joufiksie

 Anlia Swanepoel
deur Anlia Swanepoel




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Muishond se heldedaad

“Kom bietjie nader Muishond, kom bietjie nader,” sis Luislang.
Dan spring Muishond vorentoe: sy hare staan regop. Al die diere hou asem op.

Die velddiere besluit om 'n talentkompetisie te hou en Ou Uil is die beoordelaar.
“Die kompetise kan begin!” hoe-hoe Ou Uil belangrik.
Almal is gereed: Hasie hop-hop hoog in die lug, Meerkat grawe 'n groot gat, Steenbok spring oor 'n hoë besembos, Padda duik diep in die waterpoel en Ystervark skiet sy penne regop.  
Dis net Muishond wat nie weet wat om te doen nie.
Almal is opgewonde: Die voëls kwetter en die diere juig, maar Muishond sit sy pote oor sy oë want die diere lag en spot met hom.

Skielik is daar 'n sisgeluid. Dit is Luislang. Sy gevurkte tong skiet in en uit sy bek as hy nader seil. Muishond sien dat Luislang stip na hom kyk. 
Hasie skrik so groot, hy hardloop sommer karplaks in 'n boom vas! Meerkat skarrel weg in 'n gat en Ystervark se penne ratel soos hy probeer wegkom. Steenbok trap in 'n gat en Padda gee 'n sprong, maar beland op sy rug. Almal is doodstil.

Luislang se oë flikker heen en weer.
“Wat maak julle almal hier?” wil hy sissend weet.
“Ons hou 'n talentkompetisie,” antwoord Muishond skrikkerig.
“Kom bietjie nader Muishond, kom bietjie nader,” sis Luislang gevaarlik.
Dan storm Muishond vorentoe. Sy hare staan regop. Al die diere hou asem op.
Luislang storm op Muishond af terwyl hy sy lyf wriemel en krul. Dan spring Muishond op in die lug, slaan bollemakiesie en spuit sy parfuum oor Luislang uit.
“Siesss!” sis Luislang en seil vinnig weg in die lang gras terwyl al die diere Muishond toejuig.

Dan is Ou Uil gereed om die wenner van die kompetisie aan te kondig. Hy maak keel skoon en sê: “Die wenner vir vandag se kompetisie is Muishond! Hy het 'n dapper daad verrig!”
Die diere kap met hul pote op die grond as hulle hom toejuig. Dan tel hulle vir Muishond op en dra hom op hul skouers rond. Muishond se stert pronk stokstyf in die lug van trots. Daarna het hy al die diere uitgenooi vir 'n lekker partytjie by sy huis!

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?