|
Dis kort voor sewe toe die motortjie die erf
binnedreun. Dit kom tot stilstand op die oprit
langs die huis. Die Ma klim uit en maak die deur
vir die dogtertjie oop.
“Ek wil self uit klim,” kom dit van haar.
Ma neem haar rugsakkie met die dag se kossies
vir die kleuterspeelgroep, skoon kleertjies
ingeval van 'n glipsie of ongelukkie in die
modder by die speelgroep, uit die motor, tel die
dogtertjie op, klap die motordeure toe, en stap
oor die grasperk na die voordeur. Oupa en Ouma
is reeds op die stoep voor die deur om hulle te
verwelkom.
“Hallo Oupa Kas en Ouma Nakkie,” kom die groet
en die dogtertjie eggo dit agter haar Ma aan.
Oupa neem die kindjie oor by die Ma. Sy groet om
werk toe te ry. Die dogtertjie is soms
vermaaklik en wil nie haar Ma groet nie.
“Toe, sê tatta vir Mamma, sy gaan darem vreeslik
huil as jy so lelik is met haar,” sê Oupa.
'n Beskeie wuif met die linkerhandjie volg.
Mamma vertrek en die drie stap die huis binne.
Oupa sit vir Liesie neer en kyk haar agterna
wanneer sy die kombuis binne stap. Skaars twee
bakstene hoog, netjies uitgevat met 'n
langbroekpakkie en bypassende kopdoekie.
Pragtige dogtertjie, met donker haartjies,
donker ogies wat soms van plesier kan blink en
lag of netso skielik in onheilspellende kolke
van aggressie en woede kan verander. 'n
Bondeltjie liefde wat jy wil troetel en teen jou
wil vasdruk, maar ook met 'n eie wil. Pynlik
netjies, georden, so klein as wat sy is. Wanneer
sy opgestaan het, moet haar bed eers opgemaak
word voordat sy aantrek, en sy besluit wat sy
aantrek, Ma kan maar voorstel wat sy wil. Lief
om saam te gaan winkels toe. Altyd 'n handsakkie
oor die skouer, kopdoekie om die hare, en 'n
parmantige selfversekerde stappie. Een groot
bondel liefde.
“Ek wil pappies hê,” kom die eerste bestelling.
Oupa gaan haal die graankos uit die kas en breek
dit fyn in 'n papbordjie, gooi eers kookwater
daaroor om dit te week en dan die melk.
“Ek wil self suikel oolgooi,” dring sy r-loos
aan.
Oupa skuif die suikerpot nader en sy skep
onhandig 'n lepel suiker en blops dit op
'n hoop in die pap. Dan nog een. Oupa sien die
skuif, neem die paplepeltjie en roer die suiker
by die pap in. Dan begin sy eet. Sy vra 'n
broodjie. Oupa smeer gedienstig 'n sny en sit
kaas daarop. Sy lek die gerasperde kaas af,
stukkie vir stukkie.
“Ek’s klaal,” kondig sy aan. Oupa vra sy moet
die brood ook eet. “Ek’s klaal,” bevestig sy.
Oupa sê: “Mens mors nie met kos nie.”
“Dis sommer stlont” sê sy r-loos.
Oupa dog hy hoor verkeerd en vra wat sy gesê
het.
“Why not, why not!” koggel sy.
“Because,” sê Oupa, “because”. Hy tel haar van
die stoel af.
Sy loop vooruit na die studeerkamer/werkkamer
waar die rekenaar staan.
“Oupa, ek wil Kaleltjie kameelpêld kyk op die
lekenaal,” versoek sy.
Oupa loop na die TV-kamer en gaan haal die twee
weergawes van Kareltjie sodat sy kan kies watter
een sy graag wil sien.
“Ek wil die looie kyk”.
Hy haal die DVD uit die houer, en laai dit in
die rekenaar. Hy tel haar op sy stoel voor die
rekenaar en aandagtig volg sy die storielyn.
“Ek is klaal, Oupa, ek wil die anel ene kyk”.
Hy ruil die DVD’s. Sy kyk so twee storietjies.
“Ek wil luckel Lulu kyk, Oupa”.
Sy wip van die stoel af, en Oupa skakel die
rekenaar af. Hulle gaan TV-kamer toe om Little
Lulu se video op die TV te kyk. Na die morele
versterking van Lulu is sy gereed om die dag se
skoolroetine te gaan aanpak.
“Kom sit jou sakkie op jou rug,” versoek Oupa en
sy gehoorsaam. Sy draai om, steek haar armpies
in die lug en werp haar in haar Oupa se arms.
Liefderyk tel hy haar op sy arm.
“Groet vir Nomi,” (die huishulp) sê hy. “Baai
Nomi!” kom dit van die dogtertjie. “Lekker dag,
Liesie”.
Oupa en Liesie loop uit na die motor.
“Ek wil vool sit Oupa, Ammi kan agtel sit”. Ammi
is haar maatjie wat saam kleuterskool toe ry.
Dis altyd 'n hewige stryd tussen die twee wie
voor en wie agter moet sit in die motor. Oupa
Kas bring hulle weg skool toe en Oupa Han gaan
haal hulle by die skool in die middag. So, Oupa
Kas het gereël dat Liesie soontoe voor sit, en
terug sit Ammi voor. Die vrede is herstel. Vir
die huidige altans.
Hulle ry in by die ander dogtertjie se adres.
Oupa druk die klokkie by die hek om hul koms aan
te meld.
“Ek wil saam Oupa,” kondig Liesie aan.
Oupa maak die deur oop en tel haar uit. Sy
hardloop vooruit na die voordeur. Die ander
dogtertjie kom uit met haar sakkie in haar hand
en hardloop by Liesie verby na die motor tot by
die agterste deur en wag vir Oom Kas om dit oop
te maak dat sy kan inklim.
Liesie klim voor in. “Jy kan nie voor sit nie.”
“Ek kan, vanmiddag as Oupa Han my kom haal sit
ek voor,” kap die maatjie terug.
“Oom, Calli sê sy mag nie by my huis kom speel
nie, sy is nie meer my maaitjie nie,” kom dit
van die ander dogtertjie.
“Jy’s ook nie my maatjie nie,” kap Liesie terug.
“Is,”
“Issie,”
“Toe nou julle twee,” kom dit van Oupa Kas, “wie
se wit duiwe is dit daar by julle huis op die
gras?” stuur hy die gesprek in 'n ander rigting.
“Ons s'ne,” kom dit van die ander dogtertjie.
“Ons het nie duiwe nie,” kondig Liesie aan, “net
'n hond.”
“My Boetie het ook 'n hond,” sê die dogtertjie.
Hulle arriveer by die skool.
“Ek wil die hek oopmaak!” kom dit van die ouer
dogtertjie.
“Nee, ek wil,” kom dit van Liesie.
Oupa Kas reël dat die langste een die hek kan
oopmaak en dat die ander een dit dan toemaak.
Dis aanvaarbaar so en hulle klim uit die motor.
Die ander dogtertjie hardloop om die hek te gaan
oopmaak. Liesie volg stadig met haar kort
beentjies. Toe hulle deur die hek is, help Oupa
haar om dit weer op knip te sit. Hulle stap
verder na die traliedeur by die speelgroep se
vertrek.
“Hallo julle twee, ag maar julle lyk so pragtig
vanmôre, ek is so bly julle is hier!” roep die
juffrou uit.
“Hallo Liesie, hallo Ammi,” groet die assistent
vriendelik.
“Môre Oom,” groet sy en hulle wissel 'n paar
woorde oor hoe dit vanoggend gegaan het met die
twee skoliere.
Die kindertjies gooi hulle rugsakkies af, die
assistent neem dit en sit dit in hul vakkies, en
hulle stap deur na die ander kindertjies toe.
“Tatta Liesie, Tatta Ammi” groet Oupa Kas.
Liesie draai om en sê sag, bedeesd, “Baai Oupa
Kas,” terwyl sy floutjies met die regterhand
waai en verdwyn in die speelkamer in.
Oupa Kas staar hulle agterna, dink terug aan hoe
dit was toe sy eie kinders so groot was. Die
ouderdom bring wysheid, lankmoedigheid en
geduld. Hy sê 'n stille dankgebed op dat hy die
kindertjies so tot diens kan wees en ry in
stilte huis toe om sy dagtaak te gaan voortsit.
|