|
Dit was twee jaar gelede dat sy by die
restaurant as kelnerin begin werk het.
Vir twee jaar lank vleg sy tussen tafels deur
terwyl sy stapels borde met 'n onoortreflike
kundigheid balanseer.
Dit is ook nou al twee jaar dat die man elke
aand na die restaurant kom om telkens by
dieselfde tafel te gaan aansit.
Elke keer opgetof in sy beste klere – klere wat
'n dekade of wat gelede baie modieus kon wees.
Die man sal stadig opkyk wanneer die kelnerin,
notaboek in die hand, gereed staan om hom te
bedien.
Eers sal hy haar betrag asof hy haar vir die
eerste keer sien – dan wys hy haar met 'n
handgebaar weg.
Dit pla haar nie, want sy ken die ritueel.
Ingedagte sal hy dan die spyskaart verder
bestudeer, asof hy dié ook vir die eerste keer
sien. Minute later sal hy met 'n kuggie aandui
dat hy gereed is om sy bestelling te plaas. Asof
dit die eerste keer is.
Dié ritueel het die kelnerin reeds na haar
eerste week by die restaurant uit haar kop geken,
maar sy het saamgespeel en sy bestelling –'n
glas water, die bord gekookte kos, roomys en
sjokoladesous op Woensdae en Sondae, met koffie
– elke keer sorgvuldig neergeskryf. Asof dit die
eerste keer is dat hy dit bestel.
Dit was asof daar elke keer 'n flikkering van
dankbaarheid in sy oë was omdat sy haar rol in
hul daaglikse ritueel gespeel het, terwyl sy
vinger die pad na die verlangde items oor die
spyskaart volg.
In die twee jaar van die man en die kelnerin se
tradisie, het hy slegs een keer met haar gepraat.
Dié dag het hy 'n rooi blom in sy knoopsgat
gehad.
Sy het, soos soveel kere tevore, sy bestelling
geneem. Dit was die nuwe sagtheid in sy oë wat
haar meer laat praat het; belangstellend het sy
oor die blom uitgevra.
Hy het huiwerend, asof hy vergeet het hoe om te
praat, die woorde in 'n skor stem afgerammel: "Dis
vir haar verjaardag. Niks maak my so gelukkig
soos 'n home cooked meal nie."
Hy het daardie dag nie vir sy kos gewag nie –
nog voordat sy die glas water op die tafel kon
sit, het hy met trane in sy oë opgestaan en
weggestap.
Die volgende dag het hy egter weer by sy gewone
tafel gaan sit – sonder die blom en sonder die
sagtheid in sy oë. Sy het besluit om voortaan,
soos die ritueel was, so min as moontlik met hom
te praat.
Maar dit was sy laaste aand in die restaurant –
hy het nooit weer teruggekom nie. Hy het sy
Home Cooked Meal, soos sy vingers dit bestel
het, stil geëet en toe net so stil verdwyn.
Op die tafel het hy vir haar 'n koevert gelos.
Met haar naam op, in 'n bewerige handskrif
geskryf – asof sy hand net so uit oefening soos
sy stem was.
Sy het nie die koevert oopgemaak nie; dit net in
haar handsak gedruk. Sy het eers later die aand,
na toemaaktyd, die koevert uit haar handsak
gehaal terwyl die munisipale bus haar terug huis
toe geneem het. Só het sy daardie aand huis toe
gery: met die koevert styf op haar skoot
vasgeklem.
Die kelnerin het die kamerdeur agter haar
toegestoot en op haar bed gaan sit. Die koevert
het sy stadig en versigtig – byna vertroostend –
oopgemaak. Binne was daar 'n nota, in dieselfde
bewerige handskrif.
"'n Verduideliking," het daar gestaan, "omdat ek
wil hê dat jy moet verstaan."
Saam met die nota het 'n vergeelde
koerantuitknipsel binne die koevert gelê.
Oom Tom was 'n elektrisiën. Hy was getroud met
Kathy en vir haar was hy baie lief.
Sy is in 'n brand dood – 10 jaar gelede. Saam
met hul ongebore kind.
Die vergeelde koerantuitknipsel vertel hoe die
vuur in die kombuis begin het - as gevolg van 'n
elektriese kortsluiting.
Dit was die dag nadat oom Tom self vir haar 'n
blinknuwe elektriese stoof vir sy home cooked
meals geïnstalleer het.
Dis dié dat hy wat oom Tom is nooit weer aan 'n
kragboks geraak het nie. Of vir homself kos
gemaak het nie. Ook het hy nooit weer 'n woord
gepraat nie.
Want net in sy stilte kon hy sy trane inhou. |