April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

 

  Die Reis
Vervolgverhaal – Hoofstuk 1

joufiksie
hoofinhoud
terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel


deur
Christo du Plessis

James draai terug na sy sitplek teen die boom, nog 'n bier in sy hand. Die volgende oomblik kom 'n figuur deur die bos gebreek. Hygend na asem fluister sy: "Help! Steek my weg, gou," en amper terloops, maar tog dringend: "Asseblief!"

 

As James Dunn met sy 1500 CC Kawasaki Vulcan die kampterrein binne brul, kyk 'n paar van die ouer manne gesteurd op. Dis nou die laaste ding wat hulle wil hê: 'n skobbejak met 'n motorfiets wat hul kampstilte en -vreugde kom versteur.
Die verwytende blik van die tantes en die bewonderende kyke van enkele jong meisies, wat skelm onder mammie se wakende oog na sy kant toe loer, gaan by hom verby.




Die man by die kantoor het so skalks gesê: "'n Man wat al die pad deur Botswana tot in Namibië op 'n motorfiets ry, is seker nie bygelowig nie."
Toe James die man vraend aankyk, beduie hy vir hom met sy oë na die nommer op die betaalstrook: Nommer 13.
James het dit afgelag. In sy kop het hy die man geantwoord: "As die ongeluk mens elke dag van die maand bloots ry, beteken nommer 13 niks."
Hy het net die strokie gevat, die man bedank en kampterrein toe gery, opsoek na staanplek nommer 13.

Dit vat hom nie lank om sy eenman-tent op te slaan en 'n vuur aan te pak nie. Hy gaan sit met sy rug teen 'n dun doringboom langs sy tent en vat 'n lang sluk van die yskoue bier wat hy by die kroeg langs die kantoor gekoop het.
Die staanplek is aan die rand van die netjiese kampterrein. Die bos, wat net buite die vuur se ligkring val, is ryg en donker. Hy steur hom nie aan wat rondom hom aangaan nie. Hy is op sy eie missie. En onder andere is dit om so ver as moontlik weg te kom van alles wat soos 'n gesin klink.

Hy knak nog 'n bier uit die koelsak en staar na die kole van die vuur. Hoe verwerk 'n man, van agt en dertig, dit as hy skielik op 'n dag voor 'n vreemdeling te staan kom wat homself as sy biologiese pa voorstel?
Sy keel was droog en sy brein het in die hoogste versnelling gewerk. Maar 'n stem in sy kop het aanhoudend geskree: "Verraad, Verraad, Verraad!"
Sy oorlede ma moes verraad gepleeg het. Nie net teenoor hom nie, maar ook teenoor sy oorlede pa. Of liewer dan: die man wat hy tot daardie dag geglo het wel sy pa is.

Hy herroep die betrokke dag. Dit is so duidelik in sy brein vasgebrand dat dit vir hom voel dit is nog steeds besig om te gebeur.
Hy was besig in die kantoor toe sy sekretaresse aankondig dat daar iemand is wat baie mooi asseblief vra om hom te sien.
"Hy sê hy weet hy het nie 'n afspraak nie, Meneer, maar hy wil 'n baie belangrike saak met Meneer bespreek."
Hy het na die muurhorlosie gekyk en gesien dat die sekretaresse al van diens af moes gegaan het. Hy verwag dus niemand verder vir die dag nie.
"Laat hy maar deurkom juffrou, en dan kan jy maar gaan."
Kort daarna gaan die deur oop. Die lang, bejaarde man wat voor sy tafel tot stilstand kom is goed gebou vir sy jare. Daar is iets bekend in die man se voorkoms maar James kan nie sy vinger daarop lê nie.
James staan agter die lessenaar op, en sonder om te groet vra hy effens bars: "Kan ek help?"
Die man huiwer 'n oomblik. Dit lyk of hy eers moed bymekaar skraap om verder te praat.
Toe hy wel weer praat, kraak sy stem onseker: "Dit wat ek nou gaan sê gaan jou skok en jy gaan my summier wil wegjaag, maar luister asseblief eers na my hele storie."
Hy wag asof hy goedkeuring wil kry. Maar as James niks sê nie gaan hy voort.
"Ek wil myself graag aan jou bekendstel. Ek is Martin Meyer, jou biologiese pa."

James staan op om nog 'n stomp op die vuur te gooi. Die kamp begin stil raak.
Veraf hoor hy die mense in hul tente en karavane gesels waar hulle onttrek het vir die nag.
Hy wens sy lewe was nog so ongekompliseerd soos die kampers s'n op die oog af lyk.
Tog weet hy dit sal nooit weer so wees nie. Hy het al vele verhoudings gehad, maar was nog nooit reg vir trou nie.
Daarmee erken hy ook aan homself dat hy al 'n paar harte gebreek het. Die vrouens met baie geld wou aan hom voorskryf. Iets waarvoor hy glad nie kans sien nie, want hy het genoeg geld van sy eie.
Dan was daar die wat gedink het hy is 'n goeie vangs wat hulle kan verlos van al hul probleme.
Sy ma was die enigste vrou wat hy as ware vrou beskou het. Sy was so mooi. Sag en sonder pretensie. So 'n vrou wou hy nog altyd hê. En toe moes hy leer van haar verraad en ontrou.

James draai terug na sy sitplek teen die boom, nog 'n bier in sy hand. Die volgende oomblik kom 'n figuur deur die bos gebreek. Hygend na asem fluister sy: "Help! Steek my weg, gou!" en amper terloops, maar tog dringend: "Asseblief!" 
Voor hy nog kan reageer rits sy die tent se voorkant oop en duik amper daarin. Asof met een beweging rits sy die tentflap weer toe.
Hy staan 'n oomblik verdwaas, tree dan in die rigting van die tent, maar word feitlik onderste-bo gehardloop deur twee mans wat uit dieselfde rigting kom as waar die vrou vandaan gekom het. James verbeel hom hulle steek vinnig pistole by die rugkant van hul broeke, onder die baadjie, weg.
Die een is grof gebou met 'n akneevel. Die ander een lank en maer met hol wange en oë.
Holwang praat eerste: "Jy het nie 'n vrou hier sien verby kom nie?"
Hy maak eerder 'n stelling as wat hy 'n vraag vra.
"Nee," antwoord James beslis. "Kan ek vir julle twee manne elkeen 'n bier aanbied? Julle lyk moeg en dors."
Die twee kyk vlugtig na mekaar en dan antwoord Holwang: "Nee dankie, ons is bietjie gedruk vir tyd."
"Nou maar dan moet julle my verskoon. Ek wil tent se kant toe staan. Ek het 'n lang dag agter die rug. Het met die bike deur Botswana gekom en is blikners gesit," praat James in die lug.
Hy begin dan ook dadelik die vuur blus. As die manne agterkom dat hy hom nie meer aan hulle steur nie, draai hulle skoorvoetend om en begin wegstap.

Haelvel steek skielik vas: "Ek sal van jou aanbod gebruik maak. Die bier bedoel ek," sê hy as hy omdraai.
"Kom sit," nooi James en hy begin weer die vuur stook.
Toe hulle elkeen met 'n bier in die hand sit, vra James terloops: "Hoe loop julle manne dan so in die donker rond en dit nogal agter 'n vroumens aan?"
Die twee loer onderlangs na mekaar. Hulle drink lang teue bier uit die bottel voor Holwang antwoord. "Sy't van ons af weggedwaal. Is net bekommerd."
James kan met 'n stok aanvoel die man lieg. Hy begin vrae vra oor Namibië.
Die vae antwoorde wat hy kry laat hom besef dat die manne nie van hierdie wêreld is nie.
Hulle raak haastig om weg te kom en James keer hulle nie.

Sy gedagtes verskuif na die vrou in sy tent. Dis nou die laaste ding waarmee hy opgeskeep wil sit.
Hy sal 'n plan moet maak om van haar ontslae te raak. Tog maak hy seker die twee boewe is weg voordat hy voor die tent gaan kniel. Terwyl hy dit ooprits sê hy ongeduldig: "Maak dat jy wegkom. Jy kan nie hier bly nie."
Sy kyk na hom maar haar gesig is net 'n donker kol: "Asseblief, kan ek nie die nag hier spandeer nie? Hulle gaan my doodmaak as hulle my kry!"
"En jy dink ek gaan buite slaap, sodat jy my tent as skuiling kan gebruik?"
Sy skuif so diep in as wat die beperkte ruimte in die tent haar toelaat. "Ons sal albei hier inpas. Asseblief Meneer?"
'n Vreemde gevoel wel in James op. Hy voel op hierdie stadium so min vir vroumense, dat hy hulle nie eens haat nie. Maar hy wil ook nie een se dood op sy gewete hê nie.
Sonder om verder te praat trek hy sy klere uit. Geklee net in sy bokser-onderbroek skuif hy by die tent in en rits dit toe. Hy draai sy rug op die vrou, sluit sy oë moeg en raak feitlik onmiddellik aan die slaap.
 

Lees hoofstuk 2 hier.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joufiksie
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep