'n Liefde soos in drome
Beatri Kotzé

deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die sangerpaartjie Chereé Large en Wynand Strydom gesels oor liefde, verhoudings en hul komende huwelik.

Wynand en ChereeDie land kan nie uitgepraat raak oor dié twee verliefde Weskus-duifies wat op 4 April vanjaar in die kerkpaadjie op hul tuisdorp, in Langebaan in die Wes-Kaap, gaan afstap nie. Maar as jy vir Wynand en Chereé tydens hul ontmoeting vyf jaar gelede sou vertel hulle eendag gaan trou, sou hulle definitief vir jou gelag het, bieg Suid-Afrika se country girl.

Die mooie Chereé en die aantreklike Wynand lyk asof hulle nog altyd by mekaar gehoort het: albei uiters talentvol, geliefd onder hul aanhangers en dan lyk hulle net so goed saam! Sommiges het egter al begin knor dat hulle nooit tot trou gaan kom nie – hulle is immers al drie jaar lank verloof!
“Ek dink voordat 'n paartjie kan trou is daar sekere dinge wat eers in plek moet wees, veral as albei 'n moeilike verlede in terme van verhoudings het. Ek dink ons het die slim ding gedoen om te wag tot alles eers 100% in plek is. Nou is ons gereed!” verdedig Chereé.
Sy vertel dat sy nie soos die meeste meisies gedroom het oor hoe haar groot dag sal lyk of wees nie.
“In die verlede het ek nie die verskil tussen om getroud en ongetroud te wees verstaan nie, maar noudat ek iemand in my lewe het wat my heeltemal verstaan en my toelaat om net myself te wees, is daar 'n groot verskil. Ek kan nie wag vir die dag wanneer ek myself geheel en al aan Wynand gee nie!” vertel Chereé soos 'n regte bruid.
Wynand sit ook heel ywerig hand by met die troureëlings en voorbereidings: Hy het selfs help kaartjies maak, vertel hy selfvoldaan.

Wynand en Chereé het mekaar vyf jaar gelede by die Blommefees op Springbok ontmoet waar albei opgetree het, maar van liefde met die eerste oogopslag was daar nie juis sprake nie. Hul gemeenskaplike vriende het een aand na die vertonings saam gekuier, maar “daar was niks romanties nie. Niks nie!” verseker Chereé. Trouens, sy onthou meer van Wynand se beste vriend Kallie wat ook daardie aand daar was as van Wynand self. 
“Ja, ek is mos maar 'n skaam ou,” sê Wynand met 'n glimlag.

Die paartjie het aan die begin van hul verhouding onder geweldige openbare kritiek deurgeloop aangesien Wynand ten tyde van hul eerste ontmoeting nog getroud was. Moes hulle dus teen die liefde stry?
Wynand vertel ernstig dat hul verhouding nie oornag gebeur het nie. “Maar as ons nou praat oor hoe ons werklik gevoel het toe ons besef het ons is vir mekaar bedoel moet ons sê ja, ons het teen die liefde gestry – en dit nog lank voor ons by mekaar uitgekom het.”

En baba maak drie

Hulle wil nie te dadelik met 'n gesin begin nie want Pappa en Mamma werk op die oomblik te hard daarvoor. Wynand se twee kinders uit sy eerste huwelik het egter die afgelope Desember by die paartjie op Langebaan gekuier en vir Chereé was dit 'n groot voorreg om te sien hoe pa en kinders lekker speel. Sy kom goed oor die weg met klein Anireht en Rudeon hoewel sy nie die rol van ma wil oorvat nie. “Ek sal altyd daar wees vir hulle as hulle my nodig het. Ek is hul vriendin, wat baie lief is vir hulle en hul pappa.” Chereé hou Wynand se hand stywer vas voor sy verder praat: “Ek dink mense is deesdae oorsensitief teenoor kinders uit geskeide huise. Ek dink hulle is sterker en slimmer as wat ons besef.”
Chereé en Wynand gesels egter gereeld oor moontlike name vir hul eie kinders eendag. Maar een ding is seker: dat daardie kleintjie sal kan sing, is nie altemit nie!

