|
"Ek mênage nie die bus nie, ek dryf hom!" het hy
altyd trots gesê. En, in daardie dae, het ons
nog nie geweet van operateurs nie.
Oukie het maar sy dinge gehad en sy kop het
altyd in 'n rigting gestaan waaruit jy hom nou
wragtig nie kon kry nie, hoe goed jou argument
nou ook al was. En dit het altyd gevoel asof hy
gewen het. Dit is juis deur meningsverskille met
hom wat my pa my hoeka die volgende geleer het:
"Never argue with a fool, people might not
notice the difference."
Woorde van goud soos ek al menige kere ondervind
het. Nou nie dat Oukie altyd 'n "fool" was nie,
maar darem.
So het ons almal in die dorp maar aan Oukie en
sy dinge gewoond geraak. En niemand het met hom
oor politiek of geloof gesels nie, want stry sal
jy stry.
Elke oggend, presies half-agt, het hy die
skoolkinders met die bus aangery en reg voor die
skoolhek afgelaai. En elke middag, presies om
twee-uur, het hy die bus parkeer voor die
landdroskantoor, onder die groot peperboom, net
langs die skool. Daar het hy dan gewag vir die
skoolklok om te lui teen kwart-oor twee.
Hierdie parkering was nogal 'n probleem: soos
dit nou maar was, was daar net drie
parkeerplekke voor die landdroskantoor. Die bus
het natuurlik twee plekke opgeneem en dan nog in
die koelte onder die peperboom, tradisioneel die
landdros se parkeerplek. Want dit word warm
bedags in die Suid-Vrystaat.
Oukie het aspris in die koelte geparkeer want
sodoende kan die bus so 'n bietjie afkoel vir
die bloedjies na 'n lang dag op skool. Dit was
nou net jammer dat hierdie nou dieselfde tyd was
dat die landdros by die kantoor aankom na
middagete. Nou moet die landdros wag tot om-en-by
half-drie en dan vinnig uitspring om sy motor
onder die boom te parkeer as Oukie met die bus
vol kinders ry. Soos dit nou maar met 'n besige
landdros gaan, het hy dit ook amper nooit gemaak
nie, en gereeld was sy moer dan suur oor die
warm en vernielde kar wat hy teen half-vyf huis
toe moet ry.
Nou het die landdros al vir Oukie benader met
die verstaning dat hy hom sal kan oorreed om
maar op 'n ander plek te parkeer. Maar watwou,
Oukie laat hom nie sommer só sê nie.
So jaag die twee dan mekaar gereeld vir 'n
staanplek onder die peperboom. En meer as
gereeld staan die bus al klaar as die landdros
in 'n stofwolk om die hoek kom. Maar 'n goeie
landdros is mos nou maar gewoond dat hy
alleenreg en alleensê het. Geen teëpratery in
die hof of daarbuite nie !
So gebeur dit dan weer vir die hoeveelste keer
dat die landdros, na 'n moeilike oggend in die
hof, weer na middagete die bus geparkeer sien
staan, op sý plek! "Vandag is die dag," besluit
die landdros net daar en stop in 'n stofwolk reg
langs die bus.
Oukie Williams is al uit die bus wanneer die
landdros uit die stofwolk aangestorm kom.
"Hierdie is 'n publieke parkeerarea!" begin die
landdros driftig.
"En ek is die publiek!" kap Oukie vinnig terug.
"Dit is nie 'n bushalte nie!" gooi die landdros
weer.
"Die bus moet halt om die kinders op te laai,
hoe nou anders?" skiet Oukie uit die heup, 'n
môgge trôffe skoot.
Die landdros kry weer daardie gevoel dat hy nie
gaan wen nie en smyt sy hoed in die stofstraat
neer. Vandag retireer hy nie! Met 'n
wanhopigheid mik hy vir die hart en gil uit: "Geen
argument! Jy's mal man!"
Oukie sien sy kans en smalend gryp sy hand na sy
gatsak. Die landdros sien die beweging en koes
eenkant toe. In Oukie se hand egter, is net 'n
vel papier en met 'n "Hier's my papiere, waar's
joune?" druk hy sy ontslagdokument, uit Fort
Mistake, in die landdros se hande.
Die landdros vertel later dat hy toe maar die
papier moes lees en toegee dat Oukie wel "normaal"
is. Die landdros weet egter tot vandag toe nie
hoe hy vir Oukie kan oortuig dat hy, wat die
landdros is, ook "normaal" is nie.
Al het hy nie die papiere nie. |