|
Opsoek na 'n goeie boek om vir jou seun van so
tussen 8 en 13 jaar oud aan te skaf?
Dan is Vin die virusjagter, deur Jeanine
Henning, 'n baie goeie keuse!
Hoekom nou juis 'n seun? Wel, die meeste ma's is
voortdurend opsoek na geskikte boeke wat só
interessant is dat dit enige seun sal motiveer
om te lees – en daarin slaag Vin die
virusjagter beslis!
In dié boek leer jonger kinders op 'n speelse
manier van rekenaarwurms, Trojaanse perde,
poorte, hackers en dies meer. Met
natuurlik 'n goeie les oor moraliteit daarby
ingesluit.
Zack is 'n laerskoolseun in gr. 6 en 'n regte
klein pierewaaiertjie. Hy hou homself heeldag op
sy rekenaar besig waar hy na hartelus op die
internet kan surf, nuwe algoritmes skryf,
nuwe speletjies ontwikkel en ook om so 'n
bietjie hacking te doen – al weet hy baie
goed dit is teen die wet. Tot die dag dat hy vir
Vin Marko ontmoet. Hy verander na 'n "geheime
agent" – 'n aksieman wat die węreld moet beskerm
teen wurms, Trojane en V-doom wat alle
kommunikasiemiddele, en veral rekenaarspeletjies,
tot niet wil maak.
Henning slaag daarin om die andersins vaal en
onverstaanbare węreld binne die kubermatriks vir
jong kinders op 'n opwindende manier toeganklik
te maak.
Vin die virusjagter
is verder ook 'n baie spannende aksiestorie en
speurverhaal.
Die boek is wel 'n bietjie moeilik vir
voorlesing, aangesien die hoorder tred begin
verloor met lang dialoë waar geen aanduiding
gegee word van wie se woorde dit is nie. Die
uitkoms is voorspelbaar, maar die beskrywings
van die kubermatriks en die węreld binne die
speletjies sal vir enige seun interessant wees.
Die illustrasies is kleurryk en sal jou
verbeelding aangryp.
Vin die virusjagter,
deur Jeanine Henning, word deur Human & Rousseau
uitgegee.
ISBN: 9780798148832 |