OUTsurance
joufiksie

Carin Marais
deur Carin Marais




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Oom Apie se skop

Sedert sy geboorte deur 'n drankwaas aangekondig is, kon Oom Apie nie die bottel mampoer eenkant los nie. Tot hy sy oorle Duifie se beskuitresep ontdek.

"Dis Apie se pa se streep daai," het die mense van Elandstraat ondermekaar geskinder na Duifie se dood. "Ja," het nog 'n buurvrou gesê-fluister. "Sy pa was dronk die dag toe hy gebore is – sy eintlike naam is Albertina."
Sy het haar kop stadig en hartseer geskud. “En gister toe dra hy alweer 'n bottel brandewyn huis toe.”

Niemand het mooi geweet waar Oom Apie sy probleme en snaaksighede opgetel het nie. Dalk by sy geboorte, toe sy pa vir dominee Cloete gebel het deur die gelukkige waas van sy oupa se stilletjies-gestoofde mampoer en verkondig het dat hy 'n kind, Albertina, in die wêreld gebring het.
Of dalk was dit na twintig jaar in 'n huis digby 'n besige pad. Dalk was dit sy vrou van veertig jaar, Duifie, se skielike dood.
 
Ongelukkig was Apie se oupa en pa reeds lank oorlede en so het die mampoerresep saam met hulle na die graf gegaan. Apie het gou besef hy kan hom nie aanhou na die bottel wend nie - dit was te duur en niks het die skop van dáái mampoer gehad nie. Tog kon hy homself, na 'n verjaardagpresent van whisky, nie keer nie. En so het hy 'n paar sopies genuttig. En toe sommer nog 'n paar.
In 'n besope toestand het hy honger geword en die kombuiskaste begin deursoek. Daar kom hy toe af op die handgeskrewe resepteboek van sy oorlede Duifie. Dié het sy, getrou soos 'n monnik, by haar ma afgeskryf, wat dít weer by háre afgeskryf en so terug tot iewers voor die ontstaan van die drukpers.
Op elke bladsy het hy sy trane uitgestort - veral op die welbewaakte resep van háár oupa se mampoerresep. Heel agterin, na 'n paar oop blaaie, was die graal van haar kookkuns opgeteken. Dié resep, het hy haar een keer hoor vertel, het sy ook geërf by haar ma se tannie - of tannie se ouma - lank, lank gelede en dit was blykbaar net dié ding waarop jy kon oorleef as jy die vreemde van Afrika binnevaar.
Hy het die resep bekyk. Dit was aan gewerk, maar nie krapperig soos die ander nie, nee; hierdie skrif was goed genoeg vir die Sondagskool. Oor 'n koppie sterk moerkoffie het hy die resep bestudeer: Meel en botter en dies meer weet hy natuurlik van, maar dat allerhande sulke snaakse sade en goeters deur meer as voëls geëet word, het hy nie besef nie.
 
Daardie aand het hy gebel en vir hom 'n wegneemete bestel en dit alleen in die sitkamer gesit en eet. Op die TV-skerm was 'n vrou besig om 'n nagereg met sjokolade en sjerrie te maak. Die volgende program was een wat hy al gesien het sy vrou na kyk. 'n Jong mannetjie wat aan die wêreld verkondig dat jy, ja jy wat daar sit en aan wegneemetes proe-proe gesonder kan lewe deur jou eie etes in foelie te maak.
Hy sit aandagtig en staar na die skerm terwyl sy gedagtes ver dwaal oor sy verlede. Voor hy gaan slaap skink hy vir homself dié aand net melk en gaan klim met die resepteboek in die bed.
 
Voordat die bure se hoenderhaan kon kraai was Apie reeds wakker en het hy in die kombuis oor gebrande roereier en roosterbrood aan 'n lysie sit en skryf.
Agtuur staan hy voor die kafee en wag dat hulle hul deure oopmaak. Hy loop verby die uitgestalde wyn en alkohol en loop na die ry waar hulle die koekbakgoed bêre. Vir lank tob hy oor die snaakse name op die lysie. Een van die werkers in die winkel gewaar hom later en begin help soek na die bestanddele. Tussen gedroogde stukke vrugte en allerlei gesondsheidsfieterjasies kry hy al die sade wat belowe om jou vir ewig gesond en gelukkig te hou.
'n Ander kliënt glimlag wetend vir hom en sê: "Ag, shame, het jou vrou jou gestuur?"
Apie knik. "Sy bak die lekkerste beskuit in die hele Suid-Afrika."

Met swaargelaaide pakkies stap hy na sy kar en sluit die kattebak oop. Vir 'n oomblik wonder hy hoekom hy nog nooit voor vandag kon onthou om melk te koop nie.
By die huis roep hy die kinders van langsaan en laat hulle hom help om die pakkies die huis in te dra. Hy sluit elke deur en elke venster dig toe en begin die mengbakke en bestanddele uitpak. Daar bak en brou hy heeldag en sit tot laataand en staar na die TV terwyl die beskuit droog.
Teen die volgende oggend staan daar drie bakke vol vars beskuit en gooi hy die krummels buite vir die voëls. En daar het die ding hom gebyt.

Eers het hy sy beskuit net aan sy bure uitgedeel en maar die skewe kyke geïgnoreer wanneer hulle uitvind dat dit hy is wat so bak en brou.
"As daai Ingelse knaap dit kan doen, kan ek mos ook?" het hy naderhand aan van die bure gesê. “Dis in elk geval al die 21ste eeu!”
Later het hy 'n baksel Londen toe gepos vir sy seun. Dié het gevra vir nog en Apie het voor 'n belangrike besluit te staan gekom: Die beskuit het so duur gekos om te bak, hy moes op die een of ander manier nog geld in die hande kry vir bestanddele. Dis toe dat hy skaam-skaam die tuisnywerheid nader met 'n pak beskuit onder die arm. Die vrou agter die toonbank was dadelik verlief en hy het hom gou uit die voete gemaak met die belofte van drie dosyn pakkies voor die einde van die week. Gou moes hy nog mense aanstel om te help bak; hy het selfs die TV in die kombuis ingeskuif en daar in sy vrou se koninkryk het hy homself tuis gemaak.

Nadat sy seun uit Londen skryf dat die een winkeltjie wat Suid-Afrikaanse kos verkoop óók van die beskuit wou hê en hy begin het om bestellings uit Nieu-Seeland en Australië te kry, het hy in die nuus verskyn. Op 'n kletsprogram het hy die eerste keer die hele storie vertel.
"Nou maar, hoekom doen jy dit Oom Apie?" het die aanbieder hom gevra.
"My oorle vrou het altyd so van bak en brou gehou. Dis haar resep wat ek gebruik, net soos sy dit neergeskryf het. Sý verdien om wêreldberoemd te wees en onthou te word."
Maar dit was die dag toe hy die oproep van 'n kletskoningin se mense uit Amerika gekry het, dat sy hart vir die laaste keer geklop het.

Sy seun het die resep en die huis geëerf. Vir 'n paar dae het hy net so na die kombuis gesit en staar en eendag self na die welbewaakte resep gekyk. En het hy self probeer om die beskuit te bak. Daardie aand het die ding hóm ook gebyt en het hy sy hele familie laat terugtrek Suid-Afrika toe.
Byna drie maande na Oom Apie se dood, het Albert weer gesit en die ou resepteboek deurblaai. Daar was die mampoerresep steeds onaangeraak, behalwe vir die groot streep wat daardeur getrek is deur sy pa se hand.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?