Vervolgverhaal: Hoofstuk 1
Die Koffieshop
Die eerste dag as eienaar van my eie klein koffiewinkeltjie het uiteindelik aangebreek. Ek loer in die spieël, trek my das reg en maak seker my hare is netjies. My naam is Johan de Beer – lank, donkerkop en boonop nie sleg op die oog af nie.
My hand bewe 'n klein bietjie toe ek die houtdeur van die winkeltjie oopsluit terwyl die opwinding deur my hele lyf spoel. Ek stap binne en trek die blinders oop en laat die son die donker vertrek verhelder. My personeel begin opdaag.
“Goeiemôre meneer!” groet enetjie my vriendelik.
“Môre . . . askies tog, wat is jou naam nou weer?” vra ek.
“Natasha, Meneer,” antwoord sy skamerig terug.
“Sal jy asseblief vir my die tafels afvee as jy nie omgee nie?” vra ek terwyl ek agter die kroegtoonbank in beweeg om te probeer uitmaak wat is wat in die plek.
“Ek maak so, Meneer,” antwoord sy voordat sy vinnig padgee.
Ek maak al die deurtjies oop en bekyk die ou glase. Ek sal dit die een of ander tyd met nuwes moet vervang.
Teen dié tyd is almal hard aan die werk besig om alles reg te maak vir ons eerste kliënte. Ek stap trots vorentoe en draai die closed bordjie om – ek wag al lank vir dié oomblik wat uiteindelik vir my aangebreek het.
Ek roep al my personeel bymekaar vir 'n vinnige motiveringsgesprek: “Môre almal, ek glo vandag is 'n nuwe begin vir almal van ons en ek glo dat ons lekker saam gaan werk. Vandag en in die toekoms. Gee net julle bes en dan behoort ons goed oor die weg te kom. En hiermee heet ek julle nou almal welkom by die nuwe Café Juhaan!”
Almal gee 'n lekker handeklap voordat hulle verder aan die werk spring en toe sien ek haar in die deur staan: 'n engel met vlerke, of so het dit vir 'n oomblik vir my gelyk. Sy stap – nee, sweef – die vertrek binne, hare wat saggies langs haar kop wapper. Die vrou gaan by een van die tafeltjies sit en 'n kelnertjie stap dadelik nader om haar te bedien.
Ek weet nie hoe lank ek so gestaan en staar het nie, maar skielik tik iemand my op my skouer.
“Meneer . . . is als reg?” vra Natasha.
“Ja alles is piekfyn, Natasha. Weet jy wie daai dame daar is?” vra ek nuuskierig.
“Ja, Meneer, dit is Sonja. Sy is elke dag presies dieselfde tyd hier en dan bestel sy 'n sny wortelkoek en 'n koffie en dan gaan sy weer. Elke dag dieselfde.”
“Ek sien, dankie, Natasha.”
Stadig stap ek terug na agter die kroegtoonbank toe sonder om my oë van haar af te haal. Ek wil vorentoe stap en haar gaan groet, maar is te bang dat ek voor op die wa gaan voorkom. Die hele tyd wat sy daar stilsit hou ek haar dop. Dit is seker ongehoord, maar ek kon dit net nie help nie. Niks en niemand anders in die vertrek maak saak aan my nie en dit is asof net ek en sy daar is. Haar oog vang myne en ek kyk vinnig skuldig af, maar ek is seker daarvan sy het my uitgevang dat ek vir haar so skelm staan en kyk. Ek wonder wat ek nou moet doen? Moet ek haar gaan groet om nie so skuldig voor te kom nie of moet ek dit net los?
Ek gaan haar groet, besluit ek! Daar is niks daarmee verkeerd nie en dit sal net beskaafd wees om dit te doen. Ek stap om die toonbank en begin stadig na haar kant toe te stap. Skielik voel my keel toegetrek, my hande taai en my voete so swaar soos lood. Ek stop in my spore en draai terug. Die mense wonder seker of ek mal is, dink ek by myself. Ek stap na die kombuis en maak die deur oop sodat die vars lug my bietjie kan by bring. Ek haal diep asem, en stadig skep ek weer die moed om terug te gaan. Met lang treë neem ek weer my plek agter die toonbank in.
Sy sit nou rustig met haar koffie en 'n bordjie met 'n half ge-ete sny wortelkoek voor haar op die tafel. Ek hou haar fyn bewegings dop: Sy tel haar lepel op en roer haar koffie stadig, haal dit dan uit en sit dit langs die kant neer. Net om 'n paar minute later weer presies dieselfde te doen. Dit lyk asof sy iets swaar op die hart dra. Sy roep een van die kelners nader wat dan sy kop knip en vir haar die rekening vat.
Sy betaal hom en staan op sonder om die kleingeld te neem, en skielik kry ek die moed om 'n tree vorentoe te neem.
“Geniet u dag verder,” is al wat ek uitkry. Sy lig haar kop en haar oë ontmoet myne vir 'n tweede keer. Sy gee net 'n skramse glimlag en verdwyn vinnig by die deur uit totdat ek nie meer 'n glimps van haar kan sien nie. Ek stap tot by die venster om te kyk of ek haar nog kan sien.
Môre, besluit ek, môre gaan ek my mond oopmaak en met haar praat. Ek stap na agter en gaan sit by een van die tafels en onthou die blou oë van glas wat tot binne in my siel gedril het. Van die vrou met die naam Sonja.
Word vervolg
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joufiksie volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

