|
Baba Beer gaan see toe Die nuus (Hoofstuk 1)
|
Baba Beer is sommer baie opgewonde toe Pappa vertel hulle gaan see toe – maar nou begin al die voorbereidings eers.
Een middag kom Pappa Beer by die huis. Baba Beer kan sommer dadelik sien dat hy groot nuus het. Hy hardloop hekkie toe en babbel vrolik. Hy vertel vir Pappa Beer alles wat hy die dag gedoen het: Hoe hy modderkoekies gebak en hoe hy in die eendedammetjie geswem het totdat Pappa Eend met hom kom raas het. Hulle gaan kombuis toe waar Mamma Beer al wag met die koffie. Pappa Beer groet vir Mamma Beer en gaan sit langs die kombuistafel.
“Ek het groot nuus,” sê Pappa Beer.
Mamma Beer vee haar hande aan die vadoek af en kom sit by hom.
“Vertel! Vertel, Pappa!” roep Baba Beer.
“Nou ja,” sê Pappa Beer. “Ek het 'n paar dae verlof gevat. Ons het hard gewerk hierdie somer. Nou kan ons bietjie see toe gaan.”

Illustrasie: Adrian Coetzee
Baba Beer spring op en af van blydskap. Skielik staan hy doodstil. “Wat is 'n see?” vra hy dan.
Mamma Beer verduidelik gou vir hom van die see en die branders en al die seediertjies. Sy vertel ook van die sand waar hy sandkastele kan bou en lekker kan speel. Daardie aand kan Baba Beer amper nie slaap nie, so opgewonde is hy.
Die volgende oggend begin Mamma Beer en Baba Beer om hul goed reg te maak vir die vakansie.
Vroeg ry Mamma Beer en Baba Beer winkel toe. Hulle koop botter, meel en sulke goed. Baba Beer stoot die waentjie terwyl Mamma Beer die kruideniersware inpak.
By die huis help Baba Beer fluks om alles in die huis te kry. Hy trek gou sy netjiese klere uit en sy ou klere aan. Toe draf hy kombuis toe om Mamma Beer te help. Hulle blaai deur die kookboeke en besluit watter koekies hulle wil bak, terwyl Mamma 'n lys maak van alles wat hulle nodig het.
Die volgende oggend begin Mamma Beer en Baba Beer baie vroeg om die koekies te bak. Mamma maak die deeg aan en rol dit uit. Baba Beer druk die vormpies uit en pak dit op die panne. Dan sit sy die koekies in die oond. Elfuur is hulle klaar en Mamma Beer gee vir hom van die koekies en melk om te drink. Daardie aand verkyk hy hom aan die blikke wat vol koekies gepak is en reg staan vir die vakansie.
Baba Beer vee nog die slaap uit sy oë toe hy 'n geluid in die kamer hoor. Hy kyk rond en daar staan sy ma, besig om al haar klere uit die kas te haal.
“Wat maak Mamma?” vra hy. “Ek kyk watter klere ek wil inpak,” sê Mamma Beer. “Jy moet ook gou opstaan en jou pap gaan eet. Ek wil jou klere ook deurkyk.”
Baba Beer is nou glad nie lus vir sy pap nie. Hy hou niks van klere aanpas nie. Terwyl hy eet, dink hy net aan die aanpassery.
Later help huil en kla niks. Baba Beer moet aanpas en aanpas en aanpas. Hy mag nie eens buite gaan speel nie. Dit voel vir hom of hulle die hele dag besig is en toe Mamma Beer uiteindelik sê dat hy nou maar kan gaan speel, hardloop hy vinniger as die wind buitentoe.
Saterdag vat Pappa Beer hulle winkels toe. Baba Beer moet weer aanpas en aanpas en aanpas. Hy is glad nie lus nie, maar hy doen dit maar. Die Spiderman-hempie wat hy gekry het, maak hom darem so 'n bietjie bly.
Hulle drink melkskommel by die Wimpy en toe koop Pappa Beer vir hom 'n visstok, 'n emmertjie, 'n grafie en 'n groot strandbal. Hy kry ook 'n swembroek en 'n nuwe hoed. Mamma Beer koop vir hom 'n baie mooi swemhanddoek met 'n dolfyn op.
Pappa Beer het die motor laat diens en Mamma Beer het met die bure gereël om die huis op te pas. Oom Brombeer het maar alte gretig ja gesê daarvoor, want Mamma Beer het vir hom 'n groot pot heuning belowe as alles mooi reg is.
By die huis maak Mamma Beer heerlike padkos vir die pad. Sy maak toebroodjies met heuning en kaas, frikkadelletjies – of dikfrelletjies, soos Baba Beer dit noem – van vis wat Pappa Beer in die rivier gevang het en heerlike heuningbier wat yskoud gemaak is.
Baba Beer bad vinnig en klim in die bed. Pappa Beer het die motor reeds klaar gepak vir die lang pad see toe môre.
Almal gaan vroeg slaap.
(Word vervolg)
|