|
Met Oros vir die Siel het Susan Coetzer dit reggekry om oorspronklike Afrikaanse geestelike fiksie op die map te sit. Duisende vroue getuig van die krag, hoop en inspirasie wat daaruit geput word. Vir sommige is dit lewensveranderend omdat dit op uitsonderlike manier en met soveel deernis die essensie van vrouwees raakvat. Dis daarom 'n voorreg om met die sprankelende en inspirerende skrywer van dié topverkoperroman te gesels.
Die titel ontketen dadelik herinneringe van kindwees. Die soet oranje voggies verteenwoordig geluk op die mees basiese vlak. Dis nie sjampanje, 'n mooi paar rooi skoene of enige ander duur regmaker nie. Dis net Oros.
"Ek het Oros gekies omdat dit 'n nederige boek is, 'n boek van genade," val Susan weg. "Oros is mos maar nederig." Die titel, in der waarheid die hele boek, is deur God vir haar gegee, sê sy voorts. Dit was 'n "higher assignment". Sy wou hê almal moes by die boek kan baat vind en dit moes elke persoon wat dit lees se menswees aanraak, maak nie saak van watter agtergrond hulle kom nie.
Vriendskap
Die tema van vriendskap is baie prominent in die boek. Die hoofkarakter Kyle het haar kleintydvriendin, Meisietjie – haar steunpilaar deur slegte verhoudings en dwelmverslawing; haar haarkappervriendin, Moira, wat haar probeer teruglei kerk toe en haar rykmansvriendin, Lize – die onwaarskynlike bondgenoot tussen die vyandige upperclass-vroue. Geen vrou kan tog sonder 'n vriendin deur die lewe gaan nie.
"Ja, dis baie moeilik om in isolasie deur die lewe te gaan. Alle mense het mos daardie hunkering na verhoudings. 'n Mens moet 'n hart van meelewe en genade hê. Ek oefen om dit in my eie lewe toe te pas, maar soms is dit moeilik. Ek lewe biddend en vra God gereeld om my daarmee te help."
Net soos Kyle het Susan ook vriende van verskeie agtergronde. "Ek sien myself as 'n brug-persoon. Ek is 'n kunstenaar, maar ook 'n gewone vrou met gewone probleme. Daarom kan ek met mense van oral oor die weg kom. Ek kan albei kante toe swaai. Ek is tuis met 'n kerkvrou én daardie vrou wat daarvan hou om so nou en dan 'n sigaret te rook en 'n wyntjie te drink. Ek dink in daardie opsig help my kreatiewe persoonlikheid my. Dis soos 'n geskenk van God wat my help om by almal aan te pas.
"Maar ek het vier staatmakervriendinne in Johannesburg. Hulle is nie my kleintydvriendinne nie, maar ons het gedeelde belangstellings en eienskappe. Tussen ons is daar hart en ware geloof. Ek kan hulle vertrou."
En dis iets wat alle vroue soek?
"Ja, in die vermaaklikheidsbedryf is daar baie valsheid en oppervlakkigheid, maar ek fokus nie daarop nie."
Die perfekte man
Susan, wat reeds haar droomman in Philip Moolman gekry het, is uitgesproke oor hoe jy te werk moet gaan om Meneer Reg te vind. Die soeke na 'n lewensmaat is na haar mening futiel as jy self nie éérs 'n heel mens is nie.
"Dit help nie jy soek iemand om jou heel te maak nie. Jy moet self heel wees."
Dit klink heel logies, tog is dit 'n fout wat so baie vroue maak. Hulle soek die prins op 'n wit perd wat hulle gaan kom red, maar dié oopkopvrou sê nee. Uit haar mond kry jy nie Jerry Maguire se "you complete me" nie. "Soek iemand wat reeds heel is. Of ten minste lus is om heel te word," gee Susan tong in die kies raad. "Let ook waarop sy oë gerig is: Is dit op die wêreld of is dit op God. Al twee partye moet vir God soek."
Natuurlik kan geen verhouding sonder kommunikasie oorleef nie. Dis die dryfveer vir enige verhouding waarin eerlike liefde seëvier. Die aangrypende uitbeelding van die "vreemdelingsdans" tussen die hoofkarakter, Kyle, en haar stilswyende man, Freek, plaas juis die soeklig op hierdie belangrike element van die huwelik. Met vandag se gejaagde lewenstyl, leef soveel paartjies verby mekaar en die dinge wat 'n man en vrou tot mekaar verbind is nêrens te vind nie.
