Lorraine Joubert

deur Lorraine Joubert




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Alleen op die skip, hopend op 'n klein bietjie genade, het sy uitgegaan op die dek.

Sy het duiwel gevat, daardie onweersoggend. Vyf minute voor die storm uitgebreek het. Sekondes na die vuis-in-die-wind haar getref het.

Sy het laat wakker geword. Uitgeput en lewensmoeg het sy wakker geword en opgestaan. Maande van seil en dobber het haar krag afgetap. Weke van stuur en baklei teen die elemente het haar dolleeg en vuisvoos gelaat. Hopend op 'n klein bietjie genade, het sy uitgegaan op die dek. Die wolke het woedend saam gemaal. Die wind het op haar neer gesmaal.
Hulle was besig om die skip te verf – oranje!
Nie die wit van vrede nie.
Nie die blou van kalmte nie.
Nie die mushroom van genade nie.
Nie eers die groen van hoop nie.
Sonnige, sarkastiese, sieklike oranje!
En toe het sy duiwel gevat.
Sy het hulle almal van die skip afgejaag. Die gaste – genooides en ongenooides – moes haastig hul tasse pak en die skip verlaat. Die handlangers het hul sakke en gereedskap gegryp, en sommer ook 'n paar ekstra goedjies gesteel. Die kok moes sy potte met ontbyt laat staan en die skip verlaat. Die stuurman moes die stuur vasmaak en gaan. Van nou af, sou sy alleen staan. Sy sou geen genade vra nie.
Die storm het losgebreek. Sy was vrou-alleen op die skip. Niemand om te help stuur nie. Niemand om te help met die seile nie. Die storm het 'n lang ewigheid en nog 'n dag geduur.

Sy word wakker. Buite skree die seemeeue. Sy ruik see en wind. Proe die sout op haar tong. Die regte dag om die hawe te verlaat . . .
Moedeloos en mistroostig sit sy voor die kaarte. Gedaan laat sak sy haar kop op haar arms. Verslae begin sy prewel: “Liewe Here . . . ”
“Nee . . . ”
Hy het die skip lankal verlaat - Sy beloftes vergete.

“As ek net die kaarte kon verstaan . . . ”

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend