|
“Emma! Gaan haal asseblief die pienk deken in die gangkas!” skreeu haar pa van buite af.
Emma kry die deken en hardloop kar toe. Dis nog pikdonker buite: Die son het nog nie sy kop oor die horison gesteek nie en die haan het ook nog nie eens gekraai nie.
“Maak nie saak wát ek doen nie, ek kan net nie al hierdie tasse in die kattebak kry nie,” sê haar pa moedeloos.
Dan maak hy al die tasse leeg binne in die deken, maak 'n knoop, en prop die deken binne in die kattebak.
“Dis beter!” sê hy dan.
Pa en Ma sit voor, terwyl Emma, haar broer en suster agter in die kar soos sardientjies ingeryg sit. Hulle ry met die ou afgeleefde blou Peugeot wat met sykouse en swartsakke aan mekaar gehou word: Ratata, ratata, katjoeng! En daar gaat hulle!
Emma is só opgewonde dat sy eenvoudig nie kan stil sit of bly nie. Hulle is skaars op die hoofweg, toe wil sy al weet: “Hoe ver nog? Hoe lyk die see? Hoe lyk die branders?”
Want dit is die eerste keer dat Emma see toe gaan nadat Oom Frans en Tant Susan hulle na hul vakansiehuis genooi het.
Later stop Pa langs die pad sodat hulle ontbyt kan eet. Ma het lekker gekookte eiers, toebroodjies en 'n fles koffie ingepak, en Emma eet sommer heerlik!
“Kom julle,” sê Pa toe hulle klaar geëet het. “Ons moet aanstaltes maak, want die pad is nog lank!”
Emma raak sommer baie moedeloos toe sy dit hoor, maar na baie kilometers se ry en ure se rondskuif en bakleiery op die agtersitplek, kondig Pa aan: “Ons is amper daar! Enige tyd nou!”
Die volgende oggend vroeg hardloop Emma en haar broer en suster reguit na die strand toe. Die kinders speel en baljaar in die water en lag vir die branders wat hulle onderstebo slaan. Later bou hulle sandkastele, tel skulpe op en hardloop oor die nat sand en kyk hoe die water in hul voetspore opdam.
Kort voor lank is die kinders lekker honger! Gelukkig het Pa en Oom Frans wors gebraai terwyl Ma en Tant Susan broodrolletjies en aartappelslaai uitdra.
Emma skep haar bord sommer propvol en gaan sit op die grond met haar papierbord, servet, mes en vurk. Sy probeer alles tussen haar knieë balanseer, en skuifel na agter op haar boude.
Maar o aardetjie tog! Sy kyk nie waar sy sit nie, en beland bo-op 'n turksvyblaar.
“Eina! My boud!” skree sy terwyl sy opspring en die papierbord en boerewors deur die lug vlieg.
Emma is erg verleë, want almal lag vir haar: Die vernedering van haar ego was erger as die brandsensasie op haar boud, só skaam het sy gekry.
Ma het gou 'n tangetjie gaan haal, die dorings uitgetrek en 'n pleister op al die einatjies geplak.
Emma het beslis een ding geleer, en dit is om altyd eers te kyk voordat jy gaan sit. Sy sal dáárdie steek nooit vergeet nie!
|