Die heilige waarheid
Magda bars van opgewondenheid as sy dringend aan haar buurvrou se deur klop.
Estelle het nog haar kamerjas aan. “Aarde Magda! Dit is voor sewe in die oggend! Is daar iets fout?”
Magda wurm haarself verby Estelle. “Ek moet jou vertel! Herman het gisteraand oorgeslaap!” babbel sy uitasem.
Skielik is Estelle helder wakker en die ene ore. Hiér kom 'n lekker storie, want Magda en Herman sien mekaar mos nou al 'n geruime tyd.
“Dit was so romanties! Ons het by kerslig geëet, ure sit en gesels en baie, baie later sommer daar op die mat aan die slaap geraak. Toe ek wakker word, was hy reeds weg, maar daar het 'n bloedrooi roos langs my kussing gelê. Ek is so gelukkig! Dit voel of ek my kop 'n paar keer moet stamp om te glo dis alles waar,” sê Magda terwyl sy maak asof sy haar kop teen die kosyn stamp.
Estelle probeer 'n woord inkry, maar Magda stoom weer voort. “Dit was 'n ongelooflike nag. Hy is 'n wonderlike man. Ek dink ek is die gelukkigste meisie op aarde! Maar wag, ek moet hardloop, anders is ek laat vir werk. Baai, sien jou later!” roep Magda oor haar skouer toe sy al halfpad by die deur uit is.
Estelle kyk hoe Magda vervaard oor die straat hardloop en sien hoe 'n aankomende motoris skielik rem moet trap om haar nie raak te ry nie. Sy skud haar kop: Sy moet tog onthou om vir Marie te vertel, want sy het juis die anderdag daarop gesinspeel dat Magda seker nooit vir Herman aangekeer sal kry nie. Maar wag tot sy dié storie hoor!
Estelle leun agteroor in haar stoel met die telefoon in haar hand.
“Marie, ek moet jou gou iets vertel: Hou vas aan jou stoel vriendin, want jy gaan dit nie glo nie! Herman het toe mos die hele nag by Magda deurgebring. En dit is nie al nie, hy het stil-stil douvoordag weggeglip, maar eers 'n roos in Tannie Els van langsaan se tuin gepluk en dit op haar kussing gelos. Sy was so opgewonde toe sy hier by my aankom dat sy haar kop teen die deur moes stamp om te glo alles is waar en 'n motor het haar amper raakgery toe sy hals oor kop oor die straat gehardloop het! Ag, dis só romanties,” ug Estelle uitasem.
“Maar wag ek moet gaan, ons is baie besig. Baai! Ons praat weer later,” groet Estelle en glimlag terwyl sy die telefoon neersit. Sy sal werklik bly wees as dinge vir Magda en Herman uitwerk. Hulle is albei gawe mense en verdien om gelukkig te wees.
Marie sit haar telefoon stadig neer en glimlag geheimsinnig: Wag maar tot Rita hiervan hoor; sy was mos op 'n stadium erg beenaf oor Herman. Sy móét haar eenvoudig vertel.
Marie draf na die kantoor skuins oorkant haar eie.
“Rita, hoor 'n bietjie hier!” sê sy en gaan sit op die kant van die lessenaar.
“Ek hoor Magda het dit toe eindelik reggekry om Herman te verlei. Dit het blykbaar vannag so erg daar by haar huis gegaan, dat tannie Els van langsaan by Estelle gaan kla het. Magda het blykbaar 'n yslike knop op haar kop en sy was so deurmekaar dat sy amper voor 'n motor ingeloop het! O ja, en die hele wêreld was besaai met rose. Magda is toe glad nie so 'n engeltjie as wat ons altyd gedink het nie! Maar wag, ek moet hardloop. Het nou-nou 'n vergadering,” skree sy, haastig oppad na haar eie kantoor.
Rita sit ingedagte. Herman is 'n regte luis! Die een of twee keer wat hulle saam uit was, kon hy skaars boe of ba sê, en nou? En dan met Magda van alle mense! Sy voel hoe haar keel toetrek van ontsteltenis. Vinnig skakel sy 'n nommer.
“Hallo Suzette, het jy gou 'n paar minute? Ja jong, ek is baie ontsteld. Ek moet net eenvoudig met iemand praat. Kan jy glo wat daardie luis van 'n Herman aangevang het? Hy was die hele nag by Magda en het haar blykbaar probeer verkrag. Ja, ek sê jou! Sy het vanoggend vroeg in 'n vreeslike toestand by Estelle ingestorm. Sy is so vol merke dat Estelle vir Tannie Els van langsaan gaan roep het om te kom kyk. Dié was mos besig om rose te pluk en het in haar haas amper voor 'n aankomende motor ingeloop. Die rose het die hele straat vol gelê, hoor ek.”
Uiteindelik vat Rita 'n blaaskans en 'n sluk water voor sy verder stoom.
“Maar natuurlik is dit die waarheid. Die heilige waarheid! Hoekom sal Marie nou oor so iets lieg? Nee jong, ek is maar net te bly ek het nie toegelaat dat dinge tussen my en Herman te ernstig geraak het nie, anders was ek dalk nou die slagoffer. Maar dankie dat jy geluister het. Ek maak na werk by jou 'n draai. Sien jou!” sê Rita en druk die telefoon met mening af.
Magda sit droomverlore verlief en staar sielsgelukkig na 'n enkele bloedrooi roos in die vaas op haar lessenaar. Sy skrik toe haar selfoon skielik lui.
“Magda, goeie dag,” antwoord sy. “Wie? O, hello Suzette!”
“Aai Magda, ek het die nuus gehoor!” sê Suzette.“Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, maar ek hoop maar net alles gaan uiteindelik vir jou regkom. Sterkte vriendin.”
“Baie dankie Suzette. Dis werklik gaaf van jou om te bel,” antwoord Magda.“Ek kan nie glo hoe vinnig 'n storie versprei nie, maar ek waardeer dit baie dat jy ten minste probeer verstaan hoe ek vanoggend voel. Na so 'n lang tyd saam moes ek seker geweet het dat dit enige tyd kan gebeur, maar Herman het my totaal verras! Ek kan dit steeds nie glo nie!”
Magda tel die vaas op en soen die roos. Sy is darem baie gelukkig om sulke goeie vriendinne te hê wat in haar onbeskryflike vreugde deel, dink sy.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joufiksie volgende artikel vorige artikel |

