|
Die twee seuns het dié aand geen onraad vermoed
nie, want hul pa was die heel week al so:
bewegingloos het hy in die stil sitkamer gesit
en niks gepraat nie. Net voor hom uitgestaar na
die patrone wat die skemer teen die mure teken.
Af en toe die glas met rooiwyn na sy lippe
gebring. Dan 'n sigaret opgesteek. Verder was
daar niks.
Die seuns het hul elders in die huis besig gehou
met hul eie dinge: soms in die kombuis, dan in
die TV-kamer. Partykeer buite in die tuin.
Gereeld op mxit of voor die rekenaar; bitter
selde met 'n skoolboek oop voor 'n lessenaar.
Hul pa was onbewus van hul
doen en late: agtergrondgeluide het vervaag tot
'n onhoorbare gedruis – al wat hy kon hoor was
die Swart Hond se asem wat naby hom verbyskuur.
Hy en die Hond ken mekaar: Die afgelope drie
jaar al dring hy hom in die man se persoonlike
ruimte in, maar die man kon hom nog altyd baklei,
hom wegjaag en die hek toe druk.
Maar na drie jaar het die man se baklei opgeraak.
Die Hond se asem-jaag teen sy keel het sy arms
swak gemaak sodat hy nie meer die hek kon
toedruk nie.
Die seuns het af en toe voor hul pa kom staan om
hom iets te vra, maar die man het hulle nie
gehoor nie. Hulle moes eers aan hom raak; eers
dan sou hy sy kop effens na hulle draai. Die
klanke wat uit hul monde kom, het sinneloos by
hom verbygetrek.
Niemand sou hom ook kontak nie: sy selfoon is in
elk geval die meeste van die tyd afgeskakel, was
die kollektiewe besef teen dié tyd. Hyself het
niemand meer gebel nie: name, gesigte en
herinnerings was slegs verwronge beelde uit 'n
verlede wat hy nie meer kon onthou nie.
Die begin van die aftakeling was on-aangekondig
vinnig: daardie midjaar van 2005 tydens 'n
Saterdagnag. Kort daarna het hy die Hond sien
rondsluip om die huis. Die man het hom eers
dapper probeer verwilder, maar die Hond met die
rooi oë het hom nie daaraan gesteur nie. Eers
het hy gemaak-retireer, maar terug het hy
teruggekom. Nader en nader. Totdat hy sy asem
teen die man se keel kom blaas het.
Die twee seuns het dié aand geen onraad vermoed
nie, want hul pa was die heel week al so:
bewegingloos het hy elke aand in die stil
sitkamer gesit en niks gepraat nie. Hulle het
kom nagsê en in hul kamers verdwyn.
Dit was net die man, die skemerte en die ding in
hom wat agtergebly het. En die Swart Hond wat
eenkant gestaan en wag het.
Die Hond het stadig uit die sitkamer beweeg; toe
in die gang gaan stilstaan, omgekyk. Die man het
sy laaste sluk rooiwyn gevat en die voordeur
gesluit.
Toe hy in sy slaapkamer kom, het die Hond op die
bed gelê en wag. Die man het die gordyne
toegetrek en die lig afgeskakel en ook op die
bed gaan lê.
Dit was vinnig oor: die Swart Hond se byt was
dodelik sekuur.
Die seuns het ook niks gehoor nie. Hulle het
agter toe-deure in hul kamers met lawaaiende
oorfone in hul ore gelê.
|