|
“Daai Charlie was só 'n outjie!” sê oom Kempie.
Ons sit weer in Vasmaker en kuier die dag se
gewoel en gewerskaf om. Hóé die gesprek vanaand
by stories oor verstrooide helde uitgekom het,
sal seker niemand meer weet nie.
Oom Kempie is ons dorpie se enigste oorlewende
en geallieerde oorlogsveteraan. Hy is nogal
trots daarop en soos die ouderdom hom nou al
bygekom het, sal hy nooit 'n kansie om 'n
oorlogstorie te vertel laat verbygaan nie. Oom
Kempie se regte van is eintlik Van Schalkwyk,
maar hy het sy naam, Kempie, hoeka in die oorlog
gekry. Hy was 'n “Camp Master” in die
Amerikaanse vloot en die Amerikaners kon nou net
wragtig nie sy naam uitspreek nie – en daarom
het hy gou Kempie geword. 'n Naam wat hy vandag
nog saamdra.
Oom Kempie praat maar aan die sagte kant en die
manne skuif so stil-stil nader om beter te kan
hoor. Oom Cas, agter die toonbank, druk die
whisky na oom Kempie se kant en staan ook nader.
“Ja,” sê oom Kempie, “Charlie was so deurmekaar
soos 'n dronk weeluis, maar eintlik dierbaar van
onskuld.”
Nou, reken oom Kempie, Charlie het hard probeer
om uit die moeilikheid te bly, en het ook die
grootste gedeelte van sy dag daaraan gewy.
Maar nou was dit ook so dat Charlie 'n
fighter pilot was. En oom Kempie reken as
daar nou ooit 'n man was wat sy regte joppie
en nering êrens gemis het, dan was dit nou
Charlie. Het dan ook baie innoverende maniere
gevind om nie te vlieg nie en het vir dae
rondgesluip om ander belangrike dinge te doen.
Maar vlieg was nie een van daardie dinge nie.
Die manne hier in Vasmaker begin die storie
verloor. Dit is toe oom Kempie vertel dat
Charlie hiermee weggekom het totdat hy op 'n
vliegdekskip moes aanmeld vir diens, dat almal
se ore weer regop spring.
Oom Kempie vertel dat Charlie toe so
half-en-half gedwonge was om te vlieg – op so 'n
skip is daar nie baie wegkruipplek nie. Volk en
vaderland het nou op sy knoppie gedruk en so is
hy weg diep waters toe op hierdie skip en, soos
oom Kempie sê, “met sy vliegtuig onder sy arm!”
So het Charlie maar rondgevlieg saam met die
ander op verkenningstogte en sulke
nie-eintlik-oorlog-vlugte. Die ander moes hom
gereeld dophou tydens hierdie vlugte want
Charlie se aandag was nie te heeltyd by die vlug
nie, en dan het hy maklik begin dwaal . . .
“Tot een dag!” sê oom Kempie. Almal wat gewonder
het waarnatoe hierdie storie op pad was, sit nou
regopper. Van ons vat gou nog 'n slukkie want
netnou is daar nie meer 'n kans nie. Die dag,
vertel oom Kempie, was Kempie en nog 'n
vlieënier op patrollie en eintlik al op pad
terug skip toe. Heel rustig, eintlik te rustig
vir Charlie se natuur . . .
Charlie het later vertel dat toe hy die vlambol
hier langs hom sien verbytrek en die valskerm so
entjie verder sien ooptrek, hy eers besef het
daar is êrens iets fout. Hy wou nog wonder wat
gebeur, toe gebeur dit. Alles tegelyk.
Toe hy opkyk, sien hy die rooi kol op die
Japannees se vliegtuig hier reg langs hom.
Charlie sê hy skrik so groot dat hy die
stuurstok wegruk na die een kant toe. Met die
lig van die vlerk voel hy die ruk aan die
vliegtuig en hy besef dat sy vlerk die Japannees
se vlerk gelig het. Verbaas kyk hy hoe dié se
vliegtuig skerp kantel en aftol seewater toe en
met 'n groot plons die water tref.
Tyd vir juig en nog kyk was daar nie eintlik
nie, want toe hy weer kyk toe sien hy, hy is
self in 'n duik met sy vliegtuig en die see kom
baie vinnig nader. Hy trek verwoed aan sy
stuurstok en op die laaste oomblik kry hy die
vliegtuig se neus gelig en kan hy amper die
sproei van die seewater in sy gesig voel.
Met hierdie beweging is hy net betyds om nog 'n
Japannees, dié een wat hom in die duikslag
gevolg het, te sien neerstort in die water agter
hom. Charlie draai so half skuins om die
plonsslag beter te betrag. In hiérdie draaislag
van die lyf in die beknopte kajuit, druk sy
elmboog op daardie rooi knoppie op die stuurstok
– daardie knoppie wat die kanonne aan die gang
sit.
Met die skielike geratel van sy kanonvuur ruk sy
gesig weer vorentoe, net betyds om te sien hoe
hy nog 'n Japannees voor hom afmaai met hierdie
per-ongeluk kanonvuur!
Charlie is nou so verbouereerd dat hy nie
eintlik weet of hy kom of gaan nie. Toe hy weer
kyk, is dit asof die son vir hom opkom – reg
voor hom lê die mooiste gesig wat hy nog ooit
gesien het: Die vliegdekskip! Sy hart juig en
die drie Japanese vliegtuie wat hy vernietig het
is vir 'n oomblik vergete. Nou gaan hy veilig
land.
Die landing op die skip verloop glad en die
bemanning bestorm hom armswaaiend. Hulle skreeu
en juig en Charlie kan nie eintlik 'n woord
uitmaak wat hulle vir hom sê nie. Twee gryp hom
elk aan 'n arm en drafstap hom na die brug toe,
daar waar die kaptein van die skip is. In
hierdie roesemoes sien Charlie eintlik niks nie,
want sy gemoed is vol.
Hy word tot stilstand gebring voor die skip se
kaptein. Die manne juig nog steeds. Toe hoor hy
die kaptein praat: “Velly funny, Amelican, velly
funny!”
Dit was eers toe hy opkyk en die skrefies-oë van
die Japannees na hom sien blits, dat hy besef
dat hy nie gou weer gaan vlieg nie. |