|
Henk se hart krimp: Dis duidelik dat Adrie oogkontak vermy. Die drukkie en borrelende vertel van die dag by die werk wat altyd vir hom 'n hoogtepunt was wanneer hy by die huis kom, is al vir die afgelope maand afwesig.
Toe Henk soos gewoonlik op 'n weeksdag om vyfuur by die huis instap, kry hy vir Adrie bewegingloos by die kombuistafel sit. Haar rug is na hom gekeer, groenteskiller in die een hand en 'n halfgeskilde aartappel in die ander, totaal onbewus van hom. Al wat beweeg is die foto’s wat verbyflits op die skerm van haar elektroniese foto-raampie: Tafelberg, 'n rooi sonsondergang, 'n bokmakierie op die tuinhekkie.
Eers toe hy gemaak-vrolik groet, skrik sy haar uit haar gedagtewêreld los. 'n Skaam blos stoot in haar wange op wanneer sy opspring en haar man 'n skrams piksoentjie gee.
“Middag Henk. Ek sit en droom hier by die tafel in plaas daarvan om kos te maak. Verskoon my, dan kry ek gou die aartappels in die kastrol.”
Henk se hart krimp. Dis duidelik dat Adrie oogkontak vermy. Die drukkies en borrelende vertellings van haar dag by die werk was altyd vir hom 'n hoogtepunt wanneer hy smiddae by die huis kom, maar dit is al vir die afgelope maand afwesig. Hy tree nader en vou sy arms om haar.
 Illustrasie: Adrian Coetzee
“Wat makeer Driekie?”
“Daar’s niks fout nie, Henk. Ek het jou mos al herhaaldelik gesê ek is saans net 'n bietjie moeër as voorheen. Seker maar die ouer word wat dit veroorsaak.”
So in die praat woel sy haar uit sy arms los en gaan staan aan die anderkant van die tafel. Henk onderdruk 'n sug en probeer nie die gesprek verder forseer nie. Hy weet dat hy nie meer as die een of ander variasie van dieselfde ou flou verskoninkie uit haar sal kry nie.
“Waar is Lizl?” stuur hy die gesprek na 'n meer neutrale grond.
“Sy is hier weg met haar fiets, bib toe. Jy weet mos die graad 10’s doen hierdie kwartaal 'n groepprojek oor afvalmateriaal-herwinning.”
Honne maak bokspringe van blydskap toe Henk 'n paar minute later met die leiband in die hand by die agterdeur uitstap. Toe hy soos altyd op 'n Maandag en Donderdag by die parkie twee straatblokke verder ingaan en oplet hoe die hond dit geniet om by elke tweede bossie sy vriende se briefies te “lees”, dink hy dat sy hond meer blydskap teenoor hom toon as sy vrou.
Oudergewoonte stap hy na die bankie onder die reuse akkerboom waar dit half weggesteek is tussen twee digte struike. Terwyl hy buk om Honne se leiband los te maak, hoor hy 'n geritsel in die blare agter hom, maar toe die hond se bruin lyf in die struike verdwyn sonder 'n blaf, dink hy nie verder daaraan nie.
Henk se gedagtes bly woel met Adrie se afgetrokke en belangelose gedrag die afgelope paar weke. In hul sewentien jaar oue huwelik het hulle nog altyd 'n ontspanne, oop verhouding gehad. Probleme is uitgepraat en hulle het beide so opgetree dat daar nie geheime tussen hulle was nie. Daarom is haar optrede nou so onverstaanbaar. Sy gedagtes bly vashaak daarby dat die oorsaak die een of ander ernstige mediese probleem is. Net môre gaan hy vir dr.Visagie skakel. Om dit langer uit te stel sal nie die siekte laat verdwyn nie.
Ongesiens voel hy langs hom op die bankie na waar hy die leiband neergesit het. Dit sal nou weer mooipraat kos om Honne in die hande te kry. Sy hand raak aan 'n harde voorwerp; toe hy afkyk sien hy dat dit 'n kamera is.