Hulle is nog onseker of hulle iets spesiaals vir Valentynsdag gaan doen.
“Dis ons naweek saam met die kinders, en ons sal seker die dag saam met hulle deurbring en dan ietsie alleen doen as hulle gaan slaap het,” knipoog Wynand skelm. “Ek dink in elk geval Valentynsdag het 'n dag geword van geskenke koop met 'n soppy kaartjie by. Mense vergeet liefde kos niks. Jou hart is verniet. Jou liefde is verniet. Jou lojaliteit is verniet,” voeg Chereé by.
Wynand voel dit is goed dat daar 'n dag is wat die liefde vier. Baie mense vergeet soms om “ek is lief vir jou” vir hul maat te sê.
“Ja, ek dink vir die mense wat dit nie gewoonlik deur die jaar kry nie, is Valentynsdag en alles wat daarmee saamgaan baie spesiaal,” voeg Chereé by. “Dis ook die gedagte wat tel, nie noodwendig die geskenke nie, want die waarde van 'n geskenk is nie altyd dieselfde as die liefde wat daarmee saamgaan nie.”

Die dromer en die realis

Wynand en Cheree“Soms dink ek dat ons heeltemal verskil,” sê Chereé. “Ek is die ekstrovert, hy die introvert; hy dink met sy kop en ek met my hart. Wynand sê altyd ek is die dromer en hy is die realis, maar as ons by die huis is, is ons maar min of meer dieselfde mens. Dis die attraction.”
Wynand soen vir Chereé. Meer verlief kan 'n mens nie wees nie!

Die gesprek maak 'n draai by Tiger Woods se buite-egtelike verhoudings: As iemand wat skynbaar alles het – 'n beeldskone vrou, pragtige kinders, roem en rykdom – steeds sy vrou verneuk, watter hoop het Jan en vroulief San Publiek dan op ewigdurende liefde en getrouheid?
Chereé val eerste weg: “Ek dink die eerste ding wat 'n vrou kan doen is om 'n man te kry wat sy nie wil verander nie. Baie jong meisies dink as sy en haar man eers getroud is, sal hy verander. Hy verander nie! En hy hoef ook nie. Hopelik kan jou man met jou hulp as vrou die beste weergawe van homself word.”
“En dit doen Chereé beslis vir my,” bevestig Wynand. “Sy gee my ruimte, sy kraak my nooit af nie en sy hou my op my tone met al die onverwagse goedjies wat sy vir my doen. Dit laat my dieselfde vir haar ook wil doen.”

Romanse is in die lug

Wynand en Cheree5 liefdesvrae aan Chereé en Wynand

1. Mees romantiese kos?
C: Sushi
W: Sushi (Chereé lag oor die antwoord: “Wynand het aan die begin geweier om saam met my sushi te eet. Nou is hy gek daaroor!”)

2. Mees romantiese liedjie?
C: After all van Brett James. Dis 'n moderne country song waaroor ek absoluut mal is. Die lirieke som my en Wynand se verhouding so perfek op.
W: Have you ever really loved a woman? van Bryan Adams

3. Mees romantiese plek in die wêreld?
C: Langebaan, maar spesifiek ons huis.
W: Die Bosveld is vir my 'n wonderlike plek waar jy romanties kan raak.

4. Mees romantiese fliek?
C: When a man loves a woman met Andy Garcia en Meg Ryan.
W: When Harry met Sally, ook met Meg Ryan.

5. Mees romantiese geskenk wat jou maat al vir jou gegee het?
C: Wynand het my verlede jaar verras met so 'n beeldjie van 'n vrou met haar arms oopgesprei en drie voëtjies op haar skouer. Dis deel van 'n reeks en hierdie een verteenwoordig HAPPINESS. Dis vir my baie spesiaal want dit is my woord vir my lewe! Ek wens almal en myself net geluk toe.
W: Chereé doen gereeld romantiese dinge vir my, maar dis die klein goedjies wat sy doen wat my so lief vir haar maak. As sy byvoorbeeld vir my kook lyk die bord kos altyd pragtig. Soms is die rys in 'n vorm van 'n hartjie. Nou die aand kry ek in die middel van my bord 'n klein stukkie hout waarop daar “I love you” geskryf staan. Dis baie romanties!

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend