|
joufiksie
Dit was die Portugees van die negosiewinkeltjie wat die driepoot-pot verkoop het vir die seepkokery. Maar toe breek die pot se een poot af met die eerste keer op die vuur – en geen sweis kan daardie blerrie stuk potyster regkry nie en die Portugees wil van niks weet nie.
deur Pieter Labuschagne
"Ja," sug
oom Krisjan vanaf agter sy glas bier, "besigheid is ook nie meer
besigheid nie . . ." Hy draai sy gesig weg van sy bier en kyk my aan asof ek nou nie eintlik weet waarvan ek praat nie, maar ek hou my dom en vat 'n handvol grondboontjies sodat my mond iets het om te doen.
Oom Krisjan vat nog 'n sluk van sy bier en sug weer. Hiérdie keer sê hy niks – hy volg dit net op met nog 'n diep sug. Ek luister hom maar só, en ek kan sien hy wroeg erg. Hy kyk weer so skalks na my en vat nog 'n sluk. Toe weet ek, hier is 'n storie, ek moet net vra.
"Nou hoe maak die besigheid dan nou met oom saam?" vra ek effens verdwaas want oom Krisjan is darem al baie lank in die tand om nog met besigheid te neuk. En daar trek hy los . . . die Portugees van die negosiewinkeltjie op ons dorp wat dan nou kwansuis aan hom 'n driepoot-pot verkoop het wat tant Krissie wil gebruik met die seepkokery. Die pot se een poot het dan nou afgebreek met die eerste keer op die vuur. Oom Krisjan sê geen sweis kan daardie blerrie stuk potyster regkry nie en die Portugees wil van niks weet nie.
My gemoed val van my gesig af. Daar gaan die storie . . . Vir oom Krisjan lyk ek seker baie hartseer, want sy gemoed skiet vol en sy oë kry so 'n ver kyk. "Laat ek jou vertel van toentertyd se besigheid, toe besigheid nog besigheid was," straal sy gesig weer in sy poging om my seker te probeer opbeur. "In die dae toe ons nog regte slaghuise gekry het," begin hy, "het oom Freddie Tjops die slaghuis gehad". Van oom Freddie Tjops het ek al gehoor. Blykbaar nogal 'n legende op sy tyd, sakeman en ernstig eerlik en regverdig, sê die mense. Jare lank burgemeester en nog baie ander dinge. Oom Krisjan wil nou vir my vertel van hoe eerlikheid werk. Ek sit regop, hier is die storie nou!
Oom Krisjan vertel my toe van tant Kerneels van oom Kerneels wat elke Vrydag dorp toe gegaan het om die week se kruideniersware en ander negosiegoedjies aan te koop. Dan het sy op pad terug huis toe by oom Freddie Tjops gestop om 'n geslagte hoender te kry. Sondae bak sy vir haar en oom Kerneels die heel hoender in die bakoond en die is dan die enigste groot ete wat die twee dan vir die week het. Al tradisie, die hoenderkopery op 'n Vrydag. En so in sy aard, het oom Freddie Tjops dan altyd die grootste hoender sorgvuldig in sy instap-yskas uitgesoek vir tant Kerneels.
So kom tant Kerneels weer een Vrydagmiddag by die slaghuis aan vir haar hoender. Nou, vertel oom Krisjan my, sien oom Freddie Tjops haar inkom en vra hy haar verbaas "en nou tante, hoekom so in die middel van die week in die dorp?" So het die Vrydag 'n bietjie vinnig vir oom Freddie Tjops gekom en het hy dadelik aan sy voorraad hoenders in die yskas gedink.
'n Goeie sakeman laat hom egter nie van koers af bring nie en hy duik in die yskas in met sy gewone goedheid om daardie hoender te kry vir tant Kerneels. Met die gooi van sy oog so na die hoenders se kant toe sien hy eers niks en sy hart word koud. Hierdie naweek kry die ou mense honger! En dan sien hy hom, daar lê nog een hoender in die hoekie op die rakkie!
Met verligting in sy hart gryp hy na die hoender. Dan sien hy hoekom hierdie hoender die laaste een op die rakkie is. Met die optel hang die ou vlerkies sommer so afdraand van maerheid en die hoendertjie was seker nog laasweek 'n kuiken reken oom Freddie Tjops so in die kyk.
Hy haal die hoendertjie uit en wys vir tant Kerneels. Tant Kerneels het die hoendertjie so betrag en toe weer van die ander kant bekyk en met 'n skuins trek op haar gesig vra sy toe of sy nie maar 'n ander een kan kry nie.
Oom Freddie Tjops se hart pyn. Hy kan nie vandag vir tant Kerneels wegstuur sonder kos nie en hoe lieg hy nou? Dit is mos nou nie in sy natuur nie. Stadig drentel hy terug yskas toe. In die yskas kyk hy weer rond, dalk is daar êrens nog een hoender. Maar helaas, geen gevogelte in sig nie. Nou begin die planne kom, lieg hy of help hy?
Hy kyk die hoendertjie in sy hande so skalks aan. Dan druk hy die wit lyfie bymekaar, pof so bietjie aan die dytjies, kry die vlerkies bymekaar, pak die nekkie mooi reg. Die hoendertjie begin nou al na ietsie lyk. Nog so paar drukke en stote en oom Freddie Tjops begin al self van die hoendertjie hou. Trots dink hy by homself: "Hierdie naweek sal die Kerneelse nie honger ly nie!" en hy stap voldaan uit die yskas uit, gepofte hoendertjie in die hande.
"Hier's hy tant Kerneels! Hierdie enetjie lyk sommer baie beter!" Tant Kerneels vat die hoender en in haar noppies sê sy: "Ou Freddie, baie beter! Kan ek dalk nog so enetjie kry?"
"En so was besigheid nog besigheid," sê oom Krisjan. Oom Krisjan vertel my dat oom Freddie Tjops so ongewoond daaraan was om sy klante te verneuk dat hy daardie selfde maand nog sy slaghuis gesluit het en twee dorpe verder met eiers gaan boer het. Skaam van verneuk, nes die Portugees moes wees!
|