|
Nadat hulle op die internet ontmoet het, het hulle 2 jaar lank 'n verhouding gehad voordat sy ontdek het hy behoort eintlik aan iemand anders.
Stadig laat sak sy haar hande in die lou-warm water. Sy maak die vuisballe oop en laat haar handpalms rus op die bodem van die skoon, wit wasbak. Stadig leun sy vorentoe tot die meeste van haar gewig op haar netjiese hande in die water op die wasbak se bodem rus. Haar oë is vasgenael op die perfek-gevormde vingernaels.
Stadig lig sy haar kop op, dwing haar oë om ook op te kyk, vas in die oë van haar spieëlbeeld.
“Jou vieslike, mislike bitch!” sis sy venynig hardop.
“Nee!” kreun haar siel saggies in haar binneste. Sy laat sak haar oë wat nou in trane swem. Haar hande bewe in die water hoewel sy met haar gewig daarop leun.
 Illustrasie: Adrian Coetzee
Sy dwing haarself om weer op te kyk, weer vas in die oë van haar spieëlbeeld.
“Goed, ek gee nie om oor haar nie. Ek ken haar nie! Dit kan my rêrig nie traak hoe sy voel nie. Ek het dit nie uit empatie gedoen nie.”
Dit was 'n voorafbeplande daad, want sy was nog 'n tiener toe sy besluit het as 'n vrou sou uitvind, dat 'n man sy vrou verneuk, behoort daardie vrou sý vrou daarvan te vertel.
Sy was nog 'n tiener toe sy besluit het as 'n vrou sou uitvind haar kêrel is eintlik getroud, moet die kêrel se vrou daarvan vertel word.
Gisteraand het sy nie nodig gehad om met haarself hieroor te redekawel nie: Om sy vrou daarvan te vertel was nie vir haar 'n kwessie nie.
Maar dit was egter nie al wat gisteraand deur haar kop gegaan het nie . . .
Dit is nou al twee jaar wat sy vir antwoorde soek. Dit is nou al twee jaar lank dat sy 'n rede, vir waarom hy haar so goedsmoeds kon seermaak, wil vind.
Die stem binne haar kon nie deur al die stemme buite haar stil gemaak word nie. Dit het net nie saak gemaak dat haar vriendinne – en die sielkundige en elke vrouetydskrif en Oprah en kie – oor en oor herhaal het: dat as 'n man 'n vrou sleg behandel, dit 'n refleksie van hom is en nie van haar nie.
Aand na aand het sy haarself in 'n bondeltjie opgekrul en die hoekoms en waaroms uitgesnik, met net een antwoord vanaf daardie welluidende stem binne haar: “Jy moet seergemaak word.”
Laat gisteraand was sy te moeg om haarself in die bed te kry. Haar vingers het die muis rondgeskuif en op die boekmerke gekliek. Die muis is verder geskuif en die boekmerk met sy naam is gekliek. Sy FaceBook-profiel het oopgemaak. Sy het gesug. Sy mors haar tyd. Want sy het tog sy profiel twee jaar gelede al vir leidrade deurgekam en niks gevind nie. Laas jaar wou sy weer probeer, maar toe was dié profiel gesluit vir haar oë. Net sy ander profiel was oop – maar daarop het hy net poker gespeel.
Vroeër die jaar het sy agtergekom die ander profiel is weer gesluit, maar die eerste een is weer oop. Sy profielfoto was 'n pragstuk van hom met die allerkleinste baba met 'n dik bos swart hare. Sy het nie eens 'n oog geknip toe sy die foto sien nie, want hulle het reeds oor sy susterskind se tienerswangerskap gepraat.
Vanaand kliek sy egter op sy foto-albums. Sy sug. Kliek op die album met 'n foto van dieselfde baba. Verbaas kyk sy na foto’s van 'n bevalling – nou nie eintlik wat 'n mens van 'n oom sal verwag nie. Daar is nog foto’s van die ma-en-baba, maar die ma lyk nie juis na 'n tiener nie: Dit is die mooiste foto’s van 'n ma wat oor die donker-bos-hare-baba buk.
'n Frons begin tussen haar oë speel as sy noukeurig na die foto’s van die ma kyk voordat sy verder deur sy profiel blaai op soek na nog foto’s van die ma. Niks.
Moeg bly sy die muis se wieletjie draai tot sy skielik stop by 'n lawwe kommentaar wat die ma-wat-oor-die-donker-bos-hare-baba buk in 2008 gemaak het.
Sy kyk weer na sy persoonlike inligting, maar hy dui nie sy verhoudingstatus aan nie. Sy kliek op die skakelnaam langs die foto van ma-wat-oor–die-donker-bos-hare-baba-buk: Anna Maria. Die profiel is gesluit.
Sy kliek op die opsie om 'n boodskap vir Anna Maria te stuur. Sy vra. Al is dit laat in die aand, kry sy binne oomblikke haar antwoorde: Ons is al drie jaar saam; ons baba is drie maande oud, ons is 'n gelukkige gesin.
“Gelukkige gesin!” het sy gesnork.
Sy het Anna Maria teruggeantwoord: Jou getroue kêrel en ek het op 'n afspraak-webwerf ontmoet. Hy kuier al vir 2 jaar lank by my, al het ons lankal uitgemaak. Nee, dit is nie net vriendskap nie. Ja, ek het bewyse. Bladsye en bladsy e-posse. E-posse waarin hy hom aanvanklik as liefdevol voordoen, iemand wat omgee, iemand met 'n siel. Iemand wat vir my lief is. Later word sy e-posse vol haat en nyd en lafhartigheid. Nog later is dit bloot kru seksuele voorstelle. Nee, dit is nie 'n goeie idee om lojalitiet aan hierdie lafaard te betoon nie. Ja, ek sal die e-posse vir jou aanstuur. Nee, hy is nie baie beïndruk nie. Hy stuur my allerhande dreigemente. Skielik ken hy die inhoud van die Bybel.
Sy kyk haarself weer in die oë. Nee, dit was nie net empatie wat haar daardie vraag laat vra het nie. Dit was 'n voorafgenome besluit oor hoe om in so 'n situasie op te tree.
En nee, dit was nie wraak soos waarvan hy haar beskuldig nie.
Maar ja, dit was wel 'n antwoord wat sy nodig gehad het.
Dit is tog simpel, soos haar vriendin aan haar uitgespel het. Hoe verduidelik 'n mens tog dat die antwoord 'n verskil maak? Hoe verduidelik 'n mens dat die antwoord daardie welluidende stem binne jou stilgemaak het? Hoe verduidelik 'n mens die feit dat die antwoord haar laat jubel? Hoe verduidelik 'n mens dat sy trots is daarop dat sy hom aan die kaak kon stel?
Sy het die oorlog met die stem gewen, dink sy.
Dit maak nie saak watter besluite Anna Maria neem nie. Sy het 'n baba by hom, sy het die vreugde van moederskap maar ook die gevolge van enkelmoederskap. Sy het die gevolge van 'n baba by die verkeerde man hê.
Anna Maria sal haar volheid ervaar en mislukkings smaad, soos sy haar hoon moes smaad en uiteindelik haar voldoening kon vier, dink sy daar voor die spieël.
Uiteindelik kyk sy haarself weer in die oë: “Jy het die regte ding vir jóú gedoen en jy het jou instinkte gehoorsaam. Jy het aanhou knaag, tot jy die toue deurgeknaag het.”
Dit was 'n bitter soeke en die antwoord is bar, maar die stem het stil geword, besef sy daar voor die spieël.
|