|
Lambert staan tydsaam op. Hy is gewoond aan die pyn in sy been en heup, maar
soms, as die onweer vanaf anderkant Robbeneiland aankom, weet hy dit die vorige dag al.
Dis wanneer hy meer moet beweeg om die skerper pyne te demp; pyne wat
deur sy heup skeur met elke skewe trappie. Sy gedagtes het hom egter soos elke
jaar se begin, te besig gehou. Sewe maer jare nou al.
“Sewe?” Hy kan skielik nie glo dis al so lank na daardie byna-noodlottige ongeluk
nie. Hy het nie net amper sy been verloor nie, maar ook sy ouers. En natuurlik die
meisie wat hy sy vrou wou maak. Eers wou hy nooit aan hulle dink nie, want die
selfverwyt en verlange het hom opgevreet. Maar later het hy sy drome om hom en
Liselle saam gebruik om aan die lewe te bly. Snags wanneer hy nie kan slaap nie,
sien hy haar in 'n kombuisie, klein en intiem. Soggens wanneer hy opstaan, proe hy
die koffie wat hy vir haar bed toe dra, deel hy met haar 'n bakkie jogurt en muesli
waarvoor sy so lief is. Soms voel hy haar sagtheid in sy arms, hoor hy haar
kloklaggie wanneer hy sy liefde oor haar strooi.
Sy pa is op slag dood toe die vragmotor hulle getref het. Sy ma het glo lank by hom
gewaak en hom sover moontlik versorg, maar haar beserings en die spanning het
hul tol geëis en na 'n paar weke het vriende en verlangse familie haar langs sy pa
begrawe. Hy het sy oë eers 'n maand later oopgemaak, maar toe was alles donker.
Hy, wat alles opsy gesit het om eers sy studies te voltooi. Maar nou, aan die
vooraand van sy laaste jaar, was hy blind. Sy emosies het gedrup van woede teenoor die vragmotorbestuurder.
Sy geliefde professor, dr. Wouter van Zyl, het hom bygestaan en getroos toe hy die
nuus van sy ouers moes aanhoor. Ook hard met hom gepraat toe hy nie wou glo hy sal dalk eendag weer kan sien nie. Menige aand het hy langs sy bed gesit en sy tirades aangehoor.
Met sorg het dr. Wouter hom na sy eie omgee en vergifnis gelei.
Die kliniek hier teenaan die rotse, weggesteek op 'n landkaart aan die Suid-Kaapse
kusgebied, het later sy tuiste geword. Hier het hy vrede gevind en aangebly nadat sy sig
'n jaar later teruggekom het, toe die drukking in sy ontspanne brein opgeklaar
het. Hy het nie sy mediese studies voltooi nie, want wat beteken
'n dokter met krukke nou? Tog het hy onmisbaar geraak hiér by die kliniek waar
gestremde kinders nooit sy mankheid bevraagteken nie.
Die paadjie neem hom tussen die laaste rotse deur. Lambert steek in sy spore vas,
verstom. Hoe kan iemand 'n kind alleen hier laat speel? Dit is wel naby die kliniek se
klein hekkie, maar die naaste van die twee rondawels is 'n entjie weg, net-net sigbaar
tussen die bosse. En die plaashuis is nog verder.
“Hoekom loop jy só ver as jou been seer is?” vra die dogtertjie met 'n helder stem. Hy besef sy moes hom al 'n rukkie dopgehou het.
“Omdat ek oefening moet kry.”
Hy wonder waar sy vandaan kom. “ Wat is jou naam?”
“Lise. En oom s'n?”
“Lambert. Waarom is jy hier?”
“Ons kom nou hier bly,” antwoord sy en klim van die rots af.
“Ons?” Dit tref hom dat sy opvallende groot, groen oë het.
“Ja, ek en Mammie.” Sy wys na die hekkie. “Bly jy dáár?”
Hy knik. “Waar is jou ma? Weet jy nie dis gevaarlik om alleen hier rond te dwaal nie?”
Sy hou een hand oop en die ander hand se duimpie omhoog.
“Ek is al ses. Ek sal nie wegraak nie.”
“Ja. Dalk nie, jy is al yslik groot. Maar nogtans moet jy nie . . .”
Iemand roep van die rondawel se kant af. Met 'n “ek kom weer kuier!” draf sy weg.
Toe sy naby die rondawel is, stap Lambert deur die hekkie en sluit dit toe. Die
kinders word nooit toegelaat om alleen rond te dwaal nie. 'n Ander paar groen oë se
hartseer kom staan voor hom: Liselle. Hy het haar so lief. Sy was altyd so gelukkig:
dartelend soos 'n vlinder oor die kampus heen. Hoe kon hy haar bind aan sy
blindheid? Hy was so bang om haar later te verloor as sy nie meer kans sou sien vir
'n mank, blinde man nie. Baie later het hy besef dat hy haar 'n onvergeeflike onreg
aangedoen het deur haar nie te vertrou het nie.
Haar hande het soos 'n koel bries om sy wange gevou. Sy kon hom in die stilte van
sy studie-ure met haar glimlag dra en sy skouers masseer wanneer hy moeg 'n
ruskans neem. Hulle liefde was volmaak, hoe kon hy dit ooit vergeet? Maar toe was
dit te laat. Dr Wouter het hom oor en oor gevra om haar 'n kans te gee, maar hy het
hardkoppig bly weier en hom belet om sy adres aan haar te gee.
Na nog 'n rustelose nag hinkepink Lambert twee oggende later na matrone se
kantoor en wonder waarom sy hom wil sien. Hy wonder vir wie Lise-hulle kom kuier het.
Dan dink hy aan die tekort aan personeel. Hy hoop Matrone kon daarin
slaag om nog verpleeghulp te kry. Voor haar kantoor huppel 'n kind. Lise! Wat maak
sy hier? Sou sy dan tog lig-verstandelik gestrem wees?
“Môre Oom!” Haar gesiggie helder op in die mooiste glimlag. “Kom oom 'n dokter
soek?”
“Nee Lise, maar die tannie hier wil my sien. Hoekom is jý hierso?”
“Mamma is daarbinne. Ons kom mos hier bly, onthou?”
Daar is 'n bankie langs die kantoordeur waar Lambert gaan sit. Hy weet Matrone sou die
krukke hoor en hom roep. 'n Minuut later roep sy: “Lambert, kom binne, ons
wag vir jou.”
Liselle hou op asemhaal. Sy het só lank vir hierdie dag gewag!
Daardie dag toe Lambert haar bruusk vanaf sy hospitaalbed weggejaag het, het sy haar voorgeneem dat
sy sal terugkom. Sy was seker dat hy 'n dag of drie later sou besin. Maar toe sy
weer by sy kamer instap, het die leegheid haar wêreld in duie laat stort. Teen die
aand was sy waansinnig van angs. Geeneen in die hospitaal kon haar vertel wie
het hom kom haal of waarheen hy gegaan het nie.
Matrone Buys het 'n baie sagte plekkie vir hierdie groot man net die mank been. Sy
het eenkeer gevra of hy nie dink aan amputasie en dan 'n goeie kunsbeen nie.
“Nee, Matrone,” het hy bot geantwoord. “Dit moet my herinner aan die grootste fout wat ek in my lewe gemaak het.”
Lambert stap stadig in die kantoor in. Voor die venster staan 'n vrou. Matrone stap
om die lessenaar tot by Lambert en kyk dan na Liselle.
“Suster, laat ek jou voorstel aan ons amper-dokter. Lambert, dit is suster Liselle.”
Lambert snak na sy asem. Alles draai om hom; dan skud hy sy kop en probeer deur die newels terugkom aarde toe.
“Sit, Lambert. Ons kan jou nie optel as jy val nie.”
Hy gaan sit op die hoek van die lessenaar. Matrone kyk van die een na die ander; sy weet hier speel 'n lewensdrama af. By die filterhouer skink sy 'n glas water en hou dit na Lambert. “Drink 'n paar slukkies.”
Willoos gehoorsaam hy. Liselle kyk op.
“Matrone, ek is jammer. Ek het gedink Lambert weet dat ek hiernatoe kom.”
“Nee Suster Liselle. Jou aansoek om dadelik te begin, het ek nog nie met almal
bespreek nie.”
Dan is hulle drie stil. Elkeen wil iets sê, maar weet nie hoe om te
begin nie. Matrone besluit om hulle 'n rukkie alleen te laat. Sy trek die deur agter
haar toe en kry vir Lise in die gang. “Kom ons gaan soek koeldrank.”
Vol vertroue neem Lise hierdie nuwe ouma se hand en huppel al die pad kombuis toe.
“Liselle?” Sy vraag is sag maar dringend. Sy huiwer, so seker as wat sy eers geweet het
wat sy sou sê, so huiwerig is sy nou voor hierdie nuwe man. Sewe jaar is langer as
wat sy onthou.
“Lambert, vergewe my asseblief,” pleit sy. “Maar ek het af en toe kontak gehad met
dr. Wouter. Ek het geglo hy weet waar jy is. Eendag het ek geweier om te ry
voor hy my vertel waar jy is. Dit was twee maande voor sy dood.”
“Liselle, hoe kan jy my ooit vergewe?” Lambert se stem is skor; die emosies wissel oor sy gesig.
Hy wil opstaan, maar sy bene bewe nog. Sy vat die krukke en sit dit eenkant
neer. Dan sit sy haar arms om sy lyf en druk haar kop teen sy bors. Hy trek haar
stywer teen hom vas. “Ek het lankal verstaan en vergewe. Dr. Wouter het
my ook vertel van jou woede en wroeging, jou vergifnis, jou vrese.”
Skielik onthou Lambert iets. Hy stoot haar weg van hom sodat hy in haar oë kan kyk.
“Liselle, jou kind, Lise . . .?”
Liefde straal uit haar hele wese.
“Sy is ons s'n Lambert. Jou kind en myne.”
|