"Dit is 'n uitdaging om daai intieme konneksie met jou man te behou. Jy moet dit die hele tyd soek. En om te luister! Dis die sleutel tot goeie kommunikasie," sê sy en vertel dan ook hoe sy self daarmee sukkel. Omdat sy deesdae 'n motiveringspreker is, en ook weens haar werk as aktrise, kom die praat-deel van kommunikasie maklik, maar om werklik te luister verg 'n bietjie meer werk, bieg sy.
Die hoenderboer
Die moderne vrou se grootste probleem is seker om vir alles tyd te kry. Susan self is aktrise, skilder, restaurateur, ma, vrou en nou ook skrywer. Waar vind sy tyd vir alles en hoe balanseer sy haar verskillende rolle?
"As jy voel jy is uit balans uit, moet jy jou 'authentic self' gaan soek. Ek voel ook partykeer die alarm in my kop afgaan om te sê: 'hokaai'. Dan gaan soek ek my hoenderboer-self – die vrou met die blom in die hare; die een wat bak en brou in die kombuis." Sy sien haarself dus as 'n baie aardse mens.
"Ek kry so baie geleenthede en 'n mens wil mos alles doen, maar deesdae moet ek vir myself sê: 'Een ding op 'n slag.'"
Makliker gesê as gedaan sal baie van ons protesteer. Susan en Phillip het wel 'n lekker wegkruipplek op Parys in die Vrystaat waarheen hulle vlug. Sy glo ook aan die krag van Bybel lees en bid. Om stil te word met God is vir haar 'n groot bron van krag.
En inspirasie? Dit vind sy by ware goddelike mense, iemand met 'n oop hart. "Met my Oros-ontbyte kom baie mense na my toe en vertel my hul storie. Hulle vertrou my met hul pyn en dis inspirerend. Dis een van die dinge wat my beweeg om te skryf."
Dis juis een so 'n geval wat haar volgende boek geïnspireer het. Die boek, wat sowat driekwart klaar geskryf is, is volgens Susan 'n verhoudingsboek. Dit handel oor die dinge wat jou aftrek en laat voel jy het nie meer 'n doel nie. Die hoofkarakter is 'n alledaagse vrou en ek en jy op die straat sal dus weer met haar kan identifiseer. Twee van die temas wat sy hierdie keer aanraak is affairs en om 'n aangenome kind te wees. Dié onderwerpe sal verseker dat die volgende boek net so gewild as Oros vir die Siel sal wees. Susan het die talent om met gevoelvolle akkuraatheid met die dinge van 'n vrou om te gaan. Sy is beslis geseënd omdat sy van die min skrywers is wat die moderne vrou en haar struggle so skerp raakvat.
Oros vir die siel kan aanlyn by www.carpediem.co.za bestel word.
Die volgende Oros vir die Siel-ontbyt vind op Saterdag 12 September by die Blou Hond-teaterrestaurant in Linden, Randburg plaas. Plekke is beperk, bepreek dus gou om teleurstelling te voorkom. Besoek www.blouhond.co.za vir meer inligting en besprekings.
Op Saterdag, 29 Augustus, tree Susan ook in die Pierneefteater in Pretoria op.
Vir besprekings, skakel 012 329 0709 of stuur 'n e-pos aan info@pierneefteater.co.za. Besoek ook www.pierneefteater.co.za.
Lees ook meer oor Susan Coetzer se nuutste boek, Die mooiste sonneblomme en daisies, in dié maand se uitgawe van jouwêrelden staan 'n kans om 'n kopie van die boek te wen.
jougeskenke
2 gelukkige lesers kan elk 'n dubbelkaartjie na Susan Coetzer se Oros vir die siel-aanbieding by die Pierneefteater in Pretoria, op 29 Augustus 2009 wen. Om vir dié prys in aanmerking te kom, SMS die woorde JW OROS, tesame met jou naam en e-posadres, aan 35570 voor 26 Augustus 2009.
SMS'e kos R3.00 elk.
|