Carin Marais

deur Carin Marais




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

“Ek soek bosse angeliere en lelies, niks se ge-rose en vroumensblomme nie en dit moet wit wees. En ek wil oordentlike musiek hê, nie die nuwe goed wat so doef-doeferig is en waarop daai tannie van jou so vals sing nie. En julle staan stil en sing, ek soek nie 'n gedansery en handeklap nie, dis nie my verjaarsdag nie.”

“Jy weet natuurlik wat jou ma sal sê, nè, Sam?”
Samuel kyk op van waar hy met 'n stok teen die pallisade-heinings kap-kap soos hy stap.
“Dis nie te sê nie, man.”
“Ek sê jou sy gaan nooit ja sê nie, so lieg net. Komaan, dis net een keer in any case en dis die eerste party van die jaar!”
“Sy weet wanneer ek lieg.” Hy ruk die stok vinnig weg toe 'n varkhond nader storm en grommend teen die groen metaalstawe beur.
“Dis. Een. Keer. Hou op so high and mighty wees! Hulle sal dalk nog anderkant toe kyk as jy nie 'n zol deel of 'n six-pack down nie, maar as jy nié kom nie . . . Komaan, man. As jy nie gaan nie, kan ék nie gaan nie.” Hy stamp Samuel beskuldigend teen die skouer. “My ma dink mos jy’s 'n engel.”
Samuel stop voor sy huis. “Ek sal kyk wat ek kan doen, oukei? Maar ek belowe niks.” Hy gooi die stok eenkant toe, vroetel vir sy huissleutels in sy sak en druk die knoppie wat die hek laat oopskuif.

Die alewige Classic FM speel en iewers in die huis klink 'n basstem wat saam met die radio Per Te sing.

In die kombuis kry hy vir Salie wat êrens familie aan sy ma se kant is. Dié is al so oud dat dit lyk asof hy die wêreld se laste op sy krom rug dra. Maar hy sing saam met sy hele hart, sy oë toe en arms gesprei asof hy in die Royal Albert Hall sing. Samuel trek sy stoel hard uit en plof daarop neer. Salie ruk soos hy skrik, maar lag dan.
“Middag, Samuel,” groet hy hom op sy volle naam en wys na die toebroodjies wat op die tafel oorkant hom staan. “Kom sit, eet. Dat jy nou 'n ou man só kan laat skrik! Ai, maar dis darem mooi nè? Mens se hart gaan staan amper van die mooigeid.”
“Dis in Italiaans, oom, ek weet nie wat hulle sê nie.”
“Maak nie saak nie – dis die gevoel.” Hy ignoreer Samuel wat sy oë opslaan uit frustrasie. “Moet nooit leef asof jy soos al die ander skape moet lewe nie, Samuel."
Die tiener sê niks en staar by die venster uit. Daar is 'n dieper frons as gewoonlik op sy voorkop. Salie ken daardie uitdrukking.
“Waarheen is jy uitgenooi?”
Samuel kyk verskrik na hom. “Hoe weet oom?”
“Jy kan net so bekommerd lyk as daar iewers is waarheen jy wil gaan maar jy mag nie gaan nie en jy 'n liegstorie soek om jou bas te red.”
Sam staar net na die toebroodjie wat op die bord voor hom lê. Dis nie eens asof hy regtig na die ding wilgaan nie.
“Ek moet gaan, dis die eerste partytjie van die jaar, oom.”
“En wanneer vind hierdie partytjie nogals plaas?"
Samuel sug. “Saterdagaand.”
“Moenie gaan nie,” pleit Salie skielik tussen happe. “Asseblief, nie die naweek nie.”
“Ek kan nie net in die huis sit heeldag nie!”
“Daar gaan iets gebeur, luister nou vir my.”
Sam staan op en vat sy brood na sy kamer toe. Vir Salie se buie het hy nie lus of tyd nie.
Hy probeer sy ouers bel, maar nie by een van die twee se werke is daar antwoord nie. Buite kan hy Salie sy bottels en koerante hoor rondpak. Sedert die skool begin praat het van herwinning het Salie sy deel gedoen en elke plastiekbottel en koerant gespaar om een keer 'n maand na die skool te neem. Tot die bure het hul papier en bottels by hulle kom aflaai en vir hoe lank met die ou oom staan en klets terwyl hy raad gee oor alles en nog wat.
Samuel kyk na hom deur die venster waar hy by sy tuinwoonstel staan. Sy rug lyk nog meer gebuig na die woorde wat hulle gehad het, sy oë nog donkerder en diepgeset.

