jouFIKSIE

 

Die Geheime Lêer

 

Vir jare het sy die gedagte aan die oom met die vuil hande wat haar met liefde bevat, in haar lêer diggehou. Tot een aand toe sy dié lêer teen die kasdeur stukkend gegooi het.  

 

deur Karin Rademeyer

 

Vanaand is die derde aand. Die klok het al die volgende dag betreë en sy lê. Lê en kook. Elke keer as sy haar oë toedwing hoor sy die mure beweeg. Nader aan haar. Die kamer het al só verklein dat sy haar kop stamp met elke omdraai. Die lakens is gekoek met haar onrustige liggaamsbewegings wat soekend is na 'n brein-shutdown. Maar hy wil nie af nie. Hy het 'n mind van sy eie. Hy wil die mure keer. Hy wil haar oë oopdwing om haar self-versmoring te keer. 'n Aangeleerde survival instinct. Sy blaai en blaai deur haar gedagtes opsoek na die turn off manual. Maar dit is goed versteek. Brein wil haar beskerm teen hom. Brein weet dat die ingang vir hom oopmaak as hy afskakel. Hy weet dat die verkleinde vertrek sy impak harder maak. Sy wil bid vir een aand se vrede. Een aand sonder hom wat oor haar waak. Hy wat staan en na haar siel soek. Hy wat haar siel wil ruk en pluk totdat die bloed uitloop. Haar wake up call. Haar reminder dat dinge nie volgens plan verloop nie. Haar reminder dat sy besig is om off track te gaan. Sy druk 'n ekstra kussing onder haar brein se huis en staar na die punt van haar bed. Daar waar hy altyd verskyn. Sonder 'n sigbare gesig.

 

Sy kan sy eerste verskyning nog onthou soos vanoggend se koffie. Sy was 7-jaar oud. Niemand kon hom sien nie. Haar nagtelike gruwel-kreet het die stilte in haar ouerhuis vir weke aaneen verpletter. Night terrors, het die dokter gediagnoseer: "Drink die geel pilletjie net voor slaaptyd en moenie bestuur nie."

Nogal komieklike advies vir 'n 7-jarige wat niks bestuursbeheer oor haar lewe het nie. Die geel pilletjie het hom net laat lag. 'n Diep donker lag. Sy het besef dat haar kreet hom net met mag vervul en het toe maar sy staar met stilte aanvaar. Die jong volwasse keuse het haar ouers gerusgestel. Daardie dag was die begin van haar eerste donker geheim. Sy het met tyd planne beraam om uit sy donker gluur uit te kom. Na die vierde aand se nat lakens het haar ouers dit as roetine beskou en daar word toe vinnig pienk pilletjies voorgeskryf: "Een voor bedtyd, niks drinkgoed na ses en maak die blaas eers skoon."

Met dié advies het haar plan om tussen die veiligheid van haar ouers se lywe te lê as gevolg van nat lakens misluk. Dit het haar drie maande geneem om die donker man se doel vas te stel. Een Sondagmiddag het sy haar ma vertel van Oom Gerhard. Die oom met die vuil hande wat haar en Santie met liefde bevat. Haar ouers se skok het die liefdevolle huis geruk en 'n kraak in die kombuis se linkerhoek bo laat oopbars. Wegtrek was die enigste opsie. Weg van die vuil buurman en sy donker hande. Tot haar absolute kinderlike vreugde het die man wat vir haar staar, by die ou huis agter gebly.

 

Maar ook nie vir te lank nie. Op 16 het hy weer verskyn tussen wakker en slaap. Hy was weer sprakeloos maar sy het dié keer teruggestaar.

"Wat nou? Hoekom nou?" Sy het deur haar kort lewensboek geblaai op soek na sy verskynsel se motivering. Sy kon nie kop kry tot die aand van 17 September nie. Johan was voorbeeldig soos min seuns van sy ouderdom. Pa het altyd met trots verwys na sy aanstaande skoonseun. Ja, op die ouderdom van 16 was dit al 'n moontlikheid in daai dae. 'n Dogter moes uit die huis uit trou met 'n seun van die gemeente en Johan was een van die min opregte suiwer boerseun "breeds". Tot daardie aand. Alleen op Johan se ouers se plaas is sy verkrag. Sy was die aand van die 17de September die party snack. Vier seuns het aan haar gesmul. Johan was cheerleader. Toe hy haar 11 uur soos altyd veilig by die huis afgelaai het was sy maniere nog 100% in plek.

"Dankie vir 'n onvergeetlike aand. Ek lief jou Meisiekind."

Sy het haar pa en ma gaan groet, badkamer toe geloop en met die blommetjie-versierde waslap die verkragtingsap uit haar lyf probeer krap. Sy sal nooit die patroon van die badkamer se teëls vergeet nie. As jy lank genoeg daarna staar beweeg alles. Alles om jou, alles in jou. Dit swem na jou oopgevlekde baarmoeder. Dit ruk. Ruk jou siel skeef. Sy het daai aand haar staar aan sy onsigbare gesig ge-lock. Hulle het woordeloos vir mekaar gegluur. In haar binneste het sy die donker man se doel besef. Met dié ontdekking het die donker man deursigtig begin raak en stadig begin verdwyn tot sy haarself vind staar na niks. Sy het haar oë toegemaak en haar verkragting in haar donker geheime lêer versteek.

 

Maar met elke lewens-skeefdraai het hy weer opgedaag. Sy het dan besef sy moet soek, analiseer en adjust. Hy was haar fout-monitor. Haar gewete-demon. Maar nou, na 10 jaar se afwesigheid, is hy terug. Dié keer meer aggressief. Haar brein is haar enigste wapen. Hy hou haar wakker. Hy waak oor haar want haar demon het oor die jare verhonger. Hy was te lank sonder voeding. Sy dwing haar gedagtes terug na die verkleinde vertrek. Dit voel vir 'n oomblik of haar brein oorwin het. Sy voel verlig. Sy voel rus. Sy voel . . . sy voel dat haar oë toe is. Haar brein het ge-crash. Daar was 'n operations failure. Please contact your system administrator. Sy kan haar demon se asem hoor. Sy probeer haar oë geestelik aanmekaar vas superglue maar sy is nie in beheer nie. Dit word vir haar oopgeruk. Die vertrek se dak is nou net bo sy donker kop. Hy het weer sy reaper-jas aan met die kapsel oor sy kop. Sy gesig nog steeds vormloos.

"Wat wil jy hê?"

Hy antwoord haar soos gewoonlik met stilte en daai diep in-en-uit asemhaling. Sy kan nie haar liggaam beweeg nie. Haar lyf is teen die bed vasgepen. Sy kan die drukking in haar longe voel en gee vlak kort asems om dit te vul. Sy kan voel hoe die bed ruk-ruk soos hy dit met sy knie stamp. Dit is asof hy haar tart met sy vrees-vermoë. Sy kan nie haar kop beweeg nie, maar kan deur die hoeke van haar oë sien dat die vertrek in breedte so groot soos 'n Avbob-kis is. Sy kyk af na sy staanplek en sien hoe sy liggaam vorentoe beweeg. Hy beweeg horisontaal oor haar liggaam en sy kan sy swart kleed oor haar naak bene voel. Soos hy vorentoe beweeg, sien sy hoe die dak saam met hom afbeweeg en die Avbob-kis-effek perfek afrond. Sy donker gesig is nou sentimeters van hare af, maar sy kan nog nie deur die donker vorm 'n aangesig skep nie. Hy sweef net oor haar in stilte. Sy soek haar gebed maar kan dit nie deur haar stembande kry nie. 'n Onmenslike geluid kom uit sy leë gesig en sy probeer haar kop onsuksesvol wegdraai. Haar ore brand en sy kan sien hoe daar 'n deurskynende vloeistof vanuit sy aangesig vloei. Haar gesig word daarmee bedek en dit ruik soos die blommetjie-waslap van die 17de September. Sy begin om 'n gil in haar keel te vorm; met haar laaste bietjie geloof druk sy dit deur haar stembande. Die gil verander in 'n bekende geluid. Sy ruk haar lyf regop en bevind haarself bevry. Sy snak vir asem en bewuswording. 'n Skerp sonstraal speel deur 'n gaping van haar gordyn en verlig haar selfoon wat ekstra hard lui. Sy kyk om haar en besef dat die mure weer na hulle oorsprong toe teruggekeer het. Sy gryp na haar selfoon en antwoord.

 

"Hello?"

"Jackie, is dit jy? Skies man! Het ek jou wakker gebel?"

Sy bly vir 'n oomblik stil om die naam by die stem te kry.

"Nee ousus, dit is okay. Ek is wakker."

"Ek het skindernuus wat ek met jou moet deel. Jy onthou seker nog jou ou flame, Johan? Wel, Mister Perfect is gisteraand gearresteer!"

Jackie sit haar hand voor haar mond om die naar gevoel terug te dwing.

"Hy het blykbaar 'n 82-jarige vrou verkrag en daar is sprake dat sy nie die enigste een is nie. Sy dogter het ook te vore gekom met 'n aanklag van molestering!"

Jackie sak langs haar bed op haar knie en druk die selfoon dood. Haar liggaam val tot op die grond en sy huil soos 'n 7-jarige dogtertjie. Sy maak haar oë oop en sien 'n vreemde voorwerp onder haar bed. Sy strek haar hand uit en trek die voorwerp nader. Dit is 'n ou lêer. Bo-op die lêer staan haar naam. Sy blaai na die eerste bladsy. Die opskrif: Jackie se Donker Geheime. Sy gooi die onnatuurlike lêer, wat in haar brein hoort, wild teen die kasdeur.

Die lêer wat bedek is met onnodige slagoffers se bloed.