|
"Ja,"
sug oom Krisjan vanaf agter sy glas bier, "besigheid
is ook nie meer besigheid nie . . ."
Ek verstaan nie eintlik wat hy bedoel nie, en sê
toe maar: "Ja, die wêreld het verander."
Hy draai sy gesig weg van sy bier en kyk my aan
asof ek nou nie eintlik weet waarvan ek praat
nie, maar ek hou my dom en vat 'n handvol
grondboontjies sodat my mond iets het om te doen.
Oom Krisjan vat nog 'n sluk van sy bier en sug
weer. Hiérdie keer sê hy niks – hy volg dit net
op met nog 'n diep sug. Ek luister hom maar só,
en ek kan sien hy wroeg erg. Hy kyk weer so
skalks na my en vat nog 'n sluk. Toe weet ek,
hier is 'n storie, ek moet net vra.
"Nou hoe maak die besigheid dan nou met oom saam?"
vra ek effens verdwaas want oom Krisjan is darem
al baie lank in die tand om nog met besigheid te
neuk. En daar trek hy los . . . die Portugees
van die negosiewinkeltjie op ons dorp wat dan
nou kwansuis aan hom 'n driepoot-pot verkoop het
wat tant Krissie wil gebruik met die seepkokery.
Die pot se een poot het dan nou afgebreek met
die eerste keer op die vuur. Oom Krisjan sê geen
sweis kan daardie blerrie stuk potyster regkry
nie en die Portugees wil van niks weet nie.
My gemoed val van my gesig af. Daar gaan die
storie . . .
Vir oom Krisjan lyk ek seker baie hartseer, want
sy gemoed skiet vol en sy oë kry so 'n ver kyk.
"Laat ek jou vertel van toentertyd se besigheid,
toe besigheid nog besigheid was," straal sy
gesig weer in sy poging om my seker te probeer
opbeur.
"In die dae toe ons nog regte slaghuise gekry
het," begin hy, "het oom Freddie Tjops die
slaghuis gehad".
Van oom Freddie Tjops het ek al gehoor. Blykbaar
nogal 'n legende op sy tyd, sakeman en ernstig
eerlik en regverdig, sê die mense. Jare lank
burgemeester en nog baie ander dinge. Oom
Krisjan wil nou vir my vertel van hoe eerlikheid
werk. Ek sit regop, hier is die storie nou!
Oom Krisjan vertel my toe van tant Kerneels van
oom Kerneels wat elke Vrydag dorp toe gegaan het
om die week se kruideniersware en ander
negosiegoedjies aan te koop. Dan het sy op pad
terug huis toe by oom Freddie Tjops gestop om 'n
geslagte hoender te kry. Sondae bak sy vir haar
en oom Kerneels die heel hoender in die bakoond
en die is dan die enigste groot ete wat die twee
dan vir die week het. Al tradisie, die
hoenderkopery op 'n Vrydag. En so in sy aard,
het oom Freddie Tjops dan altyd die grootste
hoender sorgvuldig in sy instap-yskas uitgesoek
vir tant Kerneels.
So kom tant Kerneels weer een Vrydagmiddag by
die slaghuis aan vir haar hoender. Nou, vertel
oom Krisjan my, sien oom Freddie Tjops haar
inkom en vra hy haar verbaas "en nou tante,
hoekom so in die middel van die week in die dorp?"
So het die Vrydag 'n bietjie vinnig vir oom
Freddie Tjops gekom en het hy dadelik aan sy
voorraad hoenders in die yskas gedink.
'n Goeie sakeman laat hom egter nie van koers af
bring nie en hy duik in die yskas in met sy
gewone goedheid om daardie hoender te kry vir
tant Kerneels. Met die gooi van sy oog so na die
hoenders se kant toe sien hy eers niks en sy
hart word koud. Hierdie naweek kry die ou mense
honger! En dan sien hy hom, daar lê nog een
hoender in die hoekie op die rakkie!
Met verligting in sy hart gryp hy na die hoender.
Dan sien hy hoekom hierdie hoender die laaste
een op die rakkie is. Met die optel hang die ou
vlerkies sommer so afdraand van maerheid en die
hoendertjie was seker nog laasweek 'n kuiken
reken oom Freddie Tjops so in die kyk.
Hy haal die hoendertjie uit en wys vir tant
Kerneels. Tant Kerneels het die hoendertjie so
betrag en toe weer van die ander kant bekyk en
met 'n skuins trek op haar gesig vra sy toe of
sy nie maar 'n ander een kan kry nie.
Oom Freddie Tjops se hart pyn. Hy kan nie vandag
vir tant Kerneels wegstuur sonder kos nie en hoe
lieg hy nou? Dit is mos nou nie in sy natuur nie.
Stadig drentel hy terug yskas toe. In die yskas
kyk hy weer rond, dalk is daar êrens nog een
hoender. Maar helaas, geen gevogelte in sig nie.
Nou begin die planne kom, lieg hy of help hy?
Hy kyk die hoendertjie in sy hande so skalks aan.
Dan druk hy die wit lyfie bymekaar, pof so
bietjie aan die dytjies, kry die vlerkies
bymekaar, pak die nekkie mooi reg. Die
hoendertjie begin nou al na ietsie lyk. Nog so
paar drukke en stote en oom Freddie Tjops begin
al self van die hoendertjie hou. Trots dink hy
by homself: "Hierdie naweek sal die Kerneelse
nie honger ly nie!" en hy stap voldaan uit die
yskas uit, gepofte hoendertjie in die hande.
"Hier's hy tant Kerneels! Hierdie enetjie lyk
sommer baie beter!"
Tant Kerneels vat die hoender en in haar noppies
sê sy: "Ou Freddie, baie beter! Kan ek dalk nog
so enetjie kry?"
"En so was besigheid nog besigheid," sê oom
Krisjan.
Oom Krisjan vertel my dat oom Freddie Tjops so
ongewoond daaraan was om sy klante te verneuk
dat hy daardie selfde maand nog sy slaghuis
gesluit het en twee dorpe verder met eiers gaan
boer het. Skaam van verneuk, nes die Portugees
moes wees! |