“Vreemd,” dink hy, want hy het dit glad nie opgemerk toe hy kom sit het nie. Hy tel die kamera op en sien dit is soortgelyk aan hul gesin s'n. Iemand moes dit daar vergeet het. As hy dit daar los sal dit sekerlik nie weer by die regmatige eienaar uitkom nie, maar hoe spoor hy die eienaar op? By die polisiekantoor afgee? Ook maar riskant. Wag, laat hy kyk of daar foto’s in die geheue is: Miskien herken hy 'n persoon of toneel wat hom 'n leidraad gee.
As Lizl vyf minute later stil langs hom kom sit, kom hy dit skaars agter. Die kamera het al self afgeskakel, maar die foto’s bly voor sy geestesoog afspeel: Adrie wat 'n vreemde man omhels, hand aan hand met hom 'n restaurant instap, hul koppe bymekaar by 'n tafeltjie.
Verstom luister hy hoe Lizl vertel dat haar ma se belangelose gedrag die afgelope tyd ook haar begin pla het. Ten einde raad het sy die vorige middag twaalfuur, toe die graad 10’s uitgestuur is om foto’s te neem vir hul projek, besluit om haar ma by die werk te verras. Sy het gehoop dat hulle iewers oor 'n koppie koffie die probleem rustig kon sit en bespreek.
Maar net toe sy die straat wou oorsteek na haar ma se werksplek, het sy hulle gesien: haar ma en die vreemde man wat mekaar op die sypaadjie ontmoet, omhels, en daarna hand aan hand na die restaurant verder af in die straat stap.
Op die ingewing van die oomblik het sy hulle afgeneem en toe agtervolg om die res van die foto’s te neem. Want sy het geweet dat dit die enigste manier sou wees om haar pa in te lig: Sy het nie die moed gehad om hom net te vertel nie. Sy het geweet van haar pa se gewoonte om op die bankie in die park te gaan sit wanneer hy met Honne gaan stap en so die kamera ongesiens aan hom besorg.
Dit is heelwat later as gewoonlik wanneer Henk-hulle by die huis kom, maar Adrie let dit nie juis op nie. Aan die etenstafel word min gepraat. Dit kom voor of Adrie se gedagtes op 'n ander plek is en Henk en Lizl het klaar in die parkie gepraat.
Adrie gaan kamer toe kort nadat sy die kombuis opgeruim het. Henk lees koerant en Lizl is by die rekenaar besig om foto’s te skandeer, seker vir haar skoolprojek. Sy sien nie kans om selfs met 'n handwerkie by hulle te sit nie, want dit voel of hulle haar onderlangs dophou.
Toe Adrie die volgende oggend later as gewoonlik opstaan, is Henk en Lizl reeds weg en is sy allermins lus vir werk toe gaan. Twee ure later is sy terug by die huis danksy haar jammerhartige baas . Haar kop is seer na 'n slapelose nag, konsentrasie op haar werk was net onmoontlik en dan, Dirk. Sy moet eenvoudig vandag eers ruimte skep om te dink.
Met 'n gevoel van gejaagdheid en gedagtes wat rondfladder soos wasgoed aan 'n draad, gaan sit sy by die kombuistafel met 'n koppie warm tee. Haar oë beweeg uit gewoonte na die foto’s wat in die fotoraampie verbyflits. Dan gaan staan die tyd stil. Dis nie haar gewone natuurfoto’s wat sy sien nie: Dis foto’s van haar troudag, van die dag toe hulle by die huis ingetrek het, Lizl in haar wiegie, sy wat onbevange lag waar Honne haar nat spat na sy bad, van Henk, Lizl en Honne op 'n bankie onder 'n groot boom.
Die tee is al yskoud toe Adrie van die tafel af opstaan, maar dit maak nie vir haar saak nie, want al die warmte wat sy nodig het, het sy op die gesigte van haar man en dogter gesien. Sy het oor en oor daarna sit en kyk asof sy nie genoeg kon kry nie – en daardie warmte sal haar vanaand die moed en krag gee om hulle te vertel van hoe amper sy gedwaal het. En dan moet Lizl die kamera stel om 'n foto van hulle drie te neem, met die elektroniese foto-raampie in die agtergrond. |