“Hy trek hom die wêreld se laste aan, Sam,” sê sy ma toe sy die middag by die huis kom. “Dit vat 'n spesiale persoon om dit te doen.”
“Hy skryf my alles voor!” skop die hormone sommer weer vinnig in.
“Hy is 86, hy weet meer van die lewe as enigeen van ons.”
“Hy wil nie eens hê ek moet uitgaan nie!”
“Jy gaan g'n die naweek na enige partyjie nie.”
“Maar . . . “
“Maar niks! Kamer toe.”

Salie staan reeds buite die kamervenster besig om kamstig die tuin nat te spuit toe hy daar ingestorm kom en die deur agter hom toeklap.
“Gaan jy nog vir jou ma jok en gaan?”
“Dit het niks met jou te doen nie!”
“Ek wil net 'n guns vra – as jy vir haar 'n storie gaan aandra.”
Sam sak terug op sy bed en sug. “Wat?”
“Die bottels en koerante moet volgende week ingegee word. Ek soek bosse angeliere en lelies, niks se ge-rose en vroumensblomme nie en dit moet wit wees. En ek wil oordentlike musiek hê, nie die nuwe goed wat so doef-doeferig is en waarop daai tannie van jou so vals sing nie. En julle staan stil en sing, ek soek nie 'n gedansery en handeklap nie, dis nie my verjaarsdag nie.”
“Waarvan praat oom?”
“As jy partytjie toe gaan, wil ek dit net vroegtydig van my bors afkry,” sê hy en loop voor Samuel vir hom nog iets kan sê.

Sy ma het die storie van sy kuier by Anton geglo (dit was tog 'n halwe waarheid) en laai hom die Vrydagaand vyfuur by dié se huis af. Saterdagaand is hulle partytjie toe na nog 'n dag van vrae ontwyk en wit leuens vertel. Byna die hele klas was daar en tot 'n paar seniors. Hier en daar het die soet reuk van verbode sigarette in die lug gehang en 'n paar het oorboord gegaan met die drank wat beskikbaar gestel is deur Wikus se ouers wat tog so jonk en vol pret is. 'n Paar paartjies het selfs stil-stil die huis in verdwyn en Peet het amper in die swembad verdrink nadat hy gesuip ingeval en almal gedink het hy spot. Dit was Samuel wat hom daar uitgehaal het. Dit was ook Samuel wat eenkant onder die lapa gesit en gewag het vir twaalf-uur sodat hulle huis toe gevat kon word deur Wikus se ouers. Dit was ook Samuel wat, nadat Anton al lankal van al die gesuip in droomlose slaap verval het, nog wakker gelê het. Samuel was reeds die volgende oggend sewe-uur aangetrek en reg om huis toe te gaan terwyl Anton nog gelê en snork het.

Half agt word hy voor sy eie huis afgelaai en loop dadelik na Salie se tuinwoonstel. Hy klop een keer en stoot die deur oop.
“Oom Salie,” roep hy, maar daar is geen antwoord nie en hy kom agter die plek voel skielik leeg. Die bed is opgemaak en 'n briefie wat net sê “Niks rose!!!” lê daarop. In die stoel aan die oorkant van die kamer sit hy toe. Leesboek op die skoot, bril op die neus, maar sy donker oë blind.
“Ma!” ontsnap die gil sommer so uit sy bors voor hy kan dink en vlieg hy daar uit en by die agterdeur van die huis in.
“Oom Salie, Ma!” roep hy toe hy by die kombuis inkom.
Sy staan en meng koekdeeg – nooit 'n goeie ding nie. Haar oë en gesig is rooi en pofferig. “Was jy daar?” vra sy en meng die deeg verder.
Hy knik. “Ja.”
Hy sien twee kaartjies op die tafel lê en tel dit op.
“Ja, shame,” snik sy ma, “kan jy glo – hy het vergeet hy het vir julle twee kaartjies gehad vir 'n fliek gisteraand. Skoon vergeet om jou te sê.”

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend