|
Dis donker in die skaduwee van die Wildevyeboom
waar Klein Gert Venter staan. Hy wag om te kyk
of iemand agtergekom het dat hy nie in sy bed is
nie. Maar die huis bly donker en stil.
Hy sluip gebukkend tot by die draad. Daar seil
hy behendig deur die gat in die heining.
Sy plan is fyn uitgewerk: Hy sal tot by sy Ma se
huis gaan; daar sal hy agter die groentetuin in
die ou watertenk gaan bly.
Eintlik is hy bang om huis toe te gaan. Hy is
bang vir die slang wat die Oom gekry het. 'n
Baie groot slang. Die Oom het vir hom gesê as hy
dit waag om sy pote weer by die huis te sit, sal
hy hom in die slanghok gooi.
Hy het gehoor die Man wat die slang kom aflewer
het, het gesê dis 'n baie gevaarlike slang. Die
Man het dit iets soos 'n "annakonslang, 'n
moordmasjien" genoem. Hy het vir die Oom gesê hy
mag vir niemand van die slang vertel nie, want
dis onwettig. Die Oom het gevra wat die slang
eet. Die Man het gesê: "Enigiets wat beweeg.
Honde, katte, en as jy nie meer die kind of vrou
wil hê nie, gooi jy hulle sommer ook in die hok."
Hy hou nie van die plek waar hy nou moet bly nie.
Maar sy Ma en die Tannie van die welsyn het vir
hom verduidelik dat dit vir sy eie veiligheid
is. Hy verlang na sy Ma en sal eerder onveilig
wees, as om so baie na haar te verlang.
Hulle noem die plek Kinderhuis. As sy Pa nog
gelewe het kon hy vir hom gevra het wat
Kinderhuis is.
Sy gedagtes gaan terug na die laaste ete by sy
Ma se huis.
Die Oom het kwaai geklink toe hy vir hom gesê
het: "Toe eet, Mannetjie! Jy kan maar weet, dit
is die laaste ete wat jy in hierdie huis in 'n
donnerse lang tyd gaan eet."
Sy Ma sê dat hy wat Klein Gert is, nie daardie
woord mag gebruik nie. Dis vloek. En geen
ordentlike mens gebruik vloektaal nie. So in sy
enigheid wonder hy hoekom sy dan toelaat dat die
Oom so praat.
Een aand het hy die Oom met die graaf geslaan,
omdat hy gedink het die Oom stoei met sy Ma in
haar kamer. Van daardie tyd af het sy Ma en die
Oom baie baklei.
Hy het gewonder waaroor hulle baklei en het
hande-viervoet agter die groot stoel, naaste aan
die deur, ingekruip. Daar het hy doodstil gesit
– skaars asemgehaal.
Die Oom het geskree: "As jy die Klein Sleg nie
Kinderhuis toe stuur nie, maak ek 'n saak van
poging tot moord teen hom en dan kan jy kyk waar
hy beland!"
Sy Ma het nog probeer om sy kant te vat, maar
die Oom het geskree en sy vinger in sy Ma se
gesig gedruk. Sy het later, so tussen die houe
deur, net die trane van haar wange probeer afvee.
Hy wens hy was groot. Dan kon hy die Oom ook so
ruk en slaan. Hy het al probeer, toe slaan die
Oom hom met die vuis teen die bors. Hy het vir
lank swaar asemgehaal en daar was 'n groot,
swart-perskol op sy bors.
Hy was skaam om sy hemp by die skool uit te trek
vir liggaamsoefening. Hy het maar gemaak of hy
siek is.
So met al die gedagtes wat deur sy kop maal, is
hy amper verras toe hy voor die bekende tuinhek
staan. Hy is dadelik op sy hoede. Hy skuifel,
sluip onder die sitkamervenster verby. Hy hoor
hoe die Oom op sy Ma skree.
Hy krimp ineen as hy sy Ma hoor huil.
Miskien moet hy haar ook wegvat Kinderhuis toe.
Dis mos vir haar veiligheid ook.
Dan kan die Oom haar nooit weer slaan nie. En sy
sal nie so maer en vol bloukolle wees nie.
Hy is moeg van die ver loop. Hy sal nou in die
ou tenk gaan lê en slaap. Môre as hy uitgerus is
sal hy 'n plan maak om sy Ma veilig te kry.
Net toe Klein Gert voor die agterdeur verby wil
glip, bars die deur oop. Hy duik terug die
donker skaduwee in en is net betyds om te sien
hoe die Oom sy Ma by die agterdeur uitstamp.
"Lê in die donker, jou slet! Ek sal vanaand
daaroor besluit of jy môre slangkos gaan word of
nie," volg die bars stem die vrou agterna wat by
die deur uit struikel-val. Sy bly opgekrul lê.
Klein Gert voel hoe die knop op sy maag groter
en harder word. Hy weet hy moet vanaand nog sy
Ma by die Kinderhuis kry.
As alles stil is kruip hy tot by haar, gaan lê
styf teen haar en sit sy arm om die maer,
uitgeteerde lyf. Hy voel hoe sy ruk.
Nadat Gert sy Ma tot by die ou tenk gehelp het,
loop hy in die rigting van die huis. Hy steek
vas as hy die Man by die buitekamer sien waar hy
die slang aanhou.
Die Oom maak die deur op 'n skreef oop. Dit lyk
vir Gert of die Oom ook bang is vir die slang.
Hy word koud as hy die Man hoor sê: "Môre proe
jy mensvleis. Bietjie te maer, maar jy behoort
haar baas te raak."
As daar 'n dier iewers in 'n agtjarige skuil,
word hy nou in Gert wakker. Sonder om daaroor te
dink hardloop hy op die Man af, stamp hom met
bomenslike krag by die buitekamer se deur in en
klap die deur toe.
Hy staan met sy rug teen die deur, haal hortend
asem en knyp sy oë styf toe.
Hy skrik as sy Ma haar hand op sy skouer sit en
sê: "Hardloop, Seun. Hardloop terug Kinderhuis
toe. Ek sal sê hy wou die slang voer. Hardloop
soos die wind, my Kind."
Die sweet brand sy oë as hy weer deur die gat in
die heining glip. Die deur swaai geruisloos oop.
Hy kruip tussen die koel lakens in. Niemand het
hom gemis nie.
Net voor hy in 'n droomlose slaap wegraak, is hy
bly dat sy Ma ook vanaand veilig is.
As sy Pa nog gelewe het, kon hy hom gevra het
hoe die slang eet as hy honger is.
|