|
"Wat dink jy van hierdie in duifgrys, Jacques?"
het sy gevra nadat sy die advertensie in 'n
tydskrif gesien het.
'n Tydskrif wat hy met sy geld gekoop het. 'n
Manstydskrif wat soms foto's van modelle in
onderklere geplaas het, sommer net omdat hulle
kon en omdat die woord gratuitous dit nie
noodwendig verkeerd gemaak het nie. Duidelik was
die publikasie én die advertensie dan op mans
gemik. As 'n mens rasioneel daarna gekyk het.
Hy het iets gemompel, hy kan nie onthou wat nie,
want sy het nie net meer oor die motor se
uiterlike voorkoms gepraat nie: die kleur, die
skoon lyne en die vooruitstrewende ontwerp wat
wegbeweeg het van dieselfde model s'n twee jaar
gelede nie, maar tegniese lingo begin
gebruik. Woorde waarvan hy nie die betekenis
geweet het nie. Wat hy al genoeg kere gehoor het,
maar steeds nie kon definieer nie.
Petrolinspuiting.
Turbo.
Difflock.
Soveel wringkrag in Newtonmeter.
Hoeveel is 'n Newtonmeter? wonder hy.
Dit het vir hom gevoel asof 'n golf oor hom
breek: hierdie eerste vlae van sy nuwe
paniekaanval en die woorde wat by haar mond
uitgekom het, het vir hom geen sin gemaak nie.
Vroue was nie veronderstel om van mooi karre te
hou óf om te weet hoe hulle werk nie. Wat was sy
doel dan anders in die lewe? 'n Kleur, als goed
en wel, maar wringkrag? En van wanneer af was
daar verskillende soorte grys beskikbaar?
Staalgrys. Duifgrys. Lood. Battleship grey.
Grys was die kleur van klerepakke in die
sewentigs. Sy pa se hare was grys. Syne het teen
sy slape begin ontkleur en hy het nie geweet hoe
lank hy dit nog in toom sou kon hou deur die
aberrantes uit te trek nie. Sy skip het stadig
onder die waters van 'n stormsee verdwyn.
"Kom ons gaan kyk hoe lyk hulle," het sy gesê.
"Dan drink ons cappuccinos by Pellagrini's."
En, het sy as 'n nagedagte bygevoeg, net om hom
heeltemal te ontman: "My treat."
Hy het syne met skuim geneem. Terwyl hulle voor
die venster van die vertoonlokaal gestaan het,
het die kar vir hom geen bekoring ingehou nie.
Sy weerkaatsing het anders gelyk as tien jaar
gelede en hy het geweet dat iets drasties nodig
was. Hy was nie meer jonk of aantreklik genoeg
om iemand soos Lindi se oog te vang nie: 'n
suksesvolle, onafhanklike vrou. 'n Sales
solution specialist. Nóg 'n begrip wat hy
nie mooi aan sy vriende kon verduidelik nie.
Sy het hom net soms nodig gehad om die nuwe
tamatiesousbottel se prop oop te draai. En vir
die fisiese deel van hul verhouding wat hy dalk
meer nodig gehad het as sy. 'n Vier-en-negentig
kilogram vibrator met voldoende wringkrag om
bottels oop te draai. Hy was aan die verkeerde
kant van 33 en dalk nie eers meer goed genoeg om
haar te behou nie. Hy kon duidelik sy maag soos
'n bal deeg onder sy T-hemp sien uitrys. Soos
die deeg van sy gunstelinge: pizza of penne
napoleatana.
"Jy word darem nou lekker grys, my lief," het sy
gesê en speels die hare oor sy slape deurmekaar
gevryf terwyl hulle buitekant by 'n tafeltjie
gesit het. "Saam met die lagplooitjies om jou oë
lyk jy al hoe meer na jou pa."
Hy het sy maag ingetrek en regop geloop oppad
terug kar toe, sy bors uitgestoot en dan was die
weerkaatsing nie heeltemal só sleg nie, net
jammer vir die vetrol in sy sye wat hy nie
ingetrek kon kry nie. Hy het aan die straat se
kant gestap, in 'n beskermende gebaar, en sy het
haar hand om sy lyf gesit soos mense maak wat
mekaar liefhet. Bo-oor die vetrol wat hy nié
ingetrek kon kry nie. Hy het sy arm, in 'n ewe
liefdevolle gebaar, om haar skouers geslaan,
daar waar die spier begin verslap het en hy ook
'n rol tussen sy duim en vingers kon voel.
"Kyk die leerbank, lief," het sy gesê en voor 'n
vertoonvenster van 'n meubelwinkel gaan staan. "Wat
dink jy, hmm, Jacques?"
Hy het 'n rukkie stilgebly: "Ja, . . . miskien
nie heeltemal nie, maar dit sal dalk mooi lyk in
die ingangsportaal as dit 'n ander kleur was.
Wat dink jy van 'n tweesitplek in osbloed?" |