en ou Jan staan eintlik gebukkend en rondtrap van die pyn en ongemak. Die vlamme kom ook ongemaklik naby aan sy ontblote agterkant.

Die melkmanne steek vas en staar verstom na die gedoente. “Sien jy die ding wat ek sien?” vra die een vir die ander terwyl hulle teen die vlamlig iets probeer uitmaak van die spektakel.
“Ek weet nie wat jý sien nie, maar as ek die ding so bekyk, lyk dit amper soos die buurman se jong afrikanerbulletjie wat daar so rondtrap voor die vuur. Miskien moet ons die koeie vandag maar op stal hou!”

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?