Hoofstuk 2:
Baba Beer gaan see toe
Uittreksel uit hoofstuk 1
Pappa Beer het die motor laat diens en Mamma Beer het met die bure gereël om die huis op te pas. Oom Brombeer het maar alte gretig ja gesê daarvoor, want Mamma Beer het vir hom 'n groot pot heuning belowe as alles mooi reg is.
By die huis maak Mamma Beer heerlike padkos vir die pad. Sy maak toebroodjies met heuning en kaas, frikkadelletjies – of dikfrelletjies, soos Baba Beer dit noem – van vis wat Pappa Beer in die rivier gevang het en heerlike heuningbier wat yskoud gemaak is.
Baba Beer bad vinnig en klim in die bed. Pappa Beer het die motor reeds klaar gepak vir die lang pad see toe môre. Almal gaan vroeg slaap.
Lees nou verder . . .
Baie vroeg Maandagoggend dra Pappa Beer vir Baba Beer motor toe. Dis so vroeg dat dit eintlik nog nag is. Almal slaap nog. Baba Beer word nie eens wakker van die dra nie. Pappa Beer het vir hom 'n slaapplekkie agter in die motor gemaak.
Baie later word Baba Beer wakker. Hy lê eers doodstil, want hy voel sy bedjie beweeg. Hy maak sy een ogie oop en loer versigtig hoekom sy bedjie so wikkel. Skielik onthou hy: Hulle is op pad see toe! Dadelik sit hy regop.
Mamma Beer sien dat hy wakker is en glimlag vir hom. “Goeie môre Baba Beer. Het jy lekker geslaap?” vra sy. Baba Beer glimlag en sê: “Môre Mamma, môre Pappa. Hoe ver is dit nog?”
Pappa glimlag en antwoord dat dit nog baie ver is. Maar hulle is nie meer so ver van 'n vulstasie af nie. Daar sal hy stop sodat Baba Beer kan aantrek en hulle sommer ietsie kan eet ook. Gelukkig is die afdraai toe ook net voor hulle.
Pappa Beer maak die motor vol brandstof terwyl Mamma Beer vir Baba Beer in die kleedkamer gaan aantrek. Toe kan hulle uiteindelik ontbyt eet. Die padkos is vir Baba Beer baie lekker, maar hy is haastig see toe. Hy sluk die laaste bietjie heuningbier en spring in die motor. Nou maak Pappa Beer hom in sy stoeltjie vas, ruim op en hulle ry verder.
Kort-kort vra Baba Beer: “Hoe ver nog?”
Mamma Beer word later moeg vir die vraag en hulle begin 'n speletjie speel. Hulle kies elkeen 'n kleur motor. Elke keer as jou kleur wat jy gekies het, verbykom, is dit 'n punt vir jou. Die een met die meeste punte, wen. Baba Beer kies wit en hy wen sommer maklik.
Toe sing hulle liedjies. Pappa Beer sing ook saam. Mamma Beer vertel vir Baba Beer stories wat sy self uitdink. Dit is vir hom die mooiste stories. Nou is die pad nie meer so lank nie.
Uiteindelik sien Baba Beer die see. Eintlik weet hy nie dis die see nie. “Kyk Pappa,” roep hy uit, “kyk hoe naby is die hemel daar aan die grond!”
Pappa Beer en Mamma Beer lag lekker. Hulle sê vir hom dat dit die see is wat hy sien. Sy mond hang oop. Hy het nog nooit die see gesien nie.
Hulle kom laterig die middag by die vakansieplek aan. Pappa Beer ry reguit strand toe. Hulle klim dadelik uit en Pappa Beer vat Baba Beer se handjie. Hulle loop af see toe. Baba Beer kyk lank na die baie water. “Mamma, dit is darem 'n vreeslike groot eendedam hierdie. Waar is die eendjies dan?” sê hy.
En sowaar, daar lag die grootmense al weer vir hom.
Hy is bang om sy voetjies in die water te sit. Die water hardloop vir hom weg, en net as hy nader loop, dan kom die water weer terug om hom te vang. Hy klou Pappa se hand stywer vas. Pappa Beer loop nader na die water toe. Baba Beer wil huil, maar netnou dink Mamma Beer hy is 'n baba en dan moet hy weer doeke dra. Hy sluk die trane weg en knyp sy ogies styf toe. Na 'n rukkie maak hy sy ogies oop, want niks gebeur nie. Die koue water om sy voetjies is nogal lekker.
Baba Beer raak dapperder en gaan bietjie dieper in. Hy wikkel sy toontjies in die sand. Hy is so verbaas oor die lekker water dat hy nie eens agterkom dat Pappa Beer sy handjie gelos het nie. Na 'n rukkie sê Pappa Beer dat hy dink hulle moet eers gou gaan uitpak.
Pappa Beer kry die strandhuis se sleutels en hulle gaan pak uit. Baba Beer soek dadelik sy eie kamer. Mamma Beer is baie bly haar seuntjie wil groot wees. Sy kamer kyk uit oor die see. Daar is 'n lekker bedjie en 'n stoel. Die strandhuis het ook 'n lekker kombuisie en 'n televisie.
Baba Beer help fluks vir Pappa Beer om alles uit die motor te haal. Mamma Beer sorg dat alles netjies weggepak word. Dit is al middag en die son begin al knipoog en waai vir die maan om te kom werk. Sy skof is amper verby. Die luggie word koeler en Baba Beer trek sy nuwe blou trui met die sakke in die sye aan. Mamma Beer vra of hulle nie 'n entjie langs die strand kan gaan stap nie.
Nadat almal warmer aangetrek het, stap die drie bere strand toe. Pappa Beer tel vir Baba Beer op sy skouers en so stap hulle. By die strand sit Pappa hom neer en nou is hy nie meer so baie bang vir die water nie. Hy loop nie weer in die water nie, want sy toontjies kry koud. Hulle loop net op die klam sand wat nie so los is nie.
Baba Beer verkyk hom aan die skulpies en goed wat die see uitgespoel het. Die seegras en jellievisse is vir hom baie snaaks. Hy klim op die rotse en kyk oor die see. Die branders wat so weghardloop en dan weer terugkom om hom te vang, is vir hom baie mooi.
Hy is baie jammer toe hulle moet terugdraai, maar sy magie grom al weer en sy ogies het sandjies in gekry.
By die strandhuis het Baba Beer ook net vinnig gebad, sy nuwe slaapklere aangetrek en 'n ietsie geëet, voordat Klaas Vakie se sandjies begin werk het. Hy het self na sy bedjie geloop en dadelik aan die slaap geraak.
Daardie aand droom hy hoe hy saam met die eendjies in die lekker groot eendedam speel.
Hoofstuk 3 volg volgende maand.
Lees die vorige hoofstuk in ons kinderverhaal-vervolgreeks, Baba Beer gaan see toe:
Hoofstuk 1 (Mei 2010):
Baba Beer is sommer baie opgewonde toe Pappa vertel hulle gaan see toe – maar nou begin al die voorbereidings eers.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joufiksie volgende artikel vorige artikel |

