|
Die man by die kantoor het so skalks gesê: "'n
Man wat al die pad deur Botswana tot in Namibië
op 'n motorfiets ry, is seker nie bygelowig nie."
Toe James die man vraend aankyk, beduie hy vir
hom met sy oë na die nommer op die betaalstrook:
Nommer 13.
James het dit afgelag. In sy kop het hy die man
geantwoord: "As die ongeluk mens elke dag van
die maand bloots ry, beteken nommer 13 niks."
Hy het net die strokie gevat, die man bedank en
kampterrein toe gery, opsoek na staanplek nommer
13.
Dit vat hom nie lank om sy eenman-tent op te
slaan en 'n vuur aan te pak nie. Hy gaan sit met
sy rug teen 'n dun doringboom langs sy tent en
vat 'n lang sluk van die yskoue bier wat hy by
die kroeg langs die kantoor gekoop het.
Die staanplek is aan die rand van die netjiese
kampterrein. Die bos, wat net buite die vuur se
ligkring val, is ryg en donker. Hy steur hom nie
aan wat rondom hom aangaan nie. Hy is op sy eie
missie. En onder andere is dit om so ver as
moontlik weg te kom van alles wat soos 'n gesin
klink.
Hy knak nog 'n bier uit die koelsak en staar na
die kole van die vuur. Hoe verwerk 'n man, van
agt en dertig, dit as hy skielik op 'n dag voor
'n vreemdeling te staan kom wat homself as sy
biologiese pa voorstel?
Sy keel was droog en sy brein het in die hoogste
versnelling gewerk. Maar 'n stem in sy kop het
aanhoudend geskree: "Verraad, Verraad, Verraad!"
Sy oorlede ma moes verraad gepleeg het. Nie net
teenoor hom nie, maar ook teenoor sy oorlede pa.
Of liewer dan: die man wat hy tot daardie dag
geglo het wel sy pa is.
Hy herroep die betrokke dag. Dit is so duidelik
in sy brein vasgebrand dat dit vir hom voel dit
is nog steeds besig om te gebeur.
Hy was besig in die kantoor toe sy sekretaresse
aankondig dat daar iemand is wat baie mooi
asseblief vra om hom te sien.
"Hy sê hy weet hy het nie 'n afspraak nie,
Meneer, maar hy wil 'n baie belangrike saak met
Meneer bespreek."
Hy het na die muurhorlosie gekyk en gesien dat
die sekretaresse al van diens af moes gegaan het.
Hy verwag dus niemand verder vir die dag nie.
"Laat hy maar deurkom juffrou, en dan kan jy
maar gaan."
Kort daarna gaan die deur oop. Die lang,
bejaarde man wat voor sy tafel tot stilstand kom
is goed gebou vir sy jare. Daar is iets bekend
in die man se voorkoms maar James kan nie sy
vinger daarop lê nie.
James staan agter die lessenaar op, en sonder om
te groet vra hy effens bars: "Kan ek help?"
Die man huiwer 'n oomblik. Dit lyk of hy eers
moed bymekaar skraap om verder te praat.
Toe hy wel weer praat, kraak sy stem onseker: "Dit
wat ek nou gaan sê gaan jou skok en jy gaan my
summier wil wegjaag, maar luister asseblief eers
na my hele storie."
Hy wag asof hy goedkeuring wil kry. Maar as
James niks sê nie gaan hy voort.
"Ek wil myself graag aan jou bekendstel. Ek is
Martin Meyer, jou biologiese pa."
James staan op om nog 'n stomp op die vuur te
gooi. Die kamp begin stil raak.
Veraf hoor hy die mense in hul tente en karavane
gesels waar hulle onttrek het vir die nag.
Hy wens sy lewe was nog so ongekompliseerd soos
die kampers s'n op die oog af lyk.
Tog weet hy dit sal nooit weer so wees nie. Hy
het al vele verhoudings gehad, maar was nog
nooit reg vir trou nie.
Daarmee erken hy ook aan homself dat hy al 'n
paar harte gebreek het. Die vrouens met baie
geld wou aan hom voorskryf. Iets waarvoor hy
glad nie kans sien nie, want hy het genoeg geld
van sy eie.
Dan was daar die wat gedink het hy is 'n goeie
vangs wat hulle kan verlos van al hul probleme.
Sy ma was die enigste vrou wat hy as ware vrou
beskou het. Sy was so mooi. Sag en sonder
pretensie. So 'n vrou wou hy nog altyd hê. En
toe moes hy leer van haar verraad en ontrou.
James draai terug na sy sitplek teen die boom,
nog 'n bier in sy hand. Die volgende oomblik kom
'n figuur deur die bos gebreek. Hygend na asem
fluister sy: "Help! Steek my weg, gou!" en amper
terloops, maar tog dringend: "Asseblief!"
Voor hy nog kan reageer rits sy die tent se
voorkant oop en duik amper daarin. Asof met een
beweging rits sy die tentflap weer toe.
Hy staan 'n oomblik verdwaas, tree dan in die
rigting van die tent, maar word feitlik
onderste-bo gehardloop deur twee mans wat uit
dieselfde rigting kom as waar die vrou vandaan
gekom het. James verbeel hom hulle steek vinnig
pistole by die rugkant van hul broeke, onder die
baadjie, weg.
Die een is grof gebou met 'n akneevel. Die ander
een lank en maer met hol wange en oë.
Holwang praat eerste: "Jy het nie 'n vrou hier
sien verby kom nie?"
Hy maak eerder 'n stelling as wat hy 'n vraag
vra.
"Nee," antwoord James beslis. "Kan ek vir julle
twee manne elkeen 'n bier aanbied? Julle lyk
moeg en dors."
Die twee kyk vlugtig na mekaar en dan antwoord
Holwang: "Nee dankie, ons is bietjie gedruk vir
tyd."
"Nou maar dan moet julle my verskoon. Ek wil
tent se kant toe staan. Ek het 'n lang dag agter
die rug. Het met die bike deur Botswana gekom en
is blikners gesit," praat James in die lug.
Hy
begin dan ook dadelik die vuur blus. As die
manne agterkom dat hy hom nie meer aan hulle
steur nie, draai hulle skoorvoetend om en begin
wegstap.
Haelvel
steek skielik vas: "Ek sal van jou aanbod
gebruik maak. Die bier bedoel ek," sê hy as hy
omdraai.
"Kom sit," nooi James en hy begin weer die vuur
stook.
Toe hulle elkeen met 'n bier in die hand sit,
vra James terloops: "Hoe loop julle manne dan so
in die donker rond en dit nogal agter 'n
vroumens aan?"
Die twee loer onderlangs na mekaar. Hulle drink
lang teue bier uit die bottel voor Holwang
antwoord. "Sy't van ons af weggedwaal. Is net
bekommerd."
James kan met 'n stok aanvoel die man lieg. Hy
begin vrae vra oor Namibië.
Die vae antwoorde
wat hy kry laat hom besef dat die manne nie van
hierdie wêreld is nie.
Hulle raak haastig om weg te kom en James keer
hulle nie.
Sy gedagtes verskuif na die vrou in sy tent. Dis
nou die laaste ding waarmee hy opgeskeep wil
sit.
Hy sal 'n plan moet maak om van haar ontslae te
raak. Tog maak hy seker die twee boewe is weg
voordat hy voor die tent gaan kniel. Terwyl hy
dit ooprits sê hy ongeduldig: "Maak dat jy
wegkom. Jy kan nie hier bly nie."
Sy kyk na hom maar haar gesig is net 'n donker
kol: "Asseblief, kan ek nie die nag hier
spandeer nie? Hulle gaan my doodmaak as hulle my
kry!"
"En jy dink ek gaan buite slaap, sodat jy my
tent as skuiling kan gebruik?"
Sy skuif so diep in as wat die beperkte ruimte
in die tent haar toelaat. "Ons sal albei hier
inpas. Asseblief Meneer?"
'n Vreemde gevoel wel in James op. Hy voel op
hierdie stadium so min vir vroumense, dat hy
hulle nie eens haat nie. Maar hy wil ook nie een
se dood op sy gewete hê nie.
Sonder om verder te praat trek hy sy klere uit.
Geklee net in sy bokser-onderbroek skuif hy by
die tent in en rits dit toe. Hy draai sy rug op
die vrou, sluit sy oë moeg en raak feitlik
onmiddellik aan die slaap